Die beroepsgholfspeler Christiaan Bezuidenhout, wat deesdae in Europa meeding, sê Mosselbaai se gholfbaan is naas dié van George sy gunstelingbaan aan die Kaapse suidkus. Dít sê nogal baie. Hy beskryf die uitsig oor die blou-blou Indiese Oseaan, wat van elke bof sigbaar is, as “ongelooflik”. Boonop hou hy van die uitleg.

“Die baan is duidelik ontwerp met die invloed van die kuswinde in gedagte. Dit is juis die wind wat Mosselbaai uniek maak, want jy kan maklik vyf verskillende bane speel na gelang van die windsterkte of -rigting. Maar op ’n stil dag sal enige speler ’n ronde hier geniet. Dit is perfek vir vakansie-gholf en een van min bane waar dit ’n plesier is om eerder te stap as om agter jou balletjie aan te ry,” sê hy.

Die oorspronklike baan is ontwerp deur Bob Grimsdell, seker een van die bekendste Suid-Afrikaanse gholfbaanargitekte van sy tyd. In 2000 is die baan deur Danie Obermeyer en Philip Basson van Golfscape Golf Course Construction herontwerp en herbou.

Hul instruksie was om ’n moderne links-tipe baan te bou met setperke volgens die Amerikaase gholfvereniging (USGA) se spesifikasies, maar om nie te veel te peuter aan die ou uitleg nie. ’n Outomatiese besproeingstelsel is geïnstalleer, die aantal sandkuile is van 13 tot 96 vermeerder, en die baan is van 5 500 m tot 5 850 m verleng.

Volgens Philip was die grootse verbetering dalk om die ou, moordende vyftiende – destyds bekend as Trombose-heuwel – te omskep in twee putjies: ’n syfer 3 en ’n opdraande syfer 4 (nou die sestiende). “Dit bly egter moeilik om ’n goeie putjie te bou wanneer jy bult-uit moet speel,” sê hy.

Vandag is die 17de – ’n lang, afdraande syfer 5 – die baan se spogputjie. Jy moet dit baie versigtig benader om nie jou telling te bederf nie. Die see lyk of dit reg onder die groot setperk vir jou lê en wag. Sedert die herontwerp het die ledetal vanaf 300 tot 1 300 opgeskiet, terwyl die jaarlikse aantal rondes wat gespeel word, van 18 000 tot meer as 50 000 gestyg het.

NAVRAE: Mosselbaai-gholfklub, tel. 044 691 2379

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.