Twee jaar gelede het hulle die suksesvolle reis, vol avontuur en adrenalien, aangepak. Ongelukkig het dit op ’n tragiese noot geëindig het toe haar pa, Des, wat deel was van die ondersteuningspan, in ’n vliegtuigongeluk in Tanzanië gesterf het.

Die bekende TV-nuusleser en -joernalis Daniëlla van Heerden het onlangs ’n jeugboek oor Megan se inspirerende verhaal geskryf.

As joernalis kom jy daagliks met inspirerende stories en mense in aanraking. Waarom het juis Megan Werner se verhaar jou aangespoor om’n boek te skryf?

Miemie du Plessis van Pan Macmillan het my genader om Megan se verhaal in ’n storie vir jong volwassenes te omskep. Ek het nie twee keer gedink voor ek ingestem het nie. Ek het reeds geweet van Megan en die U-Dream-projek en het hul storie met groot belangstelling in die media gevolg.

As joernalis is my gunsteling-nuusstories juis dié oor mense wat grense uitdaag, wat waag en inspireer. As veldverslaggewer vir eNuus het ek al talle insetsels gedoen oor jong mense, veral meisies en vroue, wat ongelooflike dinge bereik het – hetsy om te leer vlieg, in resieskarre rond te jaag of teen- boelie-veldtogte van stapel te stuur.

Ek het eerstehands ervaar watter impak dit op jong kykers en lesers kan hê wanneer hulle sien dat iemand van hul portuur (soos Megan en die U-Dream-span) die skynbaar onmoontlike vermag. Dan glo hulle hul eie drome is óók geldig en binne bereik.

Op 35-jarige ouderdom lees jy steeds graag jeugboeke. Waarom?

Jeugboeke kan ’n reuse-impak hê op kinder- of tienerlesers. Dit is belangrik om vir daardie ouderdomsgroep stories te gee wat hulle opgewonde maak, inspireer en fassineer. Ek onthou nog hoe ek as 13-jarige biblioteekboeke verslind het!

As jy droom is ’n jeugboek, maar daar is geen rede waarom volwassenes dit nie ook sal geniet nie. Boonop is narratiewe nie-fiksie vir my, as joernalis, ’n heerlike genre om in te werk. Ek kon die basiese gebeure van Megan en die span se avontuur as raamwerk en inspirasie gebruik, en dit met my eie dialoog inkleur.

Het die inperking jou gehelp om die boek vinniger te skryf, of het dit eintlik uitdagings gebring?

My dogtertjie, Simoné, is op 25 Maart 2020 gebore. Om middernag daardie aand het die heel eerste inperking in werking getree. My kraamverlof was dus tydens die eerste vier maande van die inperking, en die boek se spertyd was aan die einde van my kraamverlof.

Voor Covid-19 ’n werklikheid was, het ek ewe idealisties gedink ek gaan my baba by iemand los en dan iewers gaan sit en skryf. Maar toe is byna elke winkel vir minstens ’n paar weke gesluit en ek kon nêrens heen gaan nie en niemand kon na ons kom om te help nie. Ek moes dus skryf wanneer baba slaap – soms in die middel van die nag (so much for sleep when the baby sleeps). My man, Cornél, het genadiglik baie gehelp en later het familie ook hand bygesit tot die inperkingsmaatreëls effens verslap is.

Wat het Megan Werner jou geleer wat jy graag vir Simoné wil leer?

Moet jou nie laat afskrik deur die grootsheid van jou drome en planne nie, maar besef ook dit gaan nie in jou skoot val nie. Jy moet hard werk daarvoor. Moenie dink iets is onmoontlik net omdat dit nog nooit gedoen is nie. Omring jou met mense wat in jou glo en jou ondersteun. En staan weer op en leef voluit, selfs ná ’n tragedie.

Wat is jou wens vir jong mense, ook in die lig van die pandemie wêreldwyd wat kinders op ’n geestelike en emosionele vlak raak?

Moenie toelaat dat jou omstandighede, agtergrond of uitdagings jou definieer nie. Besluit self wie en wat jy is en wil wees, en werk om dit te bereik.

Wat die pandemie betref, gebruik hierdie vreemde tyd met al sy uitdagings om emosioneel selfs sterker te word, maar moenie bang wees om hulp te vra en uit te reik as dit nodig is nie.

As jy droom deur Daniëlla van Heerden en Megan Werner. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R180.