Nes verskeie ander plaaslike en klein ondernemings is dié padstal, wat in 2011 deur die tydskrif Weg as Suid-Afrika se toppadstal bekroon is, hard deur die Covid-19-pandemie getref. Die Daggaboer moes sy deure vir ’n paar maande sluit en al is die inperking mettertyd grootliks opgehef, het minder besoekers by die padstal se deur ingestap.

Volgens die eienaar, Isobel Neethling, het hulle besluit om van hul verkope aanlyn te skuif, al het die padstal nie in daardie stadium so ’n diens gebied nie. Die span het hulle tot sosiale media gewend om die padstal se handgemaakte pantoffels wyer in Suid-Afrika te bemark.

“Ons is gedwing om buite die boks te dink, en dit is waar Thulanie Judas en sy vrou, Lillian, so ’n belangrike rol gespeel het. Hulle het met vasberadenheid baie ure oortyd gewerk om seker te maak daar was altyd genoeg pantoffels in die padstal. Ons het begin om die pantoffels meer intensief op verskeie aanlyn platforms te bemark,” skryf Isobel op die Daggaboer se Facebookblad, wat wyd aandag getrek het.

ln250321pakstal3_opt.jpg
Die padstal bied ’n verskeidenheid produkte, soos tuisgemaakte lekker­nye en sybokhaarsokkies.

Die uiteinde was dat die padstal verlede jaar sy beste pantoffelverkope nóg gehad het, en steeds die wa deur die drif kon trek in ’n baie moeilike jaar vir klein besighede in plattelandse gemeenskappe. Thulanie en Lillian kom van Zimbabwe, en bly op die plaas waar die padstal is. Hulle maak al die afgelope 12 jaar pantoffels vir die padstal. Volgens Isobel is die egpaar baie hardwerkend en gedissiplineerd.

Isobel het voor die inperking gereeld pantoffels aan bestaande klante en deur Facebook verkoop en per koerier afgelewer, maar danksy die bemarkingsveldtog het sy pantoffels van Kaapstad tot Johannesburg begin verkoop.

Omdat die naaste dorp, Cradock, meer as 50 km van die padstal is, is dit ’n gesukkel om pantoffels per koerier na klante te stuur, en dit skep ’n probleem vir aanlyn verkope. Tog het hulle vasgebyt en volhard.

Drome bewaarheid

Die Judasse het nie net hard agter die skerms gewerk nie, maar ook die ekstra inkomste sorgvuldig weggesit. Thulanie kon genoeg geld bymekaarmaak om sy droom te bewaarheid en sy heel eerste voertuig, ’n bakkie, te koop. Hy kon ook ’n waentjie met sy inkomste koop.

Volgens Isobel moes hulle verseker die padstal het minstens een paar pantoffels in elke grootte beskikbaar – vir kinders van ’n nommer 3 tot 13, vir vroue van nommer 1 tot 8, en van nommer 6 tot 15 in mansgroottes. “Dis ’n groot verskeidenheid pantoffels wat gemaak moet word, en alles boonop met die hand.”

ln250321padstal2_opt.jpg
Thulanie Judas by die bakkie wat hy danksy sy harde werk en die styging in pantoffelverkope kon koop.

Nuwe neigings

Die N10, waar die padstal geleë is, is ’n belangrike deurgangsroete vir binnelanders wat die Oos-Kaapse kus gedurende die vakansie- tye besoek. Besoekers kan aansit vir etes en drinkgoed wat staatmakers soos roosterkoek, tuisgemaakte pastei, moerkoffie en tuisgebak insluit.

Die rakke bied ’n verskeidenheid, van bokhaar- en handgemaakte produkte tot konfyt, biltong en droëwors.

Isobel sê die inperking het ’n groot invloed op die padstal se jaarlikse verkoopspatroon gehad. Dit het haar beplanning omver gegooi, want sy kon nie meer staatmaak op die gewone statistieke nie.

“Voorheen het ons geweet ons kry meer besoekers en besigheid oor Desember of die Aprilvakansie, en die Septembervakansie is minder besig. Verlede jaar was die padstal egter van September tot November besiger as gewoonlik. Al is die inperking nou meestal opgehef, is mense steeds versigtig om te reis.

“As dit nie vir die pantoffelverkope was nie, sou ons ’n baie moeilik tyd gehad het,” sê Isobel. “En daar lê moontlik nog moeilike tye voor.”