Waaruit bestaan die Kedoefie-reeks?

Ek maak sagte babaskoentjies van egte leer. Dis baie gemaklik en gesond vir die ontwikkeling van klein voetjies. Ek maak ook, op aanvraag, kamaste, dasse en fopspeenknippies uit leer.

Hoe het die onderneming ontstaan?

Kedoefies het in 2013 ontstaan toe ons my oudste seuntjie, JG (nou 5), wou doop. Ek het vreeslik gesukkel om mooi, eenvoudige skoentjies in die hande te kry wat by sy uitrusting sou pas.

My man, Johannes (Jakkals), het destyds by die sakeonderneming KLK Landbou op Postmasburg gewerk en sy sekretaresse, tannie Elma de Waal, het vir hom ’n skoenpatroon gegee, waarmee ons Boeta se eerste skoentjies gemaak het vir die spesiale geleentheid.

My liefde vir dié skoene het gegroei en ek het met verskillende kleure en patrone begin speel. Ná elke probeerslag kon ek nie wag om die paar skoene om te dop om die eindresultaat te sien nie. Teen die einde van die jaar het ek ernstig begin met die onderneming nadat ek my patrone agtermekaar gekry het.

Ek koop die koedoe- en beesleer aan op Graaff-Reinet en ’n vriend van ons, Jan-Hendrik Loots, het my werk maklik gemaak deur ’n pers te bou waarmee ek my patrone kan uitdruk.

Waar is die skoene oral beskikbaar?

Dis te koop by ’n verskeidenheid padstalle op die N12 en N1, asook by babawinkels in Mosselbaai en Bloemfontein en in koffiewinkels op verskeie dorpies. Ek kry ook baie los bestellings wat my besig hou. Ek het redelik blootstelling gekry by feeste waar ek die skoene uitgestal het, soos Aardklop, Mamma Magic, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Gariepfees en die Kalahari-kuierfees.

Vosburg is nogal afgeleë. Hoe versprei jy jou produkte?

My ouers het ’n slagplaas op hul plaas sowat 12 km buite Vosburg. Daar is dus baie saamrygeleenthede. Maar, ja, soms is dit nogal ’n storie om die produkte vinnig by plekke te kry omdat ons in die hartjie van die Karoo woon. In hierdie omgewing help ons mekaar gelukkig almal as ons na ’n groot plek toe gaan.

En die naam Kedoefies? Waar kom jy daaraan?

Toe ek pasgetroud was, het ek by die KVB-koöperasie gewerk waar ek gedurig ’n diertjie vertroetel het. Op ’n keer was daar ’n klein dassie en een van die werkers, Louis de Lange, het voorgestel ek noem hom Kedoefie. Dit was vir my so ’n oulike naam, en toe ek op ’n naam vir my onderneming moes besluit, het ek gemeen dit pas perfek.

Tharina Pienaar

Wie help jou om die skoentjies te maak?

Ek is baie perfeksionisties en doen die meeste van die werk self. Dan weet ek die produk is reg, netjies en die allerbeste. Kaatjie help my egter met alles van huiswerk tot die skoene. Ek ken haar al vandat ek ’n klein dogtertjie was. Sy is hardwerkend en saam maak ons ’n mean team.

Hoe het jy die onderneming opgebou? Veral aan die begin, as dinge seker maar stadig gaan?

Dis lekker om iets te doen waarvan jy hou en om die eindresultaat te sien en te weet jy het dit self gemaak. Aanvanklik het ek saans tot laat gewerk en soggens weer vroeg-vroeg begin, maar vandag is ek nie spyt daaroor nie. My uithouvermoë en optimisme het my en Kedoefies gebring waar ek vandag is. Nou groei my onderneming elke jaar. Ek probeer dit eenvoudig hou, met nie te veel verskeidenheid nie, maar slegs met dit wat ek kan hanteer.

Wat is jou geheim tot sukses?

As jou produk netjies en topklas is, kan jy nie verkeerd gaan nie. Elke skoentjie word met liefde en moeite gemaak. Dis eenvoudig, maar ’n eg handgemaakte produk uit leer.

Watter lesse het jy al geleer sedert jy jou eie onderneming bedryf?

Moenie oorhaastige besluite neem as jy nie heeltemal seker is wat die beste gaan wees nie.

Watter raad het jy vir ander sakevroue?

Met God is alles moontlik. Vertrou en moet nooit moed opgee nie.

Wat hou die toekoms in vir Kedoefies?

My kinders is nog klein en ek wil graag die tyd saam met hulle by die huis geniet voor hulle skool toe gaan. Die onderneming is dus hanteerbaar vir my huidige omstandighede. Oor twee jaar, wanneer die kinders in die skool is, sal ek dit beslis wil uitbrei. Ek het ’n nuwe reeks skoentjies wat ek wil bekend stel, maar ek moet nog die groottes uitwerk en beproef.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.