Daar is so baie prentjies en gedagtes wat deur Mariska Conradie se kop maal. Die afgelope paar maande was van die besigste in haar hele lewe. Nie net besig nie, emosioneel uitmergelend. Sy kry net nie kans om alles te verwerk wat met hulle gebeur het en om behoorlik tot verhaal te kom in hul nuwe omgewing nie. Hul nuwe blyplek het net twee kamers. Daar is dus geen privaatheid as sy die behoefte het om vinnig ’n paar snikke te gee nie.

Sy het hom gister geweeg en afgeneem. Haar forsgeboude, sterk man. Haar brawe held. As sy dit nie self meegemaak het nie, sou sy dit seker ook nie geglo het nie. Sy transformasie het immers voor haar eie oë gebeur. Eers 27 kg in net drie weke en nou, ’n maand en ’n half later, is hy altesaam 32 kg ligter. Hy was nie eens werklik oorgewig nie. As hy nou deur hul vorige tuisdorp, Bultfontein, moet ry, sal daar mense wees wat hom sekerlik nie sal herken nie.

Hulle het die familieplaas verloor. Otto, wat bekend was as ’n uitstekende melkboer, lief vir sy personeel, sy koeie en sy grond, moet van voor af begin. Hoe ding ’n pa van vyf jong kinders, wat sy hele lewe lank nog net geboer het, mee met enkelmanne wat papiere agter hul naam het?

Mariska sien die prentjie van hoe sy en hy saans by die kombuistafel gesit en vir hom ’n CV probeer opstel het. Om hulle het die bokse gestaan soos hulle begin pak het sonder om te weet waarheen hulle sou gaan. Nou is hulle hier. God het vir hulle ’n uitkoms gegee, al is dit ’n hengse aanpassing vir Otto om nou vir iemand anders te moet boer. Vir ’n salaris. Vir kos en klere en medisyne vir hul kinders.

Skool toe gaan is steeds nie ’n moontlikheid nie. Die skoolgeld het hopeloos buite bereik geraak. Mense het van boere in die droogte se gespartel begin hoor en daar het skenkings gekom wat groot uitkoms in tye van ernstige nood was.

Trane van verligting en dankbaarheid het vinnig weer trane van radeloosheid en ’n gesmeek na God geword. Watter hulp hulle ook al gekry het, was net nooit genoeg om weer iets nuuts op die been te bring nie. Die agterstand het net al hoe groter geraak, die mure wat jy moes uitklim om daglig te sien, gladder en hoër. Het sy nie self saam met haar pa probeer om met varke te boer en sodoende ook ’n geldjie in te bring nie?

Maar skenkings raak ook op en die veld om hulle het steeds soos die Kalahari gelyk. Die beeste was so maer, dit het seer gelyk. ’n Tyd daarna het hy vir haar gesê sy moet liewer gaan. “Ek kan jou nie die lewe gee wat jy verdien nie.”

Nee, sy het nie van hom af weggegaan nie. Droogte of te nie. Ware liefde, het sy lankal besluit, is sterker as droogte. Sy het te lank gewag om gelukkig te wees om sommer net tou op te gooi. Mariska hoor van die kinders na haar om die huis roep, staan op en stof haar sitvlak af. “Ek kom!” roep sy en klouter rats by die leertjie op.

Vir oulaas dink sy aan hul trek hierheen. Ná die laaste van hul goedjies opgeveil is, het hulle met enkele artikels van hul plaas op Bultfontein af weggery. Sy sien flitsbeelde van hoe haar man vir oulaas oor die erf gestap het, hande in sy baadjie se sakke. Dit het haar hart aan flarde geruk. Die rouheid van die smart wat sy selfs oor ’n afstand in sy lyf kon lees.

Jy sou nooit daai oggend gesê het hy was maar ’n man in sy vroeë dertigs nie. Otto Conradie staan en rook in sy kombuisdeur op Bultfontein. Oor die telefoon het ek gedink ek praat met ’n ou man. ’n Moeë ou man wat dalk ’n grys stoppelbaard en hangsakke onder sy oë het. Die sterk man wat my buite by die voertuig kom ontmoet en ferm bladskud, het nie dadelik by die stem gepas nie.

Otto Conradie is dankbaar vir die droogte, want dit het hom op ’n geestelike pad geplaas wat hy “nooit besef het so lekker kan wees nie”.

Otto het met beeste, skape, mielies en sonneblomme geboer voor die droogte ’n woestyn om sy huis kom aanlê het. Hy het ook ’n suksesvolle melkery gehad. Ek wonder hoekom hy ingestem het om ’n onderhoud te doen, maar besluit om nie te vra nie. Noudat ek hom in lewende lywe sien, klink hy nie meer so murgleeg soos op die foon nie. Hy praat stadig en denkend. Strepe van wroeg lê oor sy gesig.

“Tesame met die droogte is Oupa dood – kyk, ons is ’n baie hegte familie – en die boerdery is maar ons almal saam. En toe Oupa nou dood is, toe is daar vreeslike boedelgoete. Die oumense het mos nie vir daai goed voorsiening gemaak nie. Toe is daar lelike, groot boedelgeld wat betaal moet word, maar jy het nie ’n oes nie en kan dit nie betaal nie. Ek het my melkkudde vreeslik groot uitgebrei met die hoop jy gaan nou deur daai droogte- tydperk kom, want ek ken ’n melkery. Ek weet hoe dit werk.

“Nou het ek die boedelgeld. Jy het nie oeste nie en daai veelening wat in sy glorie is. Met Oupa se dood word die helfte van die grond aan kinders gegee wat nie boere is nie. Ek is nie kwaad daaroor nie, ek bedoel maar net, jy het die helfte minder grond en vee. Alles is só,” wys hy, sy vingers teen mekaar. “En dís toe waar dinge platgeval het. En ja, hoe om daaruit te kom, weet ek nie.”

Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het, was toe die melkkopers in Oktober 2018 laat weet het hulle gaan nie meer melk by hom oplaai nie. “Hulle redeneer dis vir hulle goedkoper om melk in die Oos-Kaap te gaan haal as hier. Nou ja, 3 November 2018 was die laaste maal wat die lorrie ingery het om melk te trek. ’n Melkkoei moet daagliks gemelk word. Jy kan haar nie net gou-gou afsit tot jy weer iemand gekry het nie. Jy kan hulle nie aanhou voer wat jy hulle moet voer nie. Jy kan nie elke dag die krane oopdraai dat die melk op die grond uitloop nie. Jy moet dit verkoop. En dit was toe my doodsteek.

“Ek is een van daai outjies wat nogal bang is om in die moeilikheid te kom. Jy verkoop daarom jou trekkers en jou werktuie om uit die moeilikheid uit te bly en om aan die lewe te bly, maar jy kom net nie weer voor nie.

“Wat het jy ’n maand nodig vir huisgoed? Jy kan nie sonder Eskom gaan nie. Jy moet medies hê. Die seuntjie het chroniese medikasie nodig. Jy moet eet. Die skool is vreeslik. Die skoolgeld is vreeslik. Jy móét dit hê. Ek is nog een van daai ouens wat glo aan ’n polis sodat hulle nie moet sukkel as daar iets met my gebeur nie. Daai nodige goedjies moet tog daar wees.

“En die mense wat nog werk. Ek wéét, ek wéét (hy tik hard op die tafel), as ek hom laat loop – hy gaan nie werk kry nie. Hy gaan daar op die dorp sit en ook maar vergaan. Jy probeer hulle ook aan die lewe hou. Ek moes al van my werkers laat gaan omdat ek nie meer ’n melkery het nie. Ek het agt manne gehad wat vir my gewerk het. Nou het ek drie oor.

“Ek kry daai mense jammer. Ek is nog baie in kontak met hulle. Nou en dan as ek met een praat, dan sê hy, hy weet nou nie meer hierdie maand nie. Dan gaan laai ek ’n sak meel af. Hoe gaan slaap jy vanaand as jy weet hy gaan honger slaap? En sy kindertjies gaan honger slaap. Die ding is moeilik. Dit het ’n wye effek na buite. Dit raak nie net ons hier in hierdie huisgesin nie.”

Otto praat sag asof rustige woorde die sweepslag van die verskillende skokke waarmee hul lewe gelooi is, minder erg sal maak. “Jy weet, ek moet nou by dieselfde plek begin waar ek begin het die dag toe ek uit matriek gestap het. Al verskil is, ek het nou ’n vrou en kinders. As jy alleen is, skiet ’n tarentaal en vreet die ding, en jy oorleef. Maar met kinders en ’n vrou? Die slegste is, jy kan niks begin nie. Niemand gun jou iets nie.” Hy vertel hoe vernederd hy voel om ’n CV te moet opstel.

“Ek het nooit gaan swot nie. Ek wou boer. Jy het ’n foto van jouself en jou naam, en dan staan daar matriek. Die outjie wat geswot het, wat ’n landboudiploma het, is baie meer werd as ’n ou wat sy lewe lank boer en die ding ken. Jy kry nie werk nie, want jy het nie ondervinding met papiere nie. Weer eens, hoe moet jy dan ondervinding opbou as jy nie iewers mag begin nie?”

Is jy kwaad oor die droogte? “It’s an act of God. Ek is nie kwaad nie. Inteendeel, ek is baie bly oor die droogte. Dit het my ’n bietjie mens gemaak. Daar is ouens wat vir my kwaad raak as ek dit sê, maar vir my is dit een van die wonderlikste dinge wat gebeur het in my lewe. Ek het verkeerd gelewe. Ek het hoog gelewe. Maklik gelewe. As jy ’n ding wou hê, het jy hom gaan koop. Jy ry na Ford toe en jy maak ’n EFT en jy ry uit met ’n nuwe bakkie. Ek was nooit ’n ryk mens gewees nie, maar verstaan mooi, ek het altyd geld gehad. Ek het nooit geworry nie, nie een keer in my lewe, oor hoe ek iets gaan betaal nie. Daar was geld.

“En toe kom al hierdie dinge. Daai oggend toe ek by Spar instap en kyk waar is die goedkoopste botter, nie die een waarvan ek hou nie, toe begin ek besef, orraait, hier is moeilikheid. Sondag ná kerk toe jy die eerste keer vir jou kinders sê ons koop nie ’n koeldrankie nie, want jy kan nie. Dis wat ek bedoel as ek sê ek is bly oor die droogte. Dit het jou oë laat oopgaan. As jy op ’n dag kom waar jy jou kind moet vra of jy die geld, wat jy al twaalf jaar lank vir hom spaar om universiteit toe te kan gaan, vir lone mag gebruik . . .”

Ek voel ’n tjankerigheid in my keel opstoot. “As daai klein laaitie langs jou staan by die veilingskraal en vra: ‘Pappa, hoekom verkoop Pappa my beeste?’ ”

Otto vee oor sy neus en snuif. Hy vertel een maand het hy ál sy kinders se spaargeld gevat. “Die heel eerste ouens wat ek aan die einde van elke maand betaal, is my werkers, want hulle is vir my die heel belangrikste mense. En ek kon nie.

“En hier bel ’n Strauss my. Hy het ’n goeie druiwe-oes gehad en hy het R20 000 waarmee hy iemand wil help. En hy het nou al ’n paar maal vir die Here gevra ‘wys my wie’, en elke keer kom my naam by hom op. Waar hy my naam vandaan kry, weet ek nie, want hy is van Kakamas. Daar het ek toe daai maand lonegeld. Sulke ouens, sulke ouens,” vryf Otto oor sy hande en ek sien sy oë huil.

“Weer eens sit ek eendag en wonder: Jy weet jou lewenspolis is reg. Jy weet as jy iets oorkom, word ál jou skuld betaal en jou vrou gaan genoeg geld hê om vir ’n paar jaar aan te gaan. En dit begin vir jou ’n opsie word. ’n Uitweg. Om iets oor te kom. Want dan is jou kinders versorg. Jy maak die somme van vyf kinders se skoolgeld. Dis ’n lelike hoop geld.”

Hy streel weerskante van sy gesig oor sy baard. Die oë lyk ’n bietjie asof daar lig inkom. Otto Conradie het ’n wonderwerk ervaar. “Een oggend word ek wakker met hierdie bedrag in my rekening!”

Hy weet toe nog nie van waar dit gekom het nie. “Dadelik dink jy aan watter skuld jy eerste gaan afbetaal. Kan ek nie maar ná al hierdie jare my kinders see toe vat nie? Jy het nou ’n hoop geld.”

Hy besluit toe om sy kinders se skoolgeld eerste daarmee te vereffen. “Daar is ál hierdie ouens wat vir jou stukkies gee. Ek het eendag vir iemand gesê dis soos ’n toolbox. Elke spanner het sy eie werkie; ’n 13-spanner kan nie ’n 24 se boutjie losmaak nie. En ek voel Jesus het ’n toolbox en daar waar iemand stukkend is, stuur Hy een van sy spanners om te gaan regmaak.

“Ek dink ek moet seker baie verskillende sizes moertjies hê,” sê hy en krap met ’n laggie agter oor sy kop, “want daar is verskillende spanners wat na my toe kom om te help regmaak. Maar ek wil ook eendag ’n spanner wees!”

Nieteenstaande alles waarvan hy my vertel het, lyk dit of Otto homself in ’n vroliker bui gepraat het. Twee blonde dogtertjies met slaapgesiggies en pap poniesterte kom maak gou vir hulle elkeen ’n broodjie. “So, ek sien die droogte as ’n baie goeie ding. Ek stap ’n wonderlike pad. Vir die eerste keer in my lewe is ek nie skaam om te sê ek is op ’n geestelike pad wat ek nooit besef het so lekker kan wees nie. Jy weet, ’n mens kom nie agter hoe waardevol Jesus in jou lewe is tot Hy régtig die enigste ding is wat jy het nie.”

Mariska bekyk haar wegkruipplek. Sy wil met ’n skoppie en borseltjie afklim en die hopies blare wat mettertyd ingewaai het, begin skoonmaak. Die Bybel sê mos: Roep die dinge wat nog nie is nie asof dit reeds bestaan.

Al het veediewe gisteraand weer op die plaas probeer toeslaan waar Otto nou voorman is, het sy vanoggend met nuwe prentjies in haar kop opgestaan. Dinge wat sy nog nie kan sien nie, maar wat sy wéét in die geloof sterk op pad is. “Maak jouself solank reg,” praat sy met die leë swembad, “want een van hierdie dae kom jy vol water!”

Nuut op die rakke

Net voor die droogte my breek deur Anoeschka von Meck. Uitgewer: Christelike Lektuurfonds. Prys: R299.

Anoeschka von Meck het na plekke soos Calvinia, Gamoep, Bultfontein, Jansenville en Aberdeen gery om boere, vasgevang in een van die ergste droogtes in menseheugenis, se verhale van hoop op te teken. Die droogte het mens en dier op hul knieë, en stories van boere wat nie ’n ander keuse het as om op te pak en weg te trek nie, is volop.

In dié swaarkrytye reik mense egter steeds na mekaar uit en knyp ’n paar rand af om droogtehulpfondse te ondersteun of ’n vrag voer te skenk. Dit is inspirerende en aangrypende stories van hoop oor mense wat steeds vorentoe beur ten spyte van swaarkry. ’n Deel van die boek se opbrengs word aan die droogtehulpfonds geskenk.