Waarom interesseer die name van plekke julle?

Ons belangstelling is reeds op universiteit geprikkel, maar spesifiek plekname het eers later in ons werk, wat oor meer as 40 jaar strek, ter sprake gekom. Dit is voorbeelde van taal- en kulturele tekens wat dikwels ’n sekere oorsprong het.

Dit kan verwys na die historiese gebeure wat by die plekke afgespeel het, of lig een of ander geografiese kenmerk uit.

Sedert 2006 het ons begin konsentreer op die herkoms van plekname uit nóg ouer lae van die land se tale, soos die opgetekende San- oftewel Khoikhoi-tale. Baie van die inheemse plekname is eintlik van San-tale afgelei en selfs Afrikaanse plekname is dikwels vertalings daarvan.

Ons het baie nuwe inligting bekom en verdere studies gedoen. Heelwat van dié inligting is vervat in die pleknameboek.

Watter plekname het veral ’n interessante herkoms?

Ons het agtergekom Afrikaanse plekname, soos Duiwelspiek, Genadeberg, Toorberg, Towerfontein, Theewaterskloof, Vaalrivier of Blyderivier, het eintlik heel ander herkomsstories as wat aanvanklik opgeteken is. Ons moes bronne uit die vroegste tye raadpleeg (soos Dorothea Bleek se woordeboeke oor die Santale).

Die name bestaan al lank, maar die spelwyse is aangepas of vervorm weens die eerste pogings om die name op te teken uit tale waarvoor daar nog nie skrifstelsels bestaan het nie.

Daaruit het herinterpretasies, legendes en verklarings gevolg. Stories oor die herkoms van sommige plekname het ons met verwondering gevul, veral omdat soveel plekname nog teruggevoer kan word na die ouer San- of Khoitale.

Plekname is dikwels gesien en verklaar as Afrikaans, maar ons navorsing het gewys dat baie van dié name vertalings van die oorspronklike is. Kookhuis verwys in der waarheid na “de Roode Wal”, Sariesaam beteken eintlik “stofbors” en die “Thee-” van Theewaterskloof is afgelei van San-woorde wat na “lopende water” verwys.

Is dit moeilik om inligting oor die herkoms van name in die hande te kry?

In die beginjare – voor Google – moes ons inligting uit alle moontlike bronne opdiep en daardeur sif – dinge soos plase se titelaktes en dorpe se proklamasies. Publikasies oor dorpsgeskiedenisse, asook jubileum- en kerkblaaie het ons baie gehelp.

Tydens ons veldwerk het ons ook baie onderhoude gevoer. Ons het landkaarte en vraelyste by die kantoor van opmetings en kartering bekom, asook die notules van die Nasionale Pleknamekomitee en die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name.

Ons het ook inligting bekom van die poswese se veldtog om ’n paar duisend nuwe poskantore met goedgekeurde name te vestig. Natuurlik moes ons alle inligting, waar moontlik, verifieer voor ons dit in die boek kon insluit.

Waar in Suid-Afrika kuier julle graag?

Danksy ons werk by die Verenigde Nasies se groep deskundiges oor geografiese name het ons wyd deur die wêreld gereis, maar ons kuier graag op Bloemfontein (ons is navorsingsgenote aan Kovsies) en Clarens, waar ons die afgelope dekade gereeld internasionale simposiums gehou het.

Ons harte sal egter ook altyd gebind wees aan sekere onvergeetlike plekke in die Wes- en Oos-Kaap, die KwaZulu-Natalse Middelland en die Drakens- en Waterberge.