Hier in die Sandveld, waar ons woon, is alle water brak of pekelsout. Die boere wat nie in die rivier ’n put het nie, moes desjare met die stamper-boormasjien na water soek. Van die boorgate is meer as honderd meter diep, soos op ons plaas, waarvandaan al ons water kom.

Ons vars en drinkwater word vanaf die dak in tenke opgevang. Toe ons as kinders grootgeword het, het ons huisie nog nie ’n tenk gehad nie en moes my ma elke oggend by my ouma ’n emmertjie vars water vir ons gesin gaan haal. Dit was hopeloos te min vir ons gesin, want Pa met sy groot maag het ampertjies die emmer alleen uitgedrink.

As jy per ongeluk ’n bietjie drinkwater laat stort het, het Pa jou aangeskrou asof jy ’n misdaad gepleeg het. Toe ek volwasse word en gevoelens begin kry, het ’n nooientjie van die Boland op Garies kom skoolhou en sy moes gou leer dat die dorp ook net brak water het.

Ons is later getroud en toe ons ons huisie op die plaas beplan, was ons kinderlik opgewonde toe ons nessie voltooiing nader. Saam het ons beplan om ’n groot tenk te bou en onafhanklik te wees met ons vars water. Langs ons huis het ek ’n diep gat vir die tenk gegrawe, want almal glo ’n sementtenk moet ondergronds wees.

Ek het ongelukkig op ’n rotsplaat afgekom en toe ’n betonfondasie gegooi en besluit om dit nog hoër bo die grond uit te bou. Toe die tenk klaar was, moes ek met ’n lang leer na bo klim.

Vol tenk raak leeg

Toe dit die winter begin reën, het ek ná elke reënbui nuuskierig in die tenk gaan loer. My vrou het nog ’n jaar lank skoolgehou, maar groot was ons opgewondenheid as sy die naweek huis toe kom en ons die water met die lang stok gaan meet. Die stok was later vol kerfies soos ek dit met my knipmes afgemerk het ná elke reënbui.

Die dag toe die tenk oorloop, was hier op ons werf dubbele vreugde, want ook ons eerste pienkvoet was op pad. Die einde van daardie jaar het my ronde vroutjie plaas toe gekom en kon sy elke aand in vars water bad. Die somer het aangebreek en ten spyte van die vol tenk, het ons suutjies met ons kosbare vars water gewerk.

Februarie is in hierdie streek alom bekend as die warmste maand waar die kwik tot bo 40 grade styg. Middel Februarie daardie jaar het die son behoorlik dooierus gevat en was die hitte byna ondraaglik. My jong vroutjie het die middag gaan rus en ek het ’n draaitjie om die huis gestap.

Toe ek ’n entjie van die tenk was, verbeel ek my ek hoor iewers water loop. Ek draai my kop effe skuins om te luister en toe spring ek weg en draf om die tenk. Dit was asof ek ’n pyn in my binneste kry toe ek die stroom blink water sien wegloop. Tot my teleurstelling sien ek dat die tenk se een hoek oopgekraak het.

Koorsagtig druk ek my hand teen die bars, maar besef dis ’n onbegonne poging om die water te keer. Ek maak vinnig die deksel oop en my moed sak in my skoene toe ek die water daar onder sien lê. Ek besef ek sal iets drasties moet doen, anders loop al ons water weg.

Ek draf na my stoorkamer waar ek nog ’n halwe blikkie Secomastic kry wat ek aan die asbesgeute se lasse gesmeer het toe ek dit opgesit het.

Ek is skoon verward toe ek weer by die tenk kom en sien hoeveel water nog steeds uitloop. Ek besluit wat ek nou gaan doen, moet my geheim bly, want my Bolandse vrou sal mos nooit weer die water gebruik as sy weet ek was met voete en al binne-in ons drinkwater nie. Die verleentheid dat ek dalk by ander moet gaan water leen, maal deur my kop en ek skop vinnig my skoene uit.

Mooi ondergoed

Ek dop my uit my klere dat ek net in my rooi onderbroek staan. Daar kom ’n selfvoldane glimlag op my bakkies, want my vroutjie het gladsemaal ná ons troue vir my ook mooi onderklere begin koop en die meeste was rooies . . . gevaarlik! Ek kyk na my bruingebrande jongmanslyf en is nie min trots op my gespierde arms en bene nie!

Ek klim haastig op die tenk, maar die sinkplaat brand my voete dat ek vinnig weer afspring. Ek skud my kop toe ek na die klein opening kyk en besef daar’s nie nou tyd om ’n leer onder in die stoor te gaan haal nie. Ek gooi my klere op die warm plaat en loer skelmpies huis se kant toe. Met die blikkie in my een hand hang ek soos ’n vlermuis aan die balk aan my ander hand.

Stadig sak ek af, maar die tenk is so diep dat my voete nog nie water raak nie. Ek laat los en toe my voete die bodem raak, klots die koue water hierbo aan my kaart en transport. Nou staan ek op my tone se punte soos ’n wafferse balletdanser, want ek sien in my verbeelding my vrou se gesig as sy weet waar die water oral was. Stadig beweeg ek na die hoek van die tenk en bekyk die skade voor ek begin smeer.

Dis baie donker in die verste hoek en ek besef ek sal ’n duik moet maak, want die bars is veel dieper as wat ek vermoed het. Ek vat ’n hand vol pasta, knyp my oë toe en duik af. Toe ek weer asem gaan skep, betrag ek uitasem my poging. Teleurgesteld skud ek my kop, want plek-plek is dit langs die bars.

Ek krap alles met my vingers uit en wend weer ’n laaste poging aan. Terwyl die water van my gesig af stroom, strompel ek platvoet na die deksel waardeur die blou lug daar ver bokant my loer. Ek skud my nat kop, want ek besef dat, ten spyte van my dapper poging, dit onsuksesvol blyk te wees.

Boer soek ’n plan

Toe ek onder die opening staan, besef ek met ’n skok dat ek mos nie hier kan uit nie, want ek het ’n leer nodig. Ek kyk na my witbesmeerde hand en gooi moedeloos die leë blik buitentoe. Ek staan onder die deksel en sê vir myself: “Jy het nog altyd ’n plan gehad . . . hoe’s dit dan vandag?”

Ek raap my op en spring vir die balke, maar kry nie my skouers deur die nou gat nie. Later word my arms lam en ek val weer af. Toe praat ek ernstig met myself: “Jy moet wragtag sorg dat jy hier uitkom, netnou vang jou vrou jou hier.”

Nou beplan ek my uitklim – ek moet spring en die balke vang, myself optrek en dan eerste my voete tussen my arms uitstoot en myself uitskiet om soos ’n kat op my voete te land. Dis al manier hoe dit kan werk – mits ek op die regte oomblik ook my hande laat los. Alles werk soos beplan en my tydsberekening is perfek, maar in die geharwar het ek ’n wyle vergeet van die stel trappe wat ek voor langs die tenk opgebou het.

Terwyl ek deur die lug trek, flits nog planne deur my kop, maar ek is magteloos om my landing te beplan. Ek gil toe my regtervoet die kant van die boonste trap tref en my voet se ligament skeur soos ’n been wat breek. Ek kantel agteroor en kom op my sitvlak te lande met ’n verblindende pyn in my voet.

So lê ek met my seer voet in die lug en sien hoe dit begin swel. Ek maak oergeluide van die pyn en begin stadig op my sitvlak huis se kant toe seil, terwyl die nat sand in my onderbroek ophoop en soos ’n baba se doek net al groter word. Dis asof ek nou van die verblindende pyn boedel oorgee en dit ook nie meer saak maak of sy van alles weet of nie.

Toe ek weer my oë oopmaak, staan my ronde vroutjie hoogs bekommerd bo my en vra: “Bokkie, wat het jy nou aangevang?” Noodgedwonge moes ek met die hele sak patats vorendag kom. Gelukkig het sy alles verstaan en my ’n paar dae lank lekker bederf, terwyl ek moes rondhuppel op een been.

Nou, ná byna vyftig jaar, is my ou bene al stram en styf. Ek dink nog baie dae aan hierdie episode in my lewe en dit speel weer voor my geestesoog af. Al verskil is dat die rooi onderbroeke later jare moes plek maak vir ander kleure en strepies. Te pragtig. Maar deesdae is alles swart.

Ek wonder hoekom? Dit laat my onwillekeurig dink aan die roubande wat die omies doerie jare gedra het as hulle ’n dierbare verloor het.

Gert Sarrisam is Gert Engelbrecht wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreistories het al uit sy pen verskyn. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa.net of skakel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.