Toe Alanda 23 jaar gelede met Pieter van Zyl ge- troud is, het sy uit eie keuse haar kantoorrokkies en -skoene vir werkdrag verruil. Dalk was die vleissaag wat hulle as trougeskenk gekry het, ’n toekomsvoorspelling, want sy het by haar bedrywige ma en toegewyde pa geleer om alles wat sy aanpak, ordéntlik te doen.

As pasgetroude het sy eerstens haar ouma se pedaalgedrewe naaldwerkmasjien en die vleissaag ontgin. Kort hierna kon sy gerookte produkte, sosaties, biltong en droëwors verkoop. Sy het ook Labradors begin teel.

Vir hanslammermelk het sy met Pieter se hulp Saanen-melkbokke aangeskaf – en sy is een van die melkers! Vanweë die groeiende lammergetalle het sy met haar laaste spaargeld ’n melkmasjien gekoop om die tagtig hanslammers vinniger te versorg.

“Omdat Boerbokke dikwels meerlinge het, is daar altyd ’n groot vraag na melkbokke by Boerboktelers. Ons het toe tien van ons Saanen-ooie op my skoonpa se Boerbokproduksieveiling aangebied, maar moes ’n naam kry waaronder ons die bokke kon bemark. Só het Woeker Boerdery ontstaan.”

Woeker Boerdery het Pieter aanvanklik uitgesluit omdat hy vir ’n familieboerdery gewerk het. Toe Pieter se stiefpa in 2010 op traumatiese wyse sterf en die familieboerdery in 2012 ontbind, moes hulle baie skuld aangaan om grond uit die trust te koop. “Ons het dit gewaag, ingespring en toe moes ons swém! En baie hard werk, want die seuns moes koshuis toe en die reën bly weg.”

LONENDE HONDETELERY

Weens toenemende plaasaanvalle het Pieter vir Alanda – teen haar sin – ’n Boerboeltefie gekoop. “Ek hét eers my neus opgetrek; ek wou ’n rooie hê. Tog het Nikita my lieflinghond geword. Soveel liefde en omgee in een dier. Haar kleintjies het menigmaal ons lopende uitgawes betaal. Só het Woeker Boerboele die lig gesien.

“Ek het ’n tweede uitstekende Boerboelteef begeer, want my pa, Herman Groenewald, het ons geleer jy koop net die beste diere. Weens knypende finansies het ek toe my Aga-stoof vir ’n bruin gestreepte Boerboeltefie verruil. Deesdae kry my ‘Aga-stoof’ kleintjies en dit help skoolgeld betaal.”

Sy het intussen haar Labrador-telery verkoop. “Deesdae het ons 24 Boerboele met tien produserende tewe. Boerboele met die regte temperament is uiters belangrik – hulle is in wese sagmoedige reuse. My pa was my mentor, ’n meester in teling en genetiese eienskappe. Hy het net die beste geteel – Boerbokke, Bons- maras, ringnekke en duiwe. Pieter se ongelooflike aanvoeling vir stoetteling is my ander oog as dit by diereseleksie kom.”

Verlede jaar het sy in haarself begin twyfel. Is sy en haar Boerboele op die regte pad? “Die Here stuur toe ’n vriendin wat my oorreed om ’n praatjie oor Boerboelteling by te woon. Ek het die spreker gevra om my te kom besoek, want ek wil alles verkoop. Dié kenner het my aangemoedig om nie te verkoop nie. Vyf dae later het my reun 88,8% punte behaal – destyds die reun met die vyfde hoogste punte op die liniêre stelsel.

“Ek het toe besef my wiele val soms af omdat ek te veel dinge gelyk doen – boek- en rekordhouding en advertensies van al ons rasegte diere, parings, skoue, stamboeke en woltoetse by die Merinostoetery (900 diere), Kusa-registrasies, die ontwerp, bemarking en bywerk van ons webwerf.”

Hoender beter as winkel s’n

Die droogte het die Van Zyls gedwing om hul bokke en beeste te verkoop. Toe het Alanda in 2015 met hoenders begin boer ná Pieter gekla het oor die swak gehalte van hoendervleis in die winkels. Sy het as proeflopie met honderd braaihoenders begin. In Januarie is Woeker Plaashoenders as abattoir geregistreer. “Ons eerste slagroetine het soggens halfvyf op ons tuintafel met ’n halwe drom kookwater begin. Dertig hoenders per dag.”

Woeker Plaashoenders het geleidelik gegroei, met finansiële struikelblokke. Alanda moes ’n hoenderplukker se prys afstry voor sy dit kon bekostig; ’n vriendin het haar uitgedaag om haar heelhoenderverkope uit te brei tot porsieverkope, met ’n porsiesnyer wat R10 000 kos; en sy moes eers vele toetse “dop” voor sy op die wenresep vir hoenderkos en die beste verskaffers afgekom het.

“Ek het nog nooit ’n groot bedrag gehad waarmee ek na hartelus kon uitbrei nie. Toe ek in die wintermaande my oortollige witvleisporsies noodgedwonge in sosaties en roerbraairepe moes omskep, het ek ’n vakuumverseëlaar nodig gekry, wat R18 000 kos. Daar was presies R18 500 in my bankrekening.”

Toe lugweginfeksies 50% van haar hoenders eis, het kenners aanbeveel dat sy tweemaandeliks nuwe hoenders inkoop, eerder as maandeliks. “Dan verval ek ’n nag lank in moedeloosheid en staan die volgende oggend op en besluit om eerder ’n nuwe hoenderhok te bou – al moet ek onderhandel vir ekstra stene en op ’n vierde muur bespaar deur die hoenderhok teen ’n pakhuismuur vas te bou.

“Ná die vorige Februarie se lugweginfeksie-drama was verkope in Maart beter. Maar in April het meer as 60% van ons hoenders tydens ’n wolkbreuk verspoel. En ek vra myself: ‘Waarom aanhou? Waarom saans met geswelde voete en ’n moeë lyf huis toe stap?’

“Dan dink ek aan my klante en werkers, ons gesin se toekoms. En ek dank die Here dat my kinders bereid is om vakansies hard te werk en dat ek en Pieter ’n span is. Ons is soos twee bene wat saamstap. Dan beur ek voort. Jy moet net nooit gaan lê nie.”

NAVRAE: 082 445 2248; e-pos: woekerboerdery@gmail.com