Colin Forbes, ’n dokter en boer, het nege jaar gelede 10% van sy familieplaas (560 ha vrugbare grond) aan sy werkers oorgedra. Sy familie boer sedert 1860 naby Amsterdam in Mpumalanga. Forbes is hul mentor, staan borg vir hul produksielenings en leen ook sy toerusting aan sy werkers. Die werkers delg die lenings met die wins uit die oeste en verdeel dan die res.

Waaruit bestaan ’n goeie vennootskap?

Beslis wedersydse vertroue en agting.

Watter oomblik het die bemagtigingslig vir jou opgegaan?

Toe ek gesien het hoe produktiewe plase tot niet gaan nadat dit deur die regering aan bevoordeeldes sonder steun oorhandig word. ’n Kreatiewe antwoord moet uit die geledere kom van mense wat ervaring het van veelvlakkige bestuursprobleme en vertroud is met die knelpunte van ’n kommersiële plaas.

Wat laat jou aanhou hoop?

My hoop bly lewend omdat ek die welwillendheid en optimisme waarneem wat uit ’n inkeer kan spruit.

Waarop is jy trots in jou landboureis?

Die eerste is die klein stap – wat uiteindelik ’n groot sprong sou raak – om die gedagte van ’n landboudorp met plaaswerkerbegunstigdes danksy mentorskap in ’n werklikheid om te skakel. Die tweede is om na bewaringsbewerking oor te skakel en die talle voordele van die praktyk te ontdek.

Wat is jou grootste vrees?

Dit is beslis onomkeerbaar afbrekende, naïef-gebrekkige, ideologies gedrewe beleidsrigtings wat die regering op die landbou afdwing, met min kennis van die bestuursprobleme van kommersiële boere. En die gebrek aan ontsag oor die verwoesting wat dit het op die bedrading van plaasgemeenskappe.

Hoe motiveer jy mense?

Dit is belangrik om inspanning en gehalte te erken. Erkenning is ’n universele behoefte. Goeie kommunikasie en absolute duidelikheid help om te motiveer. Maar oral het mense dieselfde ding nodig: geld! Dit help dus om op sekere, strategiese tye ’n bietjie harder te druk, byvoorbeeld in planttyd of met ’n spuitprogram. Almal betrokke kry oortydbonusse – heelwat meer as die vereistes van die minimum loon.

Watter landboubeleid sou jy wou verander?

Die Safex-vervoerdifferensiaal hel onregverdig oor in die guns van mielieboere in die weste van die land. Alle mielies in Suid-Afrika word ooswaarts vervoer. Daar behoort ’n zerodifferensiaal-verwysingsilo in die ooste te wees, anders as Randfontein wat ver wes lê.

Alle mielies van hierdie plaas word na Swaziland, op ons voorstoep, uitgevoer of plaaslik verbruik. Daar is byvoorbeeld ’n premie vir mielies by die uitvoerhawe van New Orleans, heelwat gunstiger as Chicago.

Hoe kan grondhervorming versnel word?

My voorstel aan die regering is om vinnig ’n paar honderd viermantaakspanne dwarsoor die land op die been te bring, met verteenwoordiging van twee staatsdepartemente, ’n kommersiële bank en een van ’n voormalige koöperasie of landbou-onderneming.

Besoek dan elke wit, kommersiële boer in die land en vra dieselfde vraag vir elkeen: “Op watter maniere kan jy, volgens jou probleme en vertakkings, help om die lewe van die mense wat vir jou werk of langs jou bly, betekenisvol te verbeter?” Bemagtiging en die oordrag van vaardighede tussen kommersiële boere en hul plaaswerkers behels ’n belegging van tyd – nie geld nie.

Dit is daarom vir almal bekostigbaar. Tyd en betrokkenheid behels om mekaar as medemense te leer ken. Net as verhoudings verbeter, sal ’n situasie ontstaan waar ons mekaar aanmoedig om wedersyds suksesvol te wees. Ons enigste hoop op ’n suksesvolle landboutoekoms in Suid-Afrika is om in die rigting te beweeg van ware integrasie, waar ons erken hoe wedersyds afhanklik boere en hul werkers is.  

Hoe laat jy produksie floreer?

My klem lê op vertikale uitbreiding, wat plaasvind deur grondontleding, beter kultivarkeuses en voorkomende siektebestuur. Ek mentor nou ook ’n groep van 19 gesinne op ’n buurplaas. Saam plant ons 28 ha kommunale grond met kontantgewasse.

Die knelpunt is dat die grond nie opgebou is nie. Die gemeenskap kan nie bekostig om kalk en makro-elemente te koop om dit in ’n hoogs produktiewe stuk grond te verander nie. Wat het van die toelaes van die Graanboer-ontwikkelingsvereniging geword?

Hoe kan die platteland herleef?

Om die platteland te laat herleef, is ’n hersenskim sonder die betrokkenheid van die regering en spesifieke beleid. Die huidige oogmerk met grondhervorming is rigtingloos. Individue met die regte kontakte kry plase sonder die behoefte om te boer.

Ek het gehoop dat die regering waarde sou sien in ons mentorskapskema. Alle bevoordeeldes het ’n gelyke kans om geïdentifiseer te word ingevolge verdienste, vaardighede, entrepreneurskap en ’n sin van verantwoordelikheid om ’n kommersiële plaas op hul eie te bestuur. En elke nuwe, swart kommersiële boer het twee of drie werkers nodig.

Die werkers kan maklik uit die toenemend gefrustreerde werklose en ongeskoolde jeug in die gebied kom.

Forbes verskyn in die tweede episode van Boer maak ’n plan, Donderdag om 27 Februarie om 19:30 op Via (kanaal 147 op DStv), met ’n herhaling Woensdag 4 Maart om 21:30.