Jakkals en Wolf maak reg om veld toe te gaan. Só ’n jagtog was daar nog nooit gewees nie. Wolf het spesiaal vir hom ’n ekstra boog en ’n halfdosyn splinternuwe pyle gemaak, maar Jakkals se pyle is stomp en gebuig, en in plaas van ’n ordentlike boogsnaar, gebruik hy ’n stuk ou blesbokriem.

“Nee, genade,” sê Wolf, “só sal jy niks geskiet kry nie.” Sommer een-twee-drie het hy die pyle reguit gebuig oor ’n koolvuur, en waar nodig sit hy vars vere en punte aan. Die boog kry ook ’n behoorlike seningsnaar.

“Dankie, broer Wolf,” sê Jakkals, wat die spulletjie sit en bekyk het sonder om ’n poot te lig. “Ek weet nie wat ek sonder jou sou gemaak het nie. Jy is regtig ’n ou doring.”

“Niks te danke nie, broer Jakkals,” sê Wolf, in sy skik oor hy so geprys word, “dis ’n plesier.” Toe kry die twee hul bladsakke en skietgoed bymekaar en begin aanstap na die jagveld.

Daar gekom, soek Wolf sy prooi versigtig uit en skiet vir hom ’n moddervet jong eland, maar Jakkals is oorhaastig en die elandbul wat hy plattrek, is horingoud en taai. Wolf sien nie eens wat aan die gang is nie, want hy is te bly oor die geluk wat hom getref het, maar Jakkals het klaar ’n plan.

Vinnig sny hy sy bok se harslag uit en los die res van die vleis net so dat die aasdiere dit kan kom verorber. Dan stap hy na Wolf toe, maar hou sy harslag eenkant sodat Wolf nie kan sien hoe bleek en smaakloos dit lyk nie, vat die mooi harslag wat Wolf uitgehaal het en sê: “Slag solank klaar.

Ek vat gou hierdie harslagte vir ons vroue dat hulle en die kinders nie kan sê ons sorg nie vir hulle nie.” “Dis vriendelik van jou,” sê Wolf. “Nee, so moet dit mos wees. Die een kalant was die ander se hand,” sê Jakkals en draf weg.

Jakkals se sluwe plan

Eers gaan hy by sy eie huis aan, roep sy vrou en kinders bymekaar en sê vir hulle: “Vat hierdie vet harslag en gaan dadelik Toringkrans toe. Wag daar tot julle Wolf van die jagveld sien verbykom.

Hardloop dan so vinnig as wat julle kan na die ou murasie onder op die vlakte, en kom help my die vleis aandra.” Hulle maak so terwyl Jakkals na Wolf se huis toe draf.

Hy pluk die agterdeur oop, smyt sy eie ou droë harslag voor Vrou Wolf se voete neer en sê astrant: “Dè, vat so. Jou man is te sleg om te jag, toe sny hy hierdie harslag uit ’n dooie eland wat hy in die veld gekry het, en nou moet ek dit nog agter jou aandra ook.”

Vrou Wolf is in trane van woede en hartseer, en die kleintjies tjank, maar Jakkals is al weer weg. Hy vee die bloed van die harslagte waarmee sy voorpote besmeer is, aan sy gesig af, krap ’n paar hale met ’n pendoring oor sy neus, en toe is hy reg vir Wolf.

Die slagtery is klaar en Wolf het die vleis net mooi netjies aan ’n doringboom se takke opgehang toe Jakkals daar aankom. Wolf kyk, en hy kyk weer. “Aarde, broer Jakkals,” sê hy, “wat het jou oorgekom?”

“Ai tog, broer Wolf,” sê Jakkals met ’n snik in sy stem, “ek voel te aardig om jou te vertel, want jy kan dink ek skinder, maar dis jou vrou se werk.”

“Hoe so?” vra Wolf, dadelik vies. “Nee, toe ek die harslag vir haar gee met jou komplimente, sê sy: ‘Is dit al wat daardie vrotsige man vir sy gesin stuur? Maak dat jy wegkom onder my oë uit!’

Toe gryp sy die vuuryster en slaan my byna katswink, want ’n man kan mos nie ’n vroumens te lyf gaan nie, en ek moes dit maar verduur.”

“Daardie vrou van my kan lelik astrant raak as sy die dag lus het,” sê Wolf, nou erg ontstoke. “Braai solank vir jou ’n lekker ribbetjie oor die kole, ek gaan net gou by die huis regmaak wat verkeerd is.”

Toe Wolf oor die vlakte aankom, hou Vrou Jakkals en haar kinders hom van Toringkrans af dop en sak dan dadelik af om Jakkals te gaan help. Elkeen kry ’n yslike hoop vleis wat sy bene onder hom laat swik, maar hulle kla nie, en daar bly nie ’n krieseltjie van Wolf se harde werk oor nie.

Toringkrans is ’n hoë klipvinger wat bo die vlakte uitsteek. Daar is net een nou paadjie boontoe tot by ’n gelyktetjie net onderkant die kruin.

Dis hier waarheen Jakkals en sy span met die vleis loop, en nadat hulle genoeg brandhout en drinkwater aangedra het, help Vrou Jakkals haar man om die paadjie met groot rotsblokke toe te rol sodat g’n sterfling daar kan deur nie.

Nou kan die fees begin. Daar word vuur gemaak en vleis gebraai vir ’n aardigheid, en Jakkals is nie suinig om aan die kleinspan uit te deel nie, want hy het dit maklik genoeg in die hande gekry.

Wolf (weer) tweede

Nie te lank nie of Wolf stap weer op die vlakte verby, en nou is dit hy wat gehawend lyk, want hy het regtig onder die vuuryster deurgeloop. “Haai, broer Wolf,” roep Jakkals bo uit die hoogte, “hoekom trap jy so eina-eina op die aarde?” Wolf gaan staan.

“Vrou Wolf is moeilik,” sê hy, “en die storie wat jy my vertel het en die een wat sy op my baadjie uitgespel het, is nie dieselfde nie.” “Jy het darem seker al geleer jy kan eerder jou vriende as jou vrou vertrou,” sê Jakkals.

“Maar wil jy nie ’n stukkie braaivleis saam met ons kom peusel nie?” “Graag,” sê Wolf, want hy kry die snuf in sy neus, en sy mond water. “Nou kom dan op,” sê Jakkals.

Wolf durf die smal paadjie boontoe aan, maar nie te ver nie, of die rotsblokke keer hom voor. Hoe hy ook al steun en beur, hy kan hulle nie wegrol of bo-oor klouter nie.

“Nee, broer Jakkals,” sê hy, “hier loop my pad dood.” “Moenie so gou moed opgee nie, broer Wolf,” sê Jakkals. “Kom staan onder die krans, dan hys ek jou boontoe.”

Jakkals vat ’n rol voos rouriem wat daar eenkant lê, gooi die een punt oor die rand van die krans af ondertoe en roep: “Bind die riem om jou voorpote vas, broer Wolf, dan trek ons.”

Wolf maak so en roep terug: “Trek!” Jakkals en sy gesin hang aan die riem, maar toe Wolf halfpad boontoe is, breek dit en hy tuimel af aarde toe.

“Ai, dis nou ’n jammerte,” sê Jakkals. “Wag, ek las die riem net gou, dan probeer ons weer.” Dié keer hou die riem ’n bietjie langer, en Wolf val van nóg hoër af.

“Nee, broer Jakkals,” sê Wolf toe hy weer op die been kom, “so hard het ek nog nooit vir ’n stukkie kos gewerk nie.” “Hou net moed,” sê Jakkals. “Alle goeie dinge kom langsaam.” Nou trek Jakkals-hulle versigtiger, en Wolf vorder tot onder die rand van die gelyktetjie.

Toe die riem nog nie wil breek nie, vat Jakkals sy jagmes en sny dit met een haal morsaf terwyl hy sing: “Bollemakiesie en rondomtalie, soutvleis in die pekelbalie!” Soos ’n vlermuis sonder vlerke stort Wolf na onder en plant sy baken dat die stof so staan.

“Oe, toggie! Ai, toggie! Nee, toggie! Ja, toggie! Eina, toggie! Dis seer, toggie!” kerm Wolf. “Dankie vir jou probeerslag, maar nee dankie, ek gaan nie weer nie.”

“Ek stem saam,” sê Jakkals vroom. “Hierdie riem is soos ’n slagyster wat ’n man onverhoeds betrap.”

Jakkals en Wolf deur Pieter W. Grobbelaar en Séan Verster. Uitgewer: Human & Rousseau.

Prys: R240.