Saadjie en Spikkel

- Deur Alex Latimer en David Litchfield

- Uitgewer: Human & Rousseau

- Prys: R175

Saadjie en Spikkel is beste maatjies wat alles saam-doen. Hulle is soos vinkel en koljander. Maar dan raak hulle groter en verandering tree in. Saadjie ontwikkel ’n worteltjie en ’n rankie en Spikkel ontdek sy het vere waarmee sy die wye wêreld kan gaan verken.

Die lewe skei dié twee onafskeidbare vriende vir ’n rukkie, maar uiteindelik seëvier vriendskap en vind hulle weer hul pad na mekaar toe. Spikkel bou haar nessie in Saadjie se takke en die twee woon vir altyd saam.

Suidoosterdraak

Suidoosterdraak

- Deur Dianne Hofmeyr en Carol Thompson

- Uitgewer: Lapa

- Prys: R135

Die wind pluk aan die voordeur en die reën ploeps teen die ruit toe Oupa besluit dis ’n goeie tyd om suidoosterdrake saam met sy kleinkind te gaan jag. Die twee trotseer die gure weer met groot bravade en vind draakvoetspore, draakjuwele en selfs ’n draakbaba.

Hulle neem ’n seerowerboot oor en ruik die suidoosterdraak se souterige asem, maar wanneer die draak hulle begin jaag, is hulle skielik nie meer so dapper nie. Dié boek wys jou op watter avonture jou verbeelding jou kan neem.

Moet nooit vir ’n T-Rex ’n boek wys nie

Moet nooit vir ’n T-Rex ’n boek wys nie

- Deur Rashmi Sirdeshpande. Vertaal deur Jaco Jacobs

- Uitgewer: Human & Rousseau

- Prys: R150

Moet nooit vir ’n T-Rex ’n boek wys nie, want hy sal nie weet wat om daarmee te doen nie. Maar as jy hom leer lees, gaan jy ’n wêreld van probleme vir jouself skep.

Jy sal hope – en ek bedoel hope – boeke skelm by die biblioteek moet uitneem, jy sal deur die nag vir dié dinosourus moet voorlees en dan gaan hy skielik meer wil wees as net ’n dinosourus.

Dalk ’n kunstenaar, ’n ruimtevaarder of selfs die president! Dink net wat dán in die land gaan gebeur? Gelukkig kan jy jou dit alles net verbeel en môre weer aan iets anders dink om oor te dagdroom!

Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste speletjie op aarde

Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste speletjie op aarde

- Deur De Wet Hugo

- Uitgewer: Human & Rousseau

- Prys: R145

Wanneer Gretha haar stiefsussie se sprokiesboek vernietig, bevind sy en Hannes, haar beste vriend, hulle in die koninkryk van Fantastorië.

Hier moet hulle met kabouter Kabous se hulp groot gevaar trotseer om vyf legkaartstukke op te spoor sodat die towerspieël hulle sal toelaat om huiswaarts te keer.

Die leser kry telkens self kans om te besluit wat volgende moet gebeur, wat tot verskillende eindes vir dié naelbyt-avontuur lei.

Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika (1-4)

Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika (1-4)

- Deur Wendy Maartens

- Uitgewer: Lapa

- Prys: R125 elk

Van Ingrid Jonker tot Thuli Madonsela, Caster Semenya, Esther Mahlangu en Suna Venter – in hierdie reeks kry inspirerende vroue van Suid-Afrika erkenning.

Die vier boekies vertel die verhale van twaalf bekende of meer onbesonge vroue wat deur die jare hul stempel op hul gebied afgedruk het en as groot inspirasie dien.

Dit is wonderlik dat jong lesers sommer vroeg al met dié formidabele vroue te doen kry, want hulle sal ’n lewenslange indruk laat. Die boeke is individueel of as ’n gesamentlike pak beskikbaar.