Langebaan se gholfbaan is mooi, veral tydens die Weskus se blommetyd in Augustus en September. Dan sukkel jy om enige kleur bal te vind op die tapyt van wit, geel, pienk en oranje blommetjies.

Naas die blomme is Langebaan ook bekend vir wind (dis eintlik wêreldbekend onder vlieërplankryers). Die wind skep die indruk dat die baan taamlik lank speel, al is dit net 6 070 m vanaf die klubbowwe af.

Die syfer vyfs is egter taamlik kort. Bill Kerr het die oorspronklike uitleg gedoen, maar om finansiële probleme die hoof te bied, het die Langebaan Country Estate tot stand gekom as ’n Black Knight-ontwikkeling.

Gary Player se hand is nou duidelik te sien, veral in die aantal sandkuile wat met sand en gebreekte skulpe gevul is. Die setperke is groot met breë some, wat dit moeilik maak om afstand te skat. Taai, soutverdraagsame Paspalum-gras is ook iets om mee rekening te hou op die setperke.

In die blommetyd sukkel jy om enige kleur bal te vind op die tapyt van wit, geel, pienk en oranje blommetjies.

Akkurate bofhoue is belangrik op die tweede nege, waar die buiteperke-grens taamlik naby lê (dis nogal baie gevra as die wind waai). Die eerste putjie (’n syfer vier van 358 m) is veral moeilik omdat die wind reg van voor waai en dit effens bult op is.

IETWAT MOEILIK

Die terrein is voorts baie plat, maar die ontwerpers het seker gemaak daar is ’n bietjie hoogte op nommers ses en sewe. Nommer ses is ’n opdraande syfer 3 van 145 m, met die graniet-rotsformasies agter die setperk wat kenmerkend is. Nommer sewe, ’n lang syfer 4, word weer afdraand gespeel, en bied ’n pragtige uitsig oor die baai.

Die laaste putjie, ’n kort syfer vyf, vra vir dinkwerk op die bof. Jy kan ’n voëltjie behaal, maar ook lelik gestraf word. Langebaan is ongeveer 90 minute se ry uit die Kaapstadse middestad, en sowat ’n uur van Melkbosstrand af.

Navrae: Golfbaan se klubhuis, 022 772 2117

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.