bayer-bokblad

Ek en Myra is pas 40 jaar getroud. Ek sê anderdag vir die kinders – Schalk, Tiaan en René – dat ons saam móói hoogtepunte beleef het, maar ook laagtepunte, soos toe Schalkie in 2013 met bakteriële breinvliesontsteking ’n 2% kans op oorlewing gegee is.

Daar is nie ’n handboek wat jou voorberei op hoe jy die lewe moet beleef en soms oorleef nie. Jy vat hom soos hy kom. En ek is trots om te sien hoe my kinders die lewe aandurf met deursettingsvermoë en ’n manier om hulself deur kalm én stormwaters te navigeer.

In ons huis was daar geen verwagting dat die seuns in my spore moes volg nie. Trouens, daar was nooit rugbyfoto’s of -truie teen die mure nie. Eerder ’n kunsversameling. Ek wou nie hê hulle moes in die skadu van ’n rugbypa grootword nie. Doen álles en enigiets voluit en geniet julself. Dis dit.

Krieket is buitendien ons grootste passie. As kind het ek ’n reuseskoolkoffer gehad sodat my ma my boeke en krieketklere saam kon inpak sonder dat my pa sien. Hy’t die “Engelsman se game” die huis belet. Ek het eindelik o.18-krieket vir die Noordwes-Kaap gespeel.

Ook Schalkie het nooit beoog om ’n rugbyspeler te word nie. Hy’s ’n baie beter krieketspeler. Ek het hom amper Bishops toe gestuur vir krieket, maar hy’t self gevra om Paarl Gim toe te gaan. Hy was van o.13 tot o.19 die Bolandse krieketkaptein, en hy en Tiaan hou albei rekords by Gim – Schalkie (toe 14) as die jongste speler om vir die eerste span ’n honderdtal te moker en Tiaan vir die grootste honderdtal.

Krieket was ons game, maar steeds nét ’n game. Kinders wat huil as hulle verloor, was vir ons vreemd. Om teleurgesteld te wees as jy nie alles gegee het nie, is iets anders. Alleenlik deur alles te gee, sal jy met die verste perke van jou vermoëns gekonfronteer word en agterkom waartoe jy waarlik in staat is.

Hierdie ingesteldheid het Schalk (jr.) onvoorsiene hoofstukke in sy lewe help skryf – op en van die veld af. ’n Besering het sy naskoolse krieketplanne in die wiele gery. Toe word hy vir die o.21-Bokke gekies, en daar verander sy storie oornag.

’n Maklike pad was dit nie. In 2004 het hy op 21-jarige ouderdom die Internasionale Rugbyspeler van die Jaar geword, en nege jaar later het hy om sy lewe geveg. Nadat hy die meningitis oorwin het, is hy nog vyf keer geopereer net sodat hy ’n normale lewe kon hê. Rugby was buite die kwessie.

Tog, in 2015, het Schalk die Laureus-toekenning vir die Terugkeer van die Jaar ontvang. Ek sê agterna vir iemand geen kind moet sy ouers deur soveel trauma sit vir so ’n klein beeldjie nie. Maar dis Schalkie – hy’s baie filosofies oor sport se plek in sy lewe – eintlik dié lewe. Rugby en krieket was bloot deel van sy opvoeding.

’n Ouer kry weinig ’n beter insig in hoe jou kind die goeie en slegte in die lewe takel as deur die perspektief wat sport bied. Ons gesin is nie regtig praters nie. Ons verkies sport, want dis waar jou dáde die praatwerk doen.