Baie mense was skepties oor die idee. Hoekom sal ’n landboutydskrif hom besig hou met kos en resepte? Dan was ons redakteur, Chris Burgess, se antwoord altyd: “Maar Landbouweekblad is die oorspronklike kostydskrif! Want sonder boere wat Suid-Afrika se winkelrakke en spense onder ’n verbysterende verskeidenheid kos laat kreun, sou daar bitter min gewees het om oor te skryf in daardie fênsie glanskostydskrifte!” 

Ek onthou baie goed hoe ons gevoel het terwyl ons aan die eerste uitgawe gewerk het. Opgewonde, effens onseker en redelik angstig! Dis nou ses jaar later en ons werk tans aan die 13de en 14de uitgawe. Die angs is gelukkig al minder, maar ons is nog net so opgewonde oor elke uitgawe soos met daardie eerste een.

Van die begin af was ons doel met Landbou Boerekos tweeledig – ons wou skryf oor daardie geliefde geregte en geure wat uit plaaskombuise kom. Die kos en smake waarna ons verlang en wat ons nostalgies laat voel.

Goeie kos, gemaak met vars plaasprodukte en sonder tierlantyntjies. Maar ons wou ook die lig laat skyn op die mans en vroue wat ons kos produseer. Ons Boerekos-tydskrif moes boere nader bring aan die mense wat hul kos koop.

Reg van die begin af het lesers oorweldigend gunstig gereageer op die gesprekke met boere wat in die tydskrif gepubliseer word – waar boere self met lesers kan praat oor hul bedrywe, produkte en die kwessies wat hulle elke dag moet aanpak om te sorg dat die res van ons kan eet.

Dit het my keer op keer laat besef daar bestaan ’n behoefte onder verbruikers om te weet waar hul kos vandaan kom en om die mense agter die produkte te ontmoet. 

Ná die eerste paar uitgawes het ons lesers begin vra vir ’n kookboek waarin die beste resepte wat in Landbou Boerekos verskyn het, saamgevat is. Omdat dit ’n kostydskrif met ’n landbouhart is, het ons besluit om die boek se resepinhoud volgens plaasprodukte in te deel.

Die A-Z van die lekkerste kos met plaasprodukte: Van aartappels en amandels, beet, dadels, lamsvleis en lemoene tot by waterblommetjies en wortels. Al 300 resepte is in ons toetskombuis getoets. En ons het de laaste een geproe! Ek hoop die boek verskaf vir julle net soveel vreugde soos wat dit ons verskaf om elke uitgawe van Boerekos vir julle aanmekaar te sit. 

Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R320. Bestel ’n eksemplaar deur e-pos te stuur aan Johan Terblanche by johan.terblanche@Media24.com.