bayer-bokblad

As ’n sportman heelwat sukses behaal, twyfel hy mettertyd of die lewe enigsins beter kan raak. Maar die lewe het ’n manier om jou gereeld aan die groter prentjie en jou eie nietigheid te herinner. Die 1995-Wêreldbekerbokke is besonder geheg aan mekaar. Ons verwerk nog die dood van James Small, en toe kry ons laatmiddag die tyding dat Chessie ook weg is; dat ons bossie verder uitgekap is.

Dit bring soveel dinge in perspektief. Morné du Plessis het ná die eindstryd in 1995 gesê ons word nou volksbesit. Jy besef eers later dit behels ’n baie groter verantwoordelikheid as ’n eer – om volksbesit te wees, beteken eerder om van jouself te gee as om van jouself bewus te wees. Die dood van Ruben Kruger, Joost van der Westhuizen, James en Chessie . . . dit vat aan ’n mens.

Ek staan eerbiedig teenoor die Springbokbaadjie, en tot drie jaar gelede het ek my lewe daaraan gewy om terug te gee aan rugby. Vir twee jaar nadat ek uitgetree het, het ek onder Laurie Mains by die Leeus afgerig. Daarna is ek vir vier jaar Nieu-Seeland toe om verder onder Mains en Robbie Deans te leer. Die blywende indruk van dié tyd is die manier waarop die Kiwi’s my laat voel het soos iemand wat saak maak; wat ’n bydrae kan lewer.

Terug in Suid-Afrika het ek by die Leeus en die Haaie afgerig, en toe was ek vir 12 jaar by SA Rugby, waar ek met die blasers gewerk het. Later het ek by Sanzar en Wêreldrugby ’n soortgelyke rol vertolk. Daar kom toe ’n dag waarop ek myself afvra wat ek nog kan doen om individue se lewens te verryk. Dinge woel hier binne my as ek een tot een met mense werk.

Hier staan ek vandag as ’n bloubessieboer – die man wat 12 jaar lank vir mense gesê het wat reg en verkeerd is, is nou die een wat vrae moet vra en luister. Veral die landbou het die manier om ’n mens nederig te hou. Op die plaas besef jy een ding maar alte goed – die siklus hier word deur die Man daar Bo bepaal.

Ons het 42 heeltydse werkers, nóg 200 in die pluktyd, en gesinne wat al drie geslagte lank hier is en vir wie ons kos op die tafel en hoop in die lewe wil bied. Dis ’n enorme taak. Onlangs het die winde só erg gestoot dat ons in die middernagtelike ure ons 250 000 plantjies regop probeer hou het. Nes jy een regop sit, waai ’n volgende een om, en dan huil jy soos ’n babatjie.

Jou plante kry seer, en jy raak bewus van die mens se beperkte vermoë om die wêreld alleen aan die draai te hou. Toe breek hier twee wárm dae aan, en die bessies roep om gepluk te word – skakerings van blou en pers so ver jy kyk. ’n Stewige oes. As dít nie genade is nie, weet ek nie. Wat ek wel kan sê, is dat ons geseënd is. Om hierdie besef te hê, laat ’n mens verstaan waaroor die lewe werklik gaan – genade en om vir mekaar goed te wees.