Daar is nie baie te sien langs die R44 tussen Wellington en Riebeek-Kasteel nie, maar dis wel die plek waar jy deesdae ’n goeie koppie boeretroos by Morale Coffee kan kry. Dié koffiestalletjie is opmerklik met die hooibale wat dit omring. 

Mnr. Wessel de Wet het met die idee vir die stalletjie vorendag gekom. Hy en mnr. Clayton Zharare, wat die koffie maak, het hul koffie-tuktuk op verskeie plekke geparkeer, maar nie die aftrek gekry waarvoor hulle gehoop het nie.

Nadat De Wet na Riebeek-Kasteel verhuis het, het hy die stalletjie se huidige perseel langs die R44 raakgesien. “Toe ons hier stilhou, het ek gedink hy het probleme met sy kar, maar toe sê hy dit is die plek. Ek het gedink hy is gek en het nie die potensiaal raakgesien nie,” vertel Zharare.

morale coffee
Veral Morale Coffee se yskoffie is baie gewild.

Hulle het ooreengekom om drie weke lank as ’n proeflopie koffie te verkoop op dié stuk oop grond net buite Hermon. “Dit was winter toe ons die eerste kennisgewingborde opsit. Die eerste klant het stilgehou nog voor ons vir hom gereed was,” vertel Zharare.

Nou, sowat sewe maande later, huur hulle die grond waar hulle sewe dae van die week van 07:00 tot 17:00 koffie, yskoffie en ysdrankies bedien aan mense wat stilhou vir ’n onverwagse koppie boeretroos.

De Wet vertel hulle is veral naweke besig, maar dat daar gelukkig genoeg boere deur die week by hulle stilhou. Die tuktuk kan ook vir gesellighede gehuur word.

morale coffee
Mnr. Clayton Zharare, wat die koffie by Morale Coffee maak.

Zharare, wat sedert 2018 koffie maak en voorheen by ’n koffiekettingwinkel in Kaapstad gewerk het, sê veral die yskoffie is baie gewild. Hy verwys daarna as sy magic drink. “Ek ontmoet baie verskillende karakters hier. Die mense hier is baie vriendeliker as die mense in die stad,” skerts hy.

Sy koffie word gemaak met 100% Arabica-koffiebone.

Kontak info@morale.co.za of 074 744 4120 vir nog inligting oor Morale Coffee.