bayer-bokblad

Wanneer ek deesdae met iemand praat, is dit amper altyd op die luidspreker van my plaasbakkie. My Beefmaster-stoetery is in die Waterberge. Sedert 2000 loop my wildboerdery sterk, en my pekanneute is pas gevestig. Ek is ook geseënd om heeltyds betrokke te wees in die wenspan van André Kock & Seun Limpopo. Bakkies Boerewors is nóg ’n hartsprojek.

Die wildboerdery is op ’n kosbare manier ’n verlengstuk van my verhouding met Heyneke Meyer. My wild het die vlammetjie by hom aan die brand gesteek, en hy’t self mooi buffels en saalrugblesbokke. Danksy hierdie gemeenskaplike passie gesels ons gereeld. Vir iemand wat so ’n groot inspraak op my lewe gehad het, hoop ek my raad oor wild dien as ’n dankie in die kleine.

Seker 99,9% van rugbyspelers sal sê hul ouers het die grootste invloed op hul loopbaan gehad. Ek ontken nie daardie ondersteuningsrol nie, maar elke suksesvolle speler het minstens een afrigter wat onwrikbaar in jou geglo het. Vir my was dit Heyneke.

Hy het my in 2000 as ’n tingerige flankie by die Valke loop haal. Slot was nie my posisie nie; ek het skaars 90 kg geweeg. Victor Matfield, wat Heyneke in Kimberley gaan haal het, was die stewige jong slot. Ons het hom the field-prop genoem – swaar genoeg vir stut, maar só beweeglik dat hy die veld vol kon speel.

Heyneke het ons nie op ons liggaamsbou beoordeel nie, maar op geaardheid. Hy’t gesien ek is nie vreeslik lief vir huiswerk nie, maar kliphard, en dat Victor teenstanders met intellek fnuik. Daarom het Heyneke ons twee saamgegooi – elkeen met ’n duidelike portefeulje daarop gemik om die Bulle ’n franchise te maak wat wêreldwyd agting afdwing. Victor word toe die lenige slot en ek die enforcer wat teenstanders met robuuste spel oorweldig.

Ek is vas oortuig 70% van die spelers wat Heyneke uit die uithoeke van Suid-Afrika gewerf het, sou nie loopbane as spelers van wêreldgehalte gehad het as dit nie vir Heyneke was nie.

Ek en Victor het nie oornag gekliek nie. Dit het jare se saamsweet geverg, maar Heyneke het reeds in 2000 die potensiaal raakgesien. Toe ek by die Bulle aansluit, was Victor in Harry Viljoen se Bok-groep. Ons het aanvanklik min saamgespeel, maar die visie vir ons was reeds gevestig: Victor, die meesterbrein, en ek, die rowwe slotmaat wat ’n opdrag kan uitvoer.

Ons verhouding het die punt bereik waar hy nie meer lynstaantekens geroep het nie. Ek het na sy lyftaal gekyk. By die Bulle en Bokke was ons beste lynstaanteken mettertyd “hou vir Victor dop”. Heyneke het die visie gehad om dié uiteenlopende geaardhede tot ’n gedugte eenheid saam te snoer. Daarvoor gooi ek nog gereeld ’n vleisie op die kole.