In die distrik Bultfontein in die Vrystaat, waar die klimaatstoestande die afgelope paar jaar reserwes uitgeput het, het ’n aantal boere die daad by die woord gevoeg en in September ’n koöperasie, WVS Agri Co-op, geregistreer. “Sedert die droogte is ons permanent aan die bedel. Ons wil liewer saam ’n oplossing skep. Hierdie is ’n manier wat vir almal kan werk,” sê dr. Jaco de Villiers, bestuurskonsultant van Hennenman, wat die sakeplan opgestel het en een van die direksielede van WVS Agri is.

Sowat 15 boere, hul gesinne en 40 plaaswerkers is tans lede van die koöperasie. Die sakeplan is op aanvraag beskikbaar vanaf die koöperasie se Facebook-blad. De Villiers sê dit is reeds meer as 14 000 keer beskikbaar gestel. Die koöperasie het kontrakte gesluit waarmee hy die grond van sy lede gekoop het, onderhewig aan die strukturering en finansiering daarvan.

Die sakemodel maak benewens lidmaatskap ook voorsiening vir aandeelhouding waarvolgens aandele per bateruil-transaksie plaasvind, of deur middel van belegging binne die bedrywighede van die koöperasie. Daar is ook heelwat belangstelling van mense wat aandele wil opneem, sê De Villiers. “Ek noem die stelsel sommer ‘agrilisme’. Dit is ’n vermenging van die beste element van sosialisme en kapitalisme, en dit skep ’n nuwegeslag-koöperasie wat op meer as een vlak bedrywig is.”

BRUG MET VERBRUIKER

Die oogmerk is om die primêre koöperasie binne ’n paar jaar deel te maak van ’n sekondêre en tersiêre koöperasie, dus om vertikaal in die waardeketting te beweeg en hul produkte self te verwerk. “Ons moet aanvaar dat die brug tussen boer en verbruiker in die toekoms verstewig sal moet word. Daar is goeie beleggingsgeleent- hede in die landbou en ons moet ’n veilige stelsel vir verbruikers skep om dit te benut.”

Die koöperasie kan gesamentlik met meer beeste en skape boer as wat elke boer individueel sou kon. Deur middel van ’n deel-oes-transaksie kan ’n boer buite die groep ook diere aanbied waarmee geboer word en in die opbrengs deel. “Hier is grond, hier is kundigheid, kom ons benut dit tot voordeel van almal.”

Op die vraag oor waar die koöperasie finansiering sal kry, sê De Villiers die logiese beginpunt is by die banke wat reeds die eerste verbande op die plase besit. “Ons onderhandel met verskeie finansiers, maar kan nog nie name bekend maak nie.”

Die koöperasie het reeds begin om sy grond te bewerk en sekere ooreenkomste met bepaalde insetverskaffers te sluit. Daar is egter kwessies ten opsigte van produksiekapitaal, veral om diesel aan te koop, sê De Villiers.

BETER PRYSE BEDING

Hy beklemtoon dat dié sakemodel nie met bestaande koöperasies of maatskappye meeding nie. Dit is eerder daarop gemik dat lede saamwerk as een groot ekonomiese eenheid om beter pryse by verskaffers van produksiemiddele te beding en om hul produkte regstreeks te verkoop.

Volgens die sakeplan is daar kundigheid in die groep om produkte soos rooivleis en wol, mielies, grondbone, sonneblom en katoen te verbou. “Die voortdurende opwaartse grondwaarderings het boere kunsmatig solvent gehou. Opeenvolgende droogtes en die bedreiging van onteiening sonder vergoeding het boere egter onder aansienlike druk geplaas.

“Die dag toe die boer geleen het, het hy 50% na die vennootskap gebring en die bank 50%. As die bank omdraai en wegstap, bly die boer agter met niks. Dit is wat ons moet teenwerk.”