En wat ’n avontuur was dit nie. Op 77 kan ek net terugkyk na die verstommende aanpasbaarheid. In 1960 was daar net ’n paar opsies as jy op ’n plattelandse dorp wou werk – onderwyser, die bankwese, die spoorweë of ’n verpleegster (vir die vroue). Ná matriek is ek dus Graaff-Reinet toe om my as onderwyser te bekwaam. Die opleidingskollege vir onderwysers op Graaff-Reinet (GRO) was die beste studentelewe waarvoor ’n student kon vra. ’n Paar hoogtepunte was die waatlemoenfeeste in Uquhart-park, staptogte na die Van Ryneveldspasdam (deesdae die Nqweba-dam) wanneer dié oorloop en interkollege teen die Struisies van Oudtshoorn en die Kovsies in Bloemfontein.

Ek was die fotograaf wat seker gemaak het spesiale geleenthede word grafies vertroetel. Die drie foto’s uit my kameralens wat bo die ander uitstaan, was seker Spandauskop, die Vallei van Verlatenheid en die Van Ryneveldspasdam wat sy wal oorstroom. Dan praat ons liewer nie oor “Die Ark” nie, die GRO se hoofgebou, waar na-uurse kuiers die kollegehoof hoofbrekens gegee het. Tydens my tweede jaar moes ons die nuwe eerstejaars “doop”, met name soos “sot” en “sottin”. In Huis Werda, my koshuis, het ek vir ’n week lank ’n sot gehad wat moes sorg dat my skoene altyd blink. André Marx was ’n bekwame en beroepskoenpoetser. Terloops, vandag bly ons albei op Jeffreysbaai en is steeds goeie vriende, al het André my nog nie heeltemal vergewe vir dié episode nie.

Toe die eerstejaars voor die kollege se hoofgebou aantree, het ’n skamerige jong meisie my (toe ’n tweedejaar) oog gevang. Later het sy my vertel haar naam is Amelia, en ek het net daar vir haar gesê sy gaan met dié “oom” trou. Heel astrant was haar antwoord dat sy GRO toe gekom het om haar as onderwyseres te bekwaam, nie om ’n man te soek nie. Ek en sy is in Julie 1966 getroud. Ons eerste kruidenierswaentjie – vol gelaai – het die aardige bedrag van R12 gekos. Ná 52 jaar se getroude lewe hou sy steeds vol ek was arrogant.

’n Nuwe werk

Teen die einde van my tweede jaar het ek besluit om nie die onderwys my loopbaan te maak nie. Met die hulp van ’n matriekklasmaat, Buddy Page, wat by die departement van mannekrag in Port Elizabeth gewerk het, het ek ’n pos by General Tyres gekry. Met ’n salaris van R180 per maand is ek as produksieklerk aangestel in die produksiebestuurder se kantoor. Ek kon, met my pa se hulp, vir my ’n nuwe Ford Anglia koop teen R1 007. Die Ford Anglia was ook die motor waarmee Amelia leer bestuur het.

My werk het vereis dat ek die helfte van my werksure op die fabriekvloer deurbring en daarom het ek die meeste van die werkers leer ken. Dit was warm, gehalte-mense; die sout van die aarde. Dis waar ek vir oom Paul ontmoet het — ook ’n na-oorlogse boereseun wat in die stad sy heil met sukses kon handhaaf.

Ons het baie familiesake en boerderystories gemeen gehad. Baie van sy stories stem ooreen met myne, soos oor die Joemanie-vulstasie op Sidwell waar ons elke maand op die boek petrol ingegooi het. Dit was die dae toe ek met R17,50 se petrol Cradock toe – 260 km ver – kon ry.

Die Baaienaars was lief daarvoor om Saterdag- en Sondagaande window shopping in Hoofstraat te doen.

Danksy my betrokkenheid by al die produksievoormanne het ek wonderlike verhoudings opgebou en etenstye gehoor van die nuwe huise wat hulle teen R27 000 met ’n maandelikse paaiement van R27 gekoop het. Oom Paul se voorman, Alex Smit, was die trotse eienaar van ’n nuwe wit Studebaker Lark, wat sowat R1 600 gekos het. Dan was daar Pottie, ’n binnebandvoorman, wat op ’n plaas naby die Koega-hotel met varke geboer het. Hy was sowat 50 jaar oud en het daagliks met ’n groot motorfiets werk toe en terug gery. Hy het ook ’n vryery aan die gang gehad met Maureen, ’n kantoordame wat sy vrou geword het.

’n Nagklub haal die nuus

Oom Blikkies en sy vrou, Paulene, het ons as hul stadskinders aangeneem. Oom Blikkies het my baie gehelp en geleer van motorenjins. Hy was ook my mechanic toe ek met die warmgemaakte Anglia op St. Albans aan motorwedrenne deelgeneem het. By General Tyres was daar natuurlik ook ’n tegniese kant wat na die gehalte en ontwikkeling van bande moes omsien. Daar het ek die stoutgatte Danny en Alex ontmoet, asook Arno Crous, die hoof van die laboratoriumafdeling.

Tussen my en Arno het ons ’n rugbyliga-aand van 1962 tot 1964 begin. Spanne soos Ford, BKB, die Spoorweë en General Motors het deelgeneem. Ek en Arno het by Diaz-rugbyklub gespeel en ook baie veerpyltjies en snoeker gespeel. Dit was nog in die dae toe ons rugbytoksakke sommer in ons motors se kattebakke gebly het. Ons het twee keer per week saans ná werk klub toe gegaan om te oefen vir Saterdae se wedstryde. Ek en Amelia en Arno en sy vrou, Sampie, het hegte vriende geraak en baie gaan dans by onder meer die Seaview-hotel en die Gamtoos Ferry-hotel.

Ons het ook ’n Chinese nagklub wat naweke kabaretvertonings en Chinese etes aangebied het, besoek – die mans in pakke en die vroue in lang aandrokke en lang wit handskoene. Een spesifieke Saterdagaand was ons weer daar, net om die Maandagoggend die hoofnuus in die Herald te lees: “Night Club closed due to cat carcasses found in fridges.” Nodeloos om te sê, daar was ’n goeie ontspanningsplek daarmee heen.

Ons was ook inry toe; ons het toegang betaal, maar kon nie veel vertel van die fliek self nie.

In daardie jare was daar natuurlik nie televisie nie. Ons vermaak was die bioskope, soos die Grand, 20th Century, Savoy en Embassy. Die Baaienaars was lief daarvoor om Saterdag- en Sondagaande window shopping in Hoofstraat te doen, motorsport op St. Albans by te woon en naweke langs die see by King’s Beach en Humewood deur te bring. Ons was ook inry toe; ons het toegang betaal, maar kon nie veel vertel van die fliek self nie. Baie getroudes het piekniekmandjies saamgeneem, ’n kombers oor die motor se bonnet gegooi en saam met hul vriende die fliek-piekniek geniet. Die storie is geïnspireer deur Deon Strydom se verhaal “My Oom Paul”, wat in Landbouweekblad van 20 Januarie 2017 verskyn het.

Pieter en Amelia Botha woon vandag op Jeffreysbaai, maar speel steeds rolbal by Westview in Port Elizabeth. Hul oudste kleinseun het onlangs ’n honneursgraad aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit voltooi en ’n betrekking in Kaapstad aanvaar. Hul wens is dat hy net so ’n goeie ervaring het om eendag te vertel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.