Desperaat van Nylstroom, skryf in September 1986:

Ek slaak ’n sug van verligting toe ’n Evkomvoertuig sowat nege maande nadat ek krag “belowe” is, op die plaas stilhou. Wat ’n ontnugtering! Drie voertuie later kon die groot taak begin. Drie nie-opeenvolgende dae word gebruik om die kraglynposisie te bepaal, wat enige private opnemer en twee helpers met een bakkie ’n dag sou neem.

Nou net wag op die stootskraper. Net toe ek moed verloor, daag dié op. Die eerste dag vorder hy so ’n derde van die afstand tot by die eerste stat, waar daar om sowat 11h30 vir die dag uitgespan word. Die volgende dag word daar wonderlike vordering tot by die huis gemaak, waar die enjin so teen 14h15 vir die dag afgeskakel word . . .

Die opvolgspan bring ’n week of wat later die pale en boute. Tog jammer ’n mens kon nie vooraf bepaal hoeveel pale nodig sou wees nie, maar dis seker te veel gevra . . . Intussen het die masjien wat die pale plant, darem in ’n dag twee pale in sandgrond geplant, en is toe sowat ’n week gelede vir herstelwerk weg.

Wat te erg is, is darem te erg! Hoeveel geld- en tydvermorsing ek nog sal moet deurworstel voor ek ééndag ’n knoppie sal kan druk, wil ek nie eens waag om oor te bespiegel nie, maar ek is daarvan oortuig dat privatisering hier ’n moet is!

Landbouweekblad vier in Mei 2019 sy eeufees. Dié brief is in September 1986 in Landbouweekblad gepubliseer.