Die span by Karoo Farm Box, ’n familiebesigheid in Cradock in die Oos-Kaap wat beoog om plaaslike boere en besighede te bevorder, het egter hul heil gevind deur bínne die boks te dink. Me. Lani Lombard, wat al jare tussen Cradock en Somerset boer en ook die True Living-bakery-en-deli in die dorp besit, het dié besigheid saam met haar skoonseun, mnr. Louis Steyn, op die been gebring.

BOKSE VOL HOOP

Die Covid-19-pandemie is nie die enigste terugslag wat boere die afgelope tyd getref het nie. Met die aanvang van 2020 was verskeie boere reeds op hul knieë. Ná die jare lange droogte het die reën eers rondom Februarie begin val en het die veld eers onlangs begin herstel. Dié hartverskeurende omstandighede het gelei tot die Boks vir ’n Boervrou-inisiatief, die inspirasie vir Karoo Farm Box.

Voor van links is Hanlie Steyn, Louis Steyn, Louze
Voor van links is Hanlie Steyn, Louis Steyn, Louzel Lombard Steyn en Lani Lombard. Agter van links is Lops Steyn en Wentzel Lombard. Foto: Garick van Staden

Me. Louzel Lombard Steyn, Louis se vrou en Karoo Farm Box se bemarkingsbestuurder, vertel Cradock se mense het saam bokse gepak om na boervroue in ander dorpe te stuur, salig onbewus van die feit dat dit eintlik met hulle ook sleg gaan. Eendag, kort voor Kersfees, daag daar toe in Cradock drie lorries vol bokse vir die boervroue op – so baie dat elke boervrou vyf bokse gekry het.

“Dit was amper ’n heilige oomblik toe die lorries hier stilgehou het. Ek dink nie mense verstaan hoe baie dit vir ons beteken het nie. Ek dink nie ons sou daardie tweede maande ná Desember oorleef het as dit nie vir die bokse was nie.”

Hierdie bokse het hulle laat besef dat ’n boks veel meer as net ’n versameling dinge is. Dit verteenwoordig ook hoop en as die produkte daarin met die regte bedoeling gepak word, kan dit vir iemand anders die grootste geskenk wees. “Daarom het ons besluit om ’n boks ván ’n boervrou af te stuur. Die res van die land het goedere vir ons gestuur wat hulle as luukshede beskou, ons wil vir hulle wys wat die Karoo kan bied.”

Tans is twee bokse beskikbaar, een vir mans en een
Tans is twee bokse beskikbaar, een vir mans en een vir vroue. Die bokse bevat onder meer sybokhaarkomberse en -serpe, asook wolpantoffels.
Tans is twee bokse beskikbaar, een vir mans en een
Tans is twee bokse beskikbaar, een vir mans en een vir vroue. Die bokse bevat onder meer sybokhaarkomberse en -serpe, asook wolpantoffels.

BOER MAAK ’n PLAN

Lani het sedert die begin van die inperking soos baie ander boere haar plaas se groente en vleis van die plaas se slaghuis in bokse verpak. Hierdie bokse was ’n groot sukses aangesien vars produkte nie altyd kraakvars is teen die tyd dat dit Cradock bereik nie.

Aangesien sy as ’n noodsaaklike werker verklaar is, kon sy die nodige permit bekom om dié bokse dorp toe te vervoer. Mense kon die bokse deur WhatsApp bestel. Louis het egter besef dat die bokse veel meer as net vars groente kan bevat.

Die luukse produkte in die bokse word almal in die Karoo geproduseer en is ook van ’n hoë gehalte. Tans is twee bokse beskikbaar, een vir mans en een vir vroue. Die bokse bevat onder meer sybokhaarkomberse en -serpe, asook wolpantoffels.

’n Nuwe boks vir babas sal binnekort beskikbaar wees. “Japie die skapie en sy trawante is op pad. Dit bevat onder meer die oulikse wolpantoffels vir babas waaroor ek wil vrek! Ons sal ook binnekort ’n pantoffelboks bekend stel.”

Louzel sê hulle het uitstekende terugvoering gekry van die mense wat reeds hul bokse ontvang het. “Dit is vir hulle onmoontlik om te beskryf hoe dit voel om ’n boks oop te maak wat met so ’n spesifieke doel gepak is. Hierdie gevoel is juis waarom mense ons ondersteun en waarom ons suksesvol is.”

Só lyk Japie die skapie wat binnekort in die nuwe
Só lyk Japie die skapie wat binnekort in die nuwe boks vir babas beskikbaar sal wees.

VERTOONVENSTER VIR DIE KAROO

Louzel vertel haar ma se visie vir True Living was nog altyd dat dit ’n vertoonvenster vir die gemeenskap moet wees. “Dit is presies wat hierdie bokse doen. Dit wys vir mense dat hoewel boere een van die moeilikste jare nóg beleef het, kan ons steeds produkte van ’n hoë gehalte produseer.”

Sy sê soveel nuwe besighede het juis die lig gesien omdat mense ’n plan moes maak om ’n inkomste te verdien.Die bokse is nie net plaaslik gewild nie, maar is ook oorsee in aanvraag. “Sodra ons bokse oorsee kan stuur, sal ons. Baie Suid-Afrikaners bly oorsee en smag na Suid-Afrikaanse produkte. Deur die bokse kan ons vir hulle ’n boks vol hoop, sentiment, verlange en nostalgie stuur.”

Hulle was baie slim, en eintlik gelukkig, met die verspreiding in die bokse aangesien dit noodsaaklike produkte bevat en daar dus geen beperking op hul verspreiding was nie. “Die besef dat die produkte in die boks noodsaaklike produkte is, het eers later gekom. Ons het reeds 20 bestellings versprei toe daar aankondiging is dat e-handel toegelaat word.”

Só lyk die veld tans by Waterval, die Lombards se
Só lyk die veld tans by Waterval, die Lombards se plaas. Op die foto is Louwrence Lombard (Lani Lombard se seun).

AANLYN DIE TOEKOMS VIR BOERE

Louzel vertel haar man volg graag kursusse oor e-handel en logistiek en swot gereeld tot 01:00 in die nag. Dié kennis en die beperkinge wat die inperking op hul vermoë om handel te dryf geplaas het, het hulle aangespoor om ’n aanlyn platform op die been te bring. “Ons kon nie meer fisiek iewers heen gaan om iets te koop nie. Ons móés op ons voete dink. Die boere hier kan dit gelukkig doen. As ’n boer nie op sy voete kan dink nie, gaan hy dit nie maak nie.”

Sy sê boere moet nie net ter wille van hulself ’n plan kan maak nie, maar ook ter wille van die mense wat van boere vir ’n inkomste afhanklik is. “Daar is verskeie huisgesinne, hele generasies wat afhanklik is van ’n enkele plaas vir ’n inkomste. Die boer sit gewoonlik sy kinders en tien ander kinders deur die skool. Dit is ’n groot gemeenskap waarvoor ’n mens verantwoordelik is.”

Sy vertel haar man, ’n perfeksionis, het ’n maand lank aan hul webwerf getimmer en geskaaf voor hy dit bekend gestel het. “Eendag het hy net besluit om dit bekend te stel en te sien wat gebeur. As hy slegte kommentaar daaroor ontvang, kan hy nog altyd daaraan verander. Hy sê ’n mens moet nie te veel oor so iets dink nie. Doen dit net en kyk wat gebeur.”

Sy sê mense wat egte Karoo-produkte van ’n hoë gehalte maak, moenie skaam oor hul produk wees of dink dit moet vir ander produkte terugstaan nie. “Sit dit op Facebook en vertel vir mense daarvan. Baie mense in die Karoo kan nie die aanvraag na hul produkte glo nie. Hulle besef nie hoe trots hulle op hul produkte kan wees nie.”

Sy beveel boere aan om van sosiale media gebruik te maak om hul produkte te bemark. “As jy sosiale media gebruik om jou produk te bemark, kan jy direk met jou teikenmark praat.”

As jy jou produk in ’n Karoo Farm Box wil hê, stuur ’n e-pos na karoofarmbox@gmail.com of bel 072 450 3725. Besoek https://www.karoofarmbox.co.za/ vir nog inligting oor die bokse of om ’n bestelling te plaas.