Hier op kantoor en in die toetskombuis is ons al vir 'n rukkie aan’t planne maak vir die groot mylpaal, en besig om artikels te beplan rondom ons eeufeesviering. Vir my sluit die vier van 'n spesiale geleentheid altyd 'n spesiale tuisgebakte koek in. 

Daarby het ek 'n ding oor ’n verjaardag. Ek glo dit moet ordentlik gevier word – met ’n partytjie en natuurlik baie koek – want daar wag ’n hele jaar voor jy weer verjaar. 

Die liefde vir koek bak (en -eet) en partytjie hou kom van kleins af. Al was kinderpartytjies in my tyd ver verwyder van die blink en duur afferes van vandag, was die opwinding oor 'n huis vol maats en daardie spesiale verjaarsdagkoek oneindig groot. 

Ek kan elke verjaardagkoek uit my kinderdae onthou. Daar was ’n langbeenprinses met ’n uitklok-koekromp, ’n oulike Hompie Kedompie met ’n volstruiseierdoplyf op ’n sjokoladekoekmuur, daarna 'n liggeel Maja die By met regopstaanvlerke en toe 'n replika van my kat, Mattewis.

Dit was ver van die driedimensionele professionele kunswerke van fondant van vandag , maar dit was spesiaal vir my gebak en laat in die nag geheimsinnig in die spens versier sodat dit op die partytjie die grootste, beste verrassing kon wees. Ek kan nou nog daardie gevoel onthou as die koek uiteindelik partytjietafel toe gedra word, wanneer die kersies aangesteek word en daardie eerste sagte, stroopsoet hap!

In 2012 het ons 'n paar kinderpartytjiekoeke in Landbouweekblad gepubliseer. Maklike, vinnige koeke wat, soos in die ou dae, sommer met botterversiersel aanmekaargesit en toegesmeer word. My inboks het die volgende week uit sy nate gebars met versoeke vir nog maklike partytjiekoeke en bekostigbare idees.

Wat my maar net weer laat besef het dat daar altyd 'n plek sal wees vir daardie lekker ou bekende resepte en -partytjie-idees. Ek gee die resep en aanwysings vir die maklike groen trekkerkoek (die gewildste van die partytjiekoeke wat ons gepubliseer het) weer hier. 

Die eerste koek wat my ma my leer bak het, was 'n klassieke warmmelksponskoek, ’n resep waaraan sy al die jare getrou gebly het. Of ons nou sjokolade- of lemoen- of witkoek wou bak, dit was nooit nodig vir ’n nuwe resep nie. Jy’t net die resep vir warmmelksponskoek ’n bietjie aangepas, en siedaar.

Ons het dit só gereeld gebak dat die resep vandag nog in my geheue ingeprent is en dit is die koekresep wat ek by verre die meeste gebruik. Vir die koek op die foto het ek elke koeklaag gehalveer om vier dunner lagies te maak en dit met geklopte room en somerbessies versier, maar die moontlikhede met hierdie resep is eindeloos…

Of dit nou 'n verjaarsdag, herdenking, geboorte, mylpaal, weersiens of viering van watter ander aard ook al is – as daar nie 'n tuisgebakte lekkerny op tafel is nie, voel dit net nie reg nie. Die bekende kosskrywer Julia Child het immers gesê: “A party without a cake is just a meeting.” Net so.

Daarom sluit ons 'n paar van ons staatmaker laagkoekresepte wat oor die jare in Landbouweekblad en Boerekos gepubliseer is ook hier in. Die sjokoladekoek is hemels. Donker, klam en bittersoet. Die rooifluweelkoek met sy besondere vulsel sal jou gaste laat “oe” en “aaa” en suurlemoenkoek met geskroeide meringue is altyd 'n groot gunsteling. En dan is daar 'n onfeilbare gebakte nougatkaaskoek wat ons lesers laat swymel het. Almal perfek vir enige spesiale geleentheid! 

En as jy nie tyd het of lus is vir die moeite van 'n laagkoek nie – probeer ons staatmaker-sjokoladeplaatkoek. Dit is die maklikste, vinnigste sjokoladekoek en die resep waarna ek dadelik gryp as my kinders die aand voor 'n koekverkoping skielik onthou dat hulle iets tuisgebak moet skool toe neem die volgende dag. Jy hoef nie eens eiers in die huis te hê om hierdie een te kan bak nie!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.