As Heman so stoei met die slaap, beleef hy weer oor en oor al die plae wat Egipte die afgelope maande teister. Toe dit ’n rukkie gelede helder oordag skielik donker word, was hy juis in die veld met die skape. Hy’t hom boeglam geskrik, want geen ster of maan was sigbaar nie. Nou lê hy en wonder hoe lank hierdie plae Egipte nog gaan teister, en of Farao wel eendag sal ingee en die Israeliete sal laat trek.

Sy ingewande ruk toe die geknars van voetstappe sy gedagtes onderbreek. Hy kom vinnig orent, gereed om homself en die skape te verdedig, toe hy sy pa in die flentertjie maanlig sien naderkom. “Vader,” praat hy fluisterend. “Ek het u nie hier verwag nie. Is iets verkeerd?”

Serag kyk na sy dertienjarige seun, skud sy kop, en skuif langs hom in. Dis sy eersgeborene, sy lieflingkind, sy enigste seun.

GOD SE BELOFTE

“Nee, Heman, ek wou maar net ’n bietjie met jou kom gesels. Is alles reg met die skape en met die jaaroudlam wat ons uitgesoek het vir die Paasete? Is hy nog gesond?”

“Abba, ek hou bedags ’n spesiale ogie oor hom. Hy’s pragtig en sonder gebrek, en beslis die beste en mooiste in ons hele kudde. Ek het hom drie dae gelede al heeltemal afgesonder om seker te maak dat hy niks oorkom nie.”

Serag se bors swel van trots, want hoewel sy seun maar nog ’n kind is, kan hy hom met so baie grootmensdinge vertrou. “Ek het juis kom vra of jy hom môre sal slag en gereed kry vir die Pasga as ek te laat is. Mamma en jou susters sal hom gaarmaak. Ek gaan my bes doen om betyds terug te wees van die steengroewe af, want dis ’n takie wat ek graag self wil doen.”

Heman draai hom skuins. “Vader, is dit regtig waar dat Adonai ons van die juk van Farao gaan verlos en aan ons ’n beloofde land gaan gee?”

Heman ken sy vader as ’n hardekop, maar in sy hart is hy ’n goeie mens. Daarom kan hy maar padlangs praat. Serag antwoord met oortuiging in sy stem. “Ja, Heman, môrenag vier ons Pasga. Elke keer het Adonai wanorde in die natuur gebring en Farao en sy Egiptiese gode uitoorlê. Deur God se toedoen het die ‘Nylgod’ rampe gebring pleks van voorspoed. Pleks van vrugbaarheid het die paddas siektes gebring, en die mag van Ra, hul songod, is uitgewis deur die plaag van duisternis. God het Farao toegelaat om te wees wat hy wou wees; hom sy sin gegee sodat Adonai se mag uiteindelik vir almal duidelik sou wees. Ek hoor dat selfs van die Egiptenaars hulle laat besny het uit vrees dat hul eersgeborenes sal sterf. Hulle wil glo ook die Pasga, soos deur Moses voorgeskryf word, eet.” Daar is opgewondenheid in die seun- stem en hy kan nie help om stilweg te glimlag nie.

“En gaan hulle ook die deurposte met bloed bestryk soos die Israeliete? Ek moet seker ook bloed in ’n bakkie opvang as ek die lam slag sodat vader later die deurposte daarmee kan smeer?”

Die onderdrukte bewing in Serag se stem ontgaan Heman nie. “Ek glo nie God het regtig aan Moses so ’n opdrag gegee nie. Die res van Moses en Aäron se verduideliking oor die betekenis van die Pasga verstaan ek baie goed. Ek glo dit kom van Adonai af. Maar om die bloed aan die deurposte te smeer, klink vir my baie onsinnig en oppervlakkig. Dis Moses en Aäron se idees, nie Adonai s’n nie.”

Heman staar verbaas na sy pa. “Vader, ek is nie net u enigste seun nie, maar ook u eersgeborene. Ek wil nie graag doodgaan nie. Asseblief, vader, doen dit ter wille van my.”

Serag draai na Heman. “Moenie dinge bevraagteken wat jy nie verstaan nie, Heman! Ek is ook jou oupa se oudste seun, of het jy dít dalk vergeet? As my oordeel verkeerd is, is my eie lewe mos ook in gevaar. Die Israeliete is Adonai se uitverkore volk. Maar dat die lammetjie en sy bloed heenwys na ’n Verlosser vir die hele wêreld, is wat my betref, loutere onsin. Adonai ken mos ons harte, en basta nou met jou twyfel en bekommernisse.”

Dan plaas Serag sy hand op sy seun se skouer en gee dit ’n ligte drukkie. “Nag, Heman.”

’n Vlieswolk skuif voor die maan in toe die nag Serag insluk. Heman gaan lê weer op sy plek voor die hek, en die beklemming slaan opnuut op. Toe die slaap hom eindelik oorval, is dit ’n rustelose, deurmekaar slaap.

NAG VAN GENADE

Dis die veertiende dag van die maand Abib. Die aandskemering verdiep en Heman staan stil en nietig buite hul huis. Binne hoor hy sy vader, moeder en sussies gedemp gesels. Weer kom sit die angs in sy keel. “Adonai, wees my asseblief in hierdie nag genadig,” stuur hy ’n stille skietgebed op.

Die geur van gebraaide lamsvleis prikkel sy neusgate toe hy die deur effens oopdruk en by sy familie aansluit. ’n Olielamp stoot die ergste duisternis weg. Die groot nag het byna ’n tasbare stilte gebring. Sy hele gesin is ten volle geklee, asof hulle binnekort op ’n lang reis gaan.

Terwyl hulle eet, verduidelik sy vader aan hulle die betekenis van die Pasga, soos Moses en Aäron dit aan die manne oorgedra het. Die Paaslam versinnebeeld Adonai se beskerming en voorsorg vir sy volk Israel, die bitter kruie herinner aan hul lyding in Egipte, en die plat, ongesuurde brode aan die haas waarmee hulle gaan vertrek.

Hoe meer die donkerte die huis bekruip, hoe onrustiger en gejaag raak Heman. “Sal die doodsengel vannag by ons huis verbygaan?” stapel die woorde in sy kop. Dit bly in sy keel vassteek. Daar’s die soutigheid van trane in sy mond, want hy is bang hy verloor sy vader, en hy is ook verskriklik bang om dood te gaan.

Middernag sluip stadig nader. ’n Gil in die verte sny deur die nagstilte, en skok en hoendervleis gaan deur die hele gesin. Sy moeder staar beurtelings na hom en sy vader, en begin dan huil – nie hard en driftig nie – maar sag en moedeloos. Heman kyk onderlangs na sy vader. Serag se oë is hartseer, en vanaand lyk hy oud en onseker, so asof hy verskeur is tussen vrees en afwagting. Nog ’n gil en gekerm word gehoor, hierdie keer heelwat nader, sodat Heman se hele liggaam bewe en sy keel toetrek.

“Die engel van die Here is op pad, maar hy sal elke Israelitiese huis oorslaan. Ek en Heman is besny. Dit sal vir die engel ’n teken wees dat die inwoners van hierdie huis in God glo en Sy opdragte gehoorsaam. Ons geloof in Hom sal ons vannag red,” dink Serag.

Hulle eet in stilte verder. Wat hou hierdie nag nog vir hulle in? Die dood is so naby, en daar’s ’n onverklaarbare pyn in Heman se bors. Hy ruik sy vader en besef met ’n skok dat dit sweet van angs is, want sy geswete hand is styf om sy kierie geklem. Hy sien die spanning in sy kake.

“Heman, my eersgeborene, moeder en kinders. Vergewe my, asseblief. Ek besef nou dat ek ongehoorsaam was aan Adonai. Heman en ek moet vannag die prys vir my koppigheid en ongehoorsaamheid betaal. Tradisie is minder belangrik as gehoorsaamheid aan Adonai. Niks wat ek voorheen in die naam van Adonai gedoen het, tel in hierdie nag nie. Ek móés die bloed aan die deurposte gesmeer het soos God deur Moses beveel het, maar nou is dit ongelukkig te laat. Dis net die bloed van die lam wat ons van die dood kon red, en nie ons tradisies en gebruike nie. Ek glo nóú dat God eendag ’n Verlosser sonder gebrek aan die hele wêreld sal skenk. Al wat ek van almal vra, is dat julle my sal vergewe vir my hardkoppigheid en onbesonnenheid.”

Heman laat sy kop op sy bors sak toe die gehuil en gille erger word namate die engel huise binnegaan. Sy moeder se gesig het die kleur van die dood, haar oë is donker, sonder lewe, soos twee poele waarin daar geen weerkaatsing is nie. “Abba.” Heman praat sag, maar tog só dat almal hom kan hoor. "Ek was ook ongehoorsaam aan u. Ek het gevoel dat ek meer gehoorsaam aan Adonai moes wees as aan u. Vergewe my, asseblief. Ek het vroeër vanaand ’n hisoptakkie gevat en ons deurposte met bloed bestryk.”

Serag staan op en trek sy seun teen hom vas. Dan breek die wal finaal, sy skouers ruk en trane loop oor sy wange, oor sy baard. Dit drup op Heman. “Jy was reg, my seun. ’n Mens móét meer gehoorsaam aan Adonai as aan enige mens wees. Jy het vannag ons lewens gered. Ek besef nou dat hierdie Pasga die geboorte van ons volk se siel is. Ek glo ook nou, soos Moses en Aäron, dat Adonai eendag ’n Lam sal stuur om uit liefde vir die wêreld Sy lewe te kom opoffer. Laat ons ’n danklied sing tot eer van Adonai.”

Kobus Steyn was 33 jaar in die onderwys voor hy in 1996 afgetree het. Hy woon tans op ’n sitrusplasie naby Mooinooi.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.