Die St. Bernard Fred hoor verskrik vir die eerste keer in sy lewe ’n haan kraai en spring verskrik op die bed. Die gekraai kom beslis van Dirk se nuwe buurvrou se erf. Dirk het haar vandag skaamteloos deur die heining dopgehou toe sy, geklee in ’n kort denimbroekie, haar goed uit haar stokou Volksie dra.

Hy wou gaan help; kon byna sy ouma sugtend in die hemel hoor sê: “Ai, dis nie hoe ek die kind geleer het nie.”

Sorry, Ouma, het hy gedink, die uitgewer is op my case, ek sal haar later nooi vir ete. Die gekraai begin weer. Dit dring deur murg en been. Hy spring met ’n kragwoord op, loop net in sy rugbybroek deur die hekkie in die heining. Ons gaan beslis nie goeie bure wees nie, dink hy grimmig, en klop hard aan die rooi geverfde voordeur.

Kwaai fluweelbruin oë kyk tussen lang, rooi lokke, wat ’n fyn gesiggie omraam, na hom. Sy dra ’n lang slaapjurk wat sweerlik aan haar ouma behoort het. “Is jy mal om twee-uur in die oggend so aan my deur te hamer?”

“Is jy mal om twee-uur in die oggend jou deur oop te maak vir ’n vreemdeling . . . Lees jy nie koerant nie?” vra hy bruusk, onkant gevang deur haar bekoorlikheid. Sy skud die rooi krulkop woes heen en weer.

“Nee, ek lees nie koerant nie en ek kyk ook nie TV-nuus nie.” ’n Fyn vinger swaai voor sy neus. “Ek weet wie jy is, ek het gesien hoe hou jy my dop waar jy op jou rekenaar sit en speel, sonder om ’n vinger te verroer om my te help!” Sy kyk hom met opgetrekte wenkbroue op en af. “Kan jy nie behoorlik aantrek voor jy aan vreemde meisies se deure hamer nie? Jy weet wat sê die spreekwoord van eerste indrukke.”

Hy vee met sy hande deur sy dik bos hare wat reeds in alle rigtings staan. “Kyk, Juffrou, is dit jou haan wat sulke onaardse geluide maak?” Diep dimpels duik in haar sagte wange, en die soet glimlag slaan sy asem weg.

“Ja, dit is Napoleon. Het hy jou gepla?” Hy kyk na die donker tuin om hom.

“Ja, hy het my beslis gepla. Wat soek hy hier in Melville?”

“Jy moet ’n nuwe intrekker wees,” sê sy ysig, “my ouma het my altyd vertel watter oulike buurman sy het.” Hy skud sy kop. Haar ruggie trek penorent, die bruin oë skiet vuur. “My naam is Lienkie! Ek het nooit gedink Napoleon en Lady Di sou onwelkom hier wees nie. Hulle het die pragtigste kindertjies – William, Kate, Charles en . . .”

Hy hou sy hand op. “Lienkie, ek gee jou vyf dae om van Napoleon en sy gebroedsel ontslae te raak, anders doen ek verdere stappe. Ek het my rus nodig.”

Hy draai om, stap weg sonder om weer na haar te kyk, maar moet Fred roep om saam te stap. Hy is al deur die hekkie, toe skree sy: “Ek mag nie ’n ou kapokkie aanhou nie, maar jy kan daai mensvreter aanhou. As hy net een maal in die nag blaf, bel ek die polisie.” Hy hoor hoe sy die deur toeslaan.

FRED DIE VERRAAIER

Lienkie gaan sit woedend op die groot sofa in die knus sitkamer, trek haar ouma se lappieskombers op tot onder haar ken, vee ’n verdwaalde traan van haar wang af. Hoe kan hy van my verwag om van Napoleon ontslae te raak? Wat gaan ek doen?

Dirk roep die volgende oggend tevergeefs na Fred. Hy hoor ’n stem langsaan, gaan loer deur die heining. Lienkie sit kaalvoet op die gras, haar hare in twee dik vlegsels. Fred lê langs haar en kyk met leepoë na die hoendertjies wat lustig in die gras skrop.

“Toemaar, Napoleon,” hoor hy haar stem, “ek sal nie dat die draak hier langsaan julle wegvat nie! Ek weet nie wat ons gaan doen nie, maar ek sal aan ’n plan dink.”

Sy staan op, stap na die swembad, begin haar hempie stadig losknoop en gooi dit eenkant neer. Dirk wil wegkyk, maar kan nie, want die bloedrooi bikini pas haar perfek. Sy duik in die water en swem ’n paar vinnige lengtes voor sy uitgestrek in die son gaan lê. Sy lê en glimlag.

Ja, ’n man bly maar ’n man, dink sy, om my so deur die heining te sit en dophou. Tot Dirk se frustrasie loop Fred kort-kort weg na die buurvrou en lê en slaap op die stoep waar sy skilder.

Klokslag halftwee soggens begin Napoleon kraai. Die gekraai dring deur sy oorfone todat dit voel asof die haantjie langs sy bed staan en kraai. Aan die einde van sy geduld, het hy weer met haar probeer praat. Sy het met groot oë stil na hom en staan en kyk, die deur blatant in sy gesig toegeslaan.

“Ek gaan stappe doen,” het hy woedend deur die toe deur geskree, “ek kan nie so skryf nie!”

Tot sy verdere ergernis kom die kapokhaantjie gereeld met sy gesin deur die heining om in sy tuin te kom skrop. Een oggend kom Lienkie uit die huis in ’n vrolike somersrokkie. “Ek weet nie hoekom die flippen vroumens nou so mooi moet wees nie,” dink hy gefrustreerd. Dit maak die hele saak net ingewikkelder. Voor sy in die Volksie klim, wys sy ’n fyn vinger na Fred.

“Jy eet nie vir Napoleon en Lady Di terwyl ek weg is nie, gehoor. Pas hulle op, ek weet nie waartoe jou wrede baas in staat is nie.”

SLOT EN GRENDEL

Drie dae later kyk Lienkie verslae na die prokureursbrief in haar hande. Sy het sewe dae om van die hoenders ontslae te raak! “Ek kan nie glo hy is so laag nie,” dink sy ontsteld. Sy gryp haar ouma se groot vleismes uit die laai en gaan hamer aan sy deur met Napoleon in haar arms. Hy ruk die deur ongeduldig oop.

Sy gee hom nie kans om te praat nie, druk by hom verby tot in sy kombuis. “Toe, kap af sy kop, dat jy tot rus kan kom,” sê sy tussen die snikke deur. Hy neem die mes versigtig uit haar hand.

“Kom sit, dan maak ek koffie sodat ons rustig oor die saak kan praat,” sê hy kalm en skakel die ketel aan. Daar is nie ’n greintjie vriendelikheid in die bruin kykers of in haar stem nie.

“Hoe gaan ons die probleem oplos? Jy het die geleentheid gehad om Napoleon se kop af te kap, maar jy is nie mans genoeg nie!”

“Hoekom is die hoenders vir jou so belangrik? Jy behoort tog te weet dit sal probleme in die stad veroorsaak.”

Haar oë skiet vol trane. “My pa moes sy plaas aan die Regering afstaan . . . ’n plaas wat geslagte lank in ons familie was. Ek het die dag toe ons moes trek, die werker gevra om Napoleon en Lady Di skelm in my kar te sit. Toe ek weer sien, was die kindertjies daar. Ek het nie gedink dit sal so probleem wees met Ouma se huisie wat so half eenkant sit nie.”

Sy sug skielik diep en staan soos ’n ou mens van die stoel op. “Moenie verder worry nie, ek sal van hulle ontslae raak. Ek het nie meer krag vir die bakleiery nie.”

Voor hy nog kan reageer, is sy uit by die deur en hoor hy die tuinhekkie kraak. Minute later sien hy hoe sy drie yslike slotte aan die hekkie sit.

DANS OP DIE STOEP

Fred het ’n paar keer by die hekkie gestaan en tjank om langsaan te gaan kuier, maar Dirk het hom geïgnoreer. Wat hy nie kon ignoreer nie, was die skuldgevoel en die leemte in sy hart. Het hy haar nou heeltemal verwilder? Later die aand tel Dirk die foto van sy ouma op en praat met haar.

“Skies, Ouma, ek weet Ouma is teleurgesteld. Ek sal die hoendertjies nou uitlos, al kan ek nie saans slaap nie. Ouma weet ek stel nie in vroue belang ná die fiasko met Rika nie. Maar nou het ek teen my sin op die cheecky meisiemens langsaan gaan staan en verlief raak. En sy haat my soos die pes.”

Musiek kom op die aandwind na hom deur die oop venster aangewaai. Sy hart neem hom vanself heining toe. Lienkie dans op ’n stoep vol kerse, geklee in ’n lang, wit rok wat om haar uitbol soos sy draai en swaai. Hy spring oor die hekkie, is met ’n paar tree op die stoep.

Sy hou aan dans, hou skielik haar hand na hom uit. Sy hart klop in sy keel toe hy haar hand neem, haar teen sy bors vastrek en met haar begin dans.

“Ek is so jammer ek was so gemene vark,” praat hy gesmoord in haar hare. “Ek is mal oor jou, al kraai jou haan my snags wakker.” Hy lig haar ken op sodat hy in haar gesig kan kyk. Hy buk af, sy lippe raak vlindersag aan hare. Haar arms gaan om sy nek en sy soen hom met oorgawe terug. Dirk sug.

Skielik is die gekraai van ’n kapokhaantjie vir hom die mooiste geluid nóg.

Eleen Blaeser van Kempton Park het jare lank saam met haar man ’n bou-onderneming bedryf. Tans is sy afgetree, maar ook ma van vier kinders en ouma van agt kleinkinders. Sy het vier jaar gelede haar eerste boek, Sprankeldief, geskryf. Intussen het nog vier boeke gevolg. Eleen is lief vir lees en verslaaf aan scrapbooking.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.