Een van die beste geskenke wat jy vir ’n kind kan gee, is om ’n liefde vir lees te kweek. Met die regte boekies sal jy sommer gou die belangstelling aanwakker.

ClemenGold Family Fun Activity Book. Uitgewer: ClemenGold. Prys: Gratis.

Die koronaviruspandemie het ons almal oornag in ’n “nuwe normaal” gedompel – ons bak brood, bestee meer tyd tuis en skenk aandag aan gesonde eet- en leefgewoontes. ClemenGold, die bekende sitrushandelsmerk, het besef dit is nie aldag ’n maklike taak om die kleintjies besig te hou terwyl ouers tuis werk nie. Hulle het dus ’n oulike (en gratis!) e-boekie saamgestel om gesinne te help om die tyd op ’n prettige, maar opbouende manier om te kry.

Die boekie het verskeie afdelings. Maak van sop tot ysies en malvalekkerkoekies met ’n sitrusgeur met die hulp van die resepte in die eerste afdeling. Die inkleur- en ander bedrywighede hou klein vingertjies besig. Daar is idees om kos, soos lemoenskyfies en rooibostee, in te span vir die kreatiewe projekte en lekker kopkrappers om die breinaktiwiteit ’n hupstoot te gee. Verleen ’n tikkie geur aan jou lewe met die planne om sout, dekoratiewe kranse en lyfskrop met sitrusgeure op te kikker.

Mnr. Marius du Plessis van ClemenGold sê vanweë die pandemie kan hulle nie meer sitrusproeë in winkels aanbied nie, maar deur dié boekie het hulle ’n nuwe manier gevind om met hul klante te kommunikeer.

Die kleurryke boekie met eenvoudige uitleg is maklik om af te laai en tuis te druk. Besoek www.clemengold.com vir jou eksemplaar.

Hoephoepieland – tien omgeestories met hart. Deur Ronél van der Watt. Uitgewer: Naledi. Prys: R140.

Hoephoepieland – tien omgeestories met hart. Deur Ronél van der Watt. Uitgewer: Naledi. Prys: R140.

Met dié spesiale kinderboek deur die kindersielkundige Ronél van der Watt kan jy jou kinders van jongs af leer om gevoelig teenoor ander se omstandighede te wees en om moeilike situasies die hoof te bied. Elke storie in dié bundel gaan oor ’n ander kind in juffrou Ansie se klas by Hoephoepieland. Elkeen van die kinders het ’n eie storie, of dit nou oor vreemdelingehaat, gesinsgeweld of mediese toestande gaan.

Daar is ook kinders wie se gesinne verskillend lyk (aanneming of ’n afwesige pa). Elke storie takel ’n gewigtige kwessie met hope deernis, gevoeligheid en selfs ’n skeut humor. Dit is gegrond op Van der Watt se praktykervaring wat oor meer as 30 jaar strek.

By elke tema stel die skrywer ’n paar vrae voor waaroor jy met jou kind kan gesels. Só kan jou kind empatie ontwikkel met ander se lewensomstandighede.

Tjoppie se verjaardag en Tjoppie en die muskiet deur Liz de Villiers. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R95 elk.

Tjoppie is ’n nuuskierige hondjie met ’n lewe vol opwinding saam met sy maatjies. Ná die vorige twee boekies in die reeks – Tjoppie en die tweeling en Tjoppie en die skat – kan Tjoppie-liefhebbers nou uitsien na twee nuwe honde-avonture.

In Tjoppie se verjaardag vier die geliefde hondjie sy verjaardag met ’n lekker partytjie propvol geskenke. Maar hy sit met ’n dilemma: Met wie se geskenk sal hy eerste speel? Dan besef hy dit is die meeste pret as ál die maatjies ’n manier vind om saam te speel.

Tjoppie se verjaardag en Tjoppie en die muskiet deur Liz de Villiers. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R95 elk.

’n Lastige muskiet val Tjoppie aan en veroorsaak die aakligste jeukplekke op sy lyfie in Tjoppie en die muskiet. Tot Tonkie Spinnekop tot sy redding kom en die mislike muskiet in ’n indrukwekkende spinnerak vang.

Die boekies is geïnspireer deur skrywer Liz de Villiers se parmantige hondjie wat graag by ’n venster gesit het van waar hy ’n ogie oor dinge kon hou. Vian Oelofsen, wat ook die Liewe Heksie-reeks geïllustreer het, is verantwoordelik vir die oulike prentjies.