As kind was somervakansies tuisblyvakansies. Die besige vrugteseisoen het saam met die skoolvakansie begin. Desember was appelkoostyd op die plaas – die besigste tyd van die jaar. 

Somers op my grootwordplek is bloedig warm, met temperature wat maklik tot in die 40’s klim. Ons het in die swembad geboer en net uitgeklim om die skywe yskoue waatlemoen wat my ma aangedra het, op die stoep te eet, onder die oorhangtakke van ’n groot treurwilger.

Wanneer my pa vir middagete uit die vrugteboorde huis toe gekom het, was die gordyne toegetrek vir koelte. Dit was baie dae te warm vir gekookte kos en dan was daar koue vleise, kaas en noedelslaai of aartappelslaai op die tafel. 

Ná ete mag ons nie dadelik weer gaan swem het nie en dan het ek vir ’n ruk op my bed gaan lê en luister na die geluide van somervakansie op die plaas. Die trekkers met hul volgelaaide kratwaentjies wat teen die opdraend voor ons huis uitbrul op pad droogbaan toe en die getik-tik-tik van die regop sproeiers op die grasperk. 

Ek kan nou nog my ma sien wat met haar blommetjiesvoorskoot voor ons ou Defy-stoof staan en vier kastrolle met appelkooskonfyt om die beurt roer. Die soet reuk van appelkooskonfyt wat op die stoof borrel, vars gebakte kleinkoekies en Kerskoek en die onmiskenbare aroma van ’n suikerhout-braaivleisvuur maak my kinderherinneringe aan daardie kleintyd-somervakansies vol.

Op hoërskool het ek maar met ’n lang lip my ma gehelp kleinkoekies bak en konfyt kook daardie somervakansies. My maats se seevakansies het baie lekkerder geklink as om in die plaasswembad af te koel en dit het vir my gevoel of die weke ekstra-stadig verby gaan. Tipies tiener het ek myself voorgeneem dat ek, wanneer ek eendag groot is, elke Desembervakansie sal see toe gaan, net winkelkoekies sal koop om saam te neem en nooit, ooit weer ’n appelkoos of ’n perske wil sien gedurende ’n somervakansie nie.

Soos die lewe maar werk, woon ek vandag nie te ver van die see af nie, maar trek my hart met ’n punt plaas toe wanneer die somer aanbreek en verlang ek my morsdood na die reuk van songebakte appelkose, waatlemoen-eet onder ’n wilgerboom en die geluide van somervakansies op die plaas. 

In die splinternuwe someruitgawe van Landbou Boerekos skryf ons oor somerkos – al daardie gunstelinge waarvoor ons so lief is in die warmer maande – braaivleis, potjiekos, somervrugte en vakansiekoekies, roomys, Kersfeeskos en baie meer. Ek hoop jy lees en proe iets raak tussen die bladsye wat jou ook laat dagdroom oor somervakansies wat in jou hart gebêre is.

Landbou Boerekos Somer 2018-’19 is vanaf 24 Oktober oral beskikbaar en kos R55 – ’n absolute winskoop vir 180 smullekker somerresepte!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.