Met sy wit nek en bors is die lelkraanvoël duidelik onderskeibaar van die bloukraanvoël en die mahem, die twee ander kraanvoëlsoorte wat in Suid-Afrika voorkom. Die kaal vel op die gesig en die kenmerkende lelle is ook uniek. Nes by die blou- kraanvoël is die verlengde binnevlerkvere aansienlik langer as die stert en hang byna op die grond.

Lelkraanvoëls is omnivore en vreet bolle, grassade, slakke, vis en paddas. Dié kraanvoëls kom van Tanzanië, deur Mosambiek, Zambië, Swaziland, Suid-Afrika, Zimbabwe, Botswana en Angola voor. Die hoogste konsentrasie van die voëls kom in die Okavango-delta in Botswana voor, maar meer as die helfte van die voëls word in Zambië aangetref.

Uit ’n geskatte totaal van 7 500 lelkraanvoëls in Suider-Afrika kom 5 000 in Zambië voor. In Suid-Afrika word die totale bevolking tans op slegs 240 voëls geraam; daarom word hul status as “kritiek bedreig” geklassifiseer. In die res van Afrika word hulle as “kwesbaar” beskryf.

Ongeveer 85% van Suid-Afrikaanse lelkraanvoëls kom in KwaZulu-Natal voor en dit is noodsaaklik om dié streek se vleilande sinvol te bewaar.

Gespesialiseerde habitat

Die voëls is – nes die mens – afhanklik van vleilande. Hulle verkies vlak oorstroomde vleilande met kort, groeiende plantegroei daarom. Dit is ’n hoogs gespesialiseerde habitattipe wat duidelik iets sê oor dié kraanvoëls se kwesbaarheid. Die verandering van natuurlike landskappe kan sommige soorte soms bevoordeel omdat dit hul verspreidingswydte en getalle kan verhoog.

Nuwe bosbouplantasies en die verspreiding van uitheemse plantegroei het byvoorbeeld daartoe gelei dat die swartsperwer nou in baie areas voorkom waar dit nie voorheen was nie. Vir voëlsoorte met spesifieke habitatvereistes is die teendeel egter waar en kan die transformasie van landskappe bevolkingsgetalle ernstig knou.

Grasvelde en vleilande is van die mees bedreigde habitatte in Suid-Afrika.

Studies toon aan dat lelkraanvoëlpare ’n groot gebied van 16 km² benut.

So ’n gebied bestaan hoofsaaklik uit grasveld, wat ’n kern van vleilande omring. Die eerste lelkraanvoël wat aan die wetenskap beskryf is, is by Soetendalsvlei by Kaap Agulhas geoes.

Die transformasie van dié landskap het veroorsaak dat die lelkraanvoël heeltemal uit die Wes-Kaap verdwyn het. Hierdie neiging word deur die hele Suid-Afrika gesien weens die verandering, vernietiging en fragmentering van vleilandhabitatte deur mynbou, bosbou, die aanplant van landbougewasse, oorbeweiding en die opdam van vleie.

Verdere bedreigings sluit vergiftiging en botsings met kragdrade in. Intensiewe navorsing word tans onderneem om oplossings daarvoor te vind.

Bestuursplanne

Die vleilande waarvan die lelkraanvoël afhanklik is om in te broei en te vreet, behoort meer formele beskerming te geniet om die toekoms van die voëls te probeer verseker. Boere en landbouverenigings kan met die toepaslike bewaringsorganisasies saamwerk.

Die Internasionale Kraanvoëlstigting en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe bestudeer en monitor die status van die lelkraanvoël in Suid-Afrika deurlopend. Navorsing toon dat die lelkraanvoël as ’n vlagskipsoort beskou kan word om die bewaring van vleilandhabitatte te evalueer.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se kraanvoëlwerkgroep probeer om by ’n aantal geïdentifiseerde terreine (soos die groter Lakenvleigebied tussen Dullstroom en Belfast) volhoubare betuursbeginsels te ontwikkel om bedreigings vir die kraanvoëls te verminder. Hulle werk met gemeenskappe saam tot voordeel van die voëls én die mense.

Ongelukkig bestaan daar ook ’n mark om wilde kraanvoëls mak te maak en as troeteldiere aan te hou. Die trust probeer dié praktyk finaal die nek inslaan. Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.