‘Wat gaan ek met jou maak? Luister wil jy nie. Jy weet Alfa Laval-melkmasjiene is duur. Dis mos nou heeltemal onnodig om alles stukkend te skop! Jy ontstig en ontstel almal om jou. Ek verstaan dit nie. Jou ma was ’n ordentlike koei met respek vir alles en almal om haar. Waar kom jy vandaan met al jou dinge?

“Dalk is dit die kos. Ek het weer na die kragvoer gekyk, maar dis tog gebalanseerd en verteerbaar. So, dís nie waar die fout lê nie. En jy kry genoeg. Ruvoer is ook volop, en jy wéét dis goeie lusern.

“Terwyl ons nou van kos en water praat, niemand kan dit waag om met jou mee te ding om kos, water en koelte nie. Jy sal moet werk aan daai selfsugtige streep. Alles is partykeer net joune. Dan is daar die melkterughouery van tyd tot tyd. Ek glo nie jy het begrip vir al die groot rekeninge wat betaal moet word nie. Jy kán kanne vol melk gee as jy wil, en waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Kom ons stel dit beter: Waar daar geen wil is nie, is daar net een weg, en dis slagplaas toe.

AGTERGRONDMUSIEK

“Dalk lê die probleem by die agtergrondmusiek. Kanon in D-majeur kan seker vervelig raak as ’n man dit te veel hoor, maar ou Pachelbel was nie stupid toe hy dit gekomponeer het nie. Ek kan in elk geval sien die ander koeie geniet dit. Waar val jy dan uit?

“Dalk moet ek die musiek afwissel met Creedence se “Have you ever seen the rain” op full volume? Maar ek wil nie die ander koeie ontstel nie. Vergeet dus daarvan, die musiek gaan nie verander nie!

“Jy weet ek is ’n rustige ou, maar jy is besig om my op te charge. Die dokter het juis anderdag gesê my bloeddruk is ’n bietjie hoog.

“So, my liewe koei met die baie melk en baie nonsens: ek watch jou! “Laat ons mekaar nou mooi verstaan, hou so aan met jou ondankbaarheid, en jou tyd is min op hierdie plaas. Klaar gepraat!” Henk Buytendag is ’n afgetrede boer van Oos-Londen. Hy reis graag en is lief vir musiek.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.