Ek wou nie soos ander seuns eendag ’n dokter, veearts of polisieman wees nie. Ek wou  ’n boorman word. Ek wou my eie boormasjien hê en boorgate sink, op soek na water. 

In die Noord-Kaap, waar ek kind was, was daar altyd maar weer ’n droogte. Ek onthou baie dinge van sulke droogtetye: Pa wat deur die groentetuin stap met die stoffies wat onder sy voete opslaan en later vir Ma sê: “Engel, die pampoene vrek ook nou.” Of oom Gert wat kom vertel van die agttien Dorperooie van hom wat in die veld bly lê het, agttien bondels vel en been; en hoe hy hulle met sy Joseph Rodgers-knipmes van die dors moes verlos.

Ek onthou bankrotveilings en biddae vir reën waartydens ekstra stoele by die kerk ingedra moes word. Stofstorms en warrelwinde en swerms sprinkane. Maar veral vir oom Doepie, die boorman, onthou ek. Oom Doepie het sy boormasjien – ’n nerfaf, rooi affêre op vier, swaar wiele – oral met ’n Thames Trader-lorrie getrek, met sy bont brak Jasper op die sitplek langs hom. En agterop die Thames het Jakkals, oom Doepie se dowe helper, in sy verslete oorpak gesit.

Dink ek aan oom Doepie, dink ek aan ’n spul ou, deurwinterde goed: die ou boormasjien, die ou Thames met die klomp ou gereedskap saam met ou Jakkals agterop – deurgeslyte grawe, ’n pik met ’n selfgekerfde steel, ’n effe gebuigde koevoet, geroeste stukke ketting, ’n dopemmer sonder ’n handvatsel. Oom Doepie het altyd so ’n tiervellose tiervelhoed vol oliekolle opgehad, en hy was vol stories: Hoe hy eenkeer, toe hy in die Bosveld geboor het, ’n trop leeus met ’n graaf verwilder het. Hoe hy al ’n gat geboor het wat só diep was dat die pype se gewig die windpomp tot by sy kop die grond ingetrek het.

Die vel op oom Doepie se arms was plek-plek stukkend en rou, asof die son besig was om die bloed uit hom uit te trek. Maar as jy oom Doepie gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Uithou, aanhou, kophou en bekhou, dankie.” Ek weet nie of oom Doepie ’n huis gehad het nie. Hy het nie van ’n vrou of kinders gepraat nie. Daar waar hy geboor het, het hy ’n stowwerige tent opgeslaan. Dit was sy huis. Die keer toe Pa hom gekry het om ’n nuwe boorgat by ons op die dorp te kom sink, het Ma oom Doepie genooi om snags in ons spaarkamer te slaap, maar die ou het ’n flouerige verskoning gehad. Hy wou eerder by sy boormasjien wees.

“Engel, ons gat pomp leeg.” Ek hoor nog Pa se stem die oggend in die kombuis. En Ma wat antwoord: “Ons sal ou Doepie moet laat kom.” Ons dorp het nie munisipale watertoevoer gehad nie. Op byna elke erf, ook op ons s’n, was ’n boorgat, dikwels met ’n windpomp of ’n enjin daarby wat ’n pomp aangedryf het wat die water gestoot het tot in ’n asbestenk wat op ’n hoë stellasie gestaan het. Maar soms, in die droë jare, het die water in die boorgat opgedroog: Jy sou die Wolseley-enjin – ons het ’n Wolseley gehad – op ’n oggend poef-poef-poef met die slinger aan die brand draai, ’n skaam straal water sou by die asbestenk begin inloop, en dan, ná ’n ruk, raak die straaltjie flouer en modderig – en hou dan op.

Die middag toe oom Doepie met sy trek by ons aankom, moes Pa-hulle ’n gedeelte van die agterste heining laat sak; die Thames en die boormasjien was te wyd vir die hek. Oom Doepie en Jakkals het die boormasjien staangemaak naby my duiwehok waar oom Andries, die dorp se waterwyser, met ’n draaiende mikstok in sy hande ’n plek aangewys het waar die nuwe gat geboor moet word. Dis waar die aar waarin die water was, glo onder die grond geloop het. Eers het oom Doepie-hulle die boormasjien se toring – of dit het soos ’n toring gelyk – regop getrek. In die toring was ’n kabel wat oor poelies geloop het, en vooraan die kabel was die boorpunt, so ’n swaar ysterding, met ’n skerp punt.

Die volgende oggend toe begin die boormasjien in ’n blou dieselwolk te dreun, met die kabel wat daardie punt op en af laat beweeg, stamp-stamp, op en af, duim vir duim die aarde in terwyl my duiwe uit die hok uit die wolklose lug in fladder en Pa vir Ma sê: “Ons sal water kry. As dit die Here se wil is.”

Om ’n boormasjien op die werf te hê, maak ’n wanhopige situasie nóg wanhopiger. Daardie gestamp en lawaai laat jou nie toe om van die modderige straaltjie water in die krane en die verdorde tuin te vergeet nie.

Om ’n boormasjien op die werf te hê, maak ’n wanhopige situasie nóg wanhopiger. Daardie gestamp en lawaai laat jou nie toe om van die modderige straaltjie water in die krane en die verdorde tuin te vergeet nie. Ná skool het ek eers ’n draai by oom Doepie gemaak voor ek die huis in is. “Hoe gaan dit hier, Oom?” “Aanhou, uithou, kophou en bekhou, ou maat.” “Het Oom-hulle al iets gekry?” “Nog niks nie.”

Saans het Pa en Ma in gedempte stemme by die kombuistafel gesit en praat rondom die oefeningboek waarin hulle die kerk se geldsake neergeskryf het. Oom Doepie moes betaal word vir elke voet wat hy die aarde in geboor het, ongeag of daar water is of nie. Laatmiddag, wanneer oom Doepie-hulle klaar geboor het vir die dag, het ek daar by die boormasjien gaan rondhang. Eenkant het ’n swartgebrande ketel op ’n vuurtjie gesing en op ’n riempiestoeltjie het oom Doepie gesit, met sy stories: Hoe ’n span van honderd kamele die Thames en boormasjien een slag uit die sand gesleep het toe hy in die Sahara in Egipte gaan boor het. Hoe hy eenkeer met sy eie oë gesien het hoe ’n boer in ’n droë jaar met sy .303 na die wolke skiet en toe kom daar ’n weerligstraal en slaan die boer dood.

Jakkals – sy tent was ook daar naby opgeslaan – het by ons gesit, met sy dowe ore. Hy en oom Doepie het oor die jare heen hul eie vingertaal met mekaar leer praat. Oom Doepie kon net sy vinger op ’n bepaalde manier lig, dan staan Jakkals op en roer die pap in die pot oor die vuur met ’n stok, of hy gaan haal dit of dat. ’n Mens wonder of dit nie die boormasjien is wat vir Jakkals doof gemaak het nie. Een van sy take was om byna teen die enjin te staan met sy hand om die kabel waaraan die boorpunt is, op en af, op en af, van vroegoggend tot laatmiddag, met sy hand om die kabel om seker te maak daar word nie skeef geboor nie.

Een of twee keer per dag het oom Doepie-hulle so ’n metaal-skepding in die gat laat afsak, wat ’n bietjie grond onder uit die gat na bo gebring het. Die grond het hulle in sulke hopies in ’n ry gegooi. Party hopies se grond en gruis was rooierig, ander was meer grys van kleur, of donkerder: blou, selfs swart. Oom Doepie het dikwels gebukkend by daardie hopies gestaan. Soms het Pa by hom gaan staan, en dan het hulle na daardie hopies gekyk asof dit ’n storie is wat die aarde besig was om vir hulle te vertel. Ná drie dae se boor het die swart kleierige grond wat boontoe gekom het, darem so ’n klammerigheidjie ingehad. Twee dae later was daar weer vars water op ons werf.

Ons het dit gehoor voor ons dit gesien het. Die boormasjien het die middag net stil geraak en toe roep oom Doepie: “Kom, mense! Kom kyk! Ons het die aar gekry.” ’n Boordery laat jou voel of die aarde ’n lewende wese is, met are en ’n hart wat water pomp, nie bloed nie. Ma is eerste by die agterdeur uit, met Souf, wat in die strykkamer doenig was, agterna. Ek glo nie ek het hulle daarna ooit weer sien hardloop nie. Die water het nie bo by die gat uitgespuit soos ’n mens soms van hoor nie.

Die water het by die gat uitgeborrel en in ’n smal stroompie begin vloei in die rigting van die straat wat laer as ons erf was. Pa het in daardie stroompie gaan staan en van die water met albei sy hande opgeskep en daarvan probeer drink. Ma het nie omgegee dat sy skoene nat word nie. Souf het vir Jakkals gekyk en met haar hande deur die lug beduie, en Jakkals het haar geantwoord met hande wat ewe woes beduie.

Die aarde het opeens na ’n genadiger plek gevoel. In die lug het my duiwe in wye sirkels gevlieg, oor die kerk se toring, oor die geboue, oor die huise. Pa het by Ma gaan staan en sy hand uitgesteek en dit vir ’n rukkie op Ma se skouer laat rus terwyl die water in die straat se rigting bly vloei en vloei. By die Thames het oom Doepie gestaan en oor sy voosgebrande arms gevryf en na alles gekyk en geglimlag. 

Onder een dak bevat honderd van Dana Snyman se gunsteling- stories – oud en nuut.

Onder een dak deur Dana Snyman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R250

“Ons ís ons stories,” sê die skrywer Dana Snyman onlangs in ’n onderhoud. Dana – wat selfs oor alledaagshede ’n merkwaardige verhaal kan optower – laat lesers opnuut na hulself en die wêreld rondom hulle kyk in dié bundel met 100 van sy gunsteling-stories (nie alles is nuut nie).

Hy skryf oor kleintyd-herinneringe met ’n tikkie nostalgie en ’n bietjie hartseer (soms), soos wanneer hy sy ouma op haar sterfbed gaan besoek. Wanneer hy by haar kom, ná hy ’n spul ooms en tantes se groetery en sinnelose uitvraery verduur het, weet sy nie wie hy is nie.

Daar is reisverhale met ’n aweregse noot, soos die kuier by Borrie Borman in die Caprivi. Sy skerp waarnemersoog mis nie die verhoudings (of skeure) tussen mense in Suid-Afrika nie. Daar word ook oor rugby, die 1994-verkiesing en die Covid-19-inperking geskryf