As jy van die Kaap se kant op die R62 by Calitzdorp inry, is Die Bakhuis @Axe Hill, op linkerkant, net die regte plek  vir ontbyt, middagete of varsgebakte brood.

Terwyl jy oor die olyfbome in die ri- vierbedding na die kerktoring in die verte kyk, tiekiedraai die reuke van varsgemaalde koffie met varsgebakte brood wat in die bakoondjie gebak word. In die oop pizza-oond smeul die kole, gereed vir die volgende lekkerbek-pizza.

Die ontbytgeregte van Die Bakhuis is nie die gewone nie. Yuriëtta Stevens, een van die vier eienaars, se resepte en samestellings maak dit moeilik om te kies tussen die boere-ontbyt met lamsrib en boerewors, of die omelet met salami, olywe, tamatie, mozzarella en tuisgebakte brood. Of my gunsteling: die biltongbroodjie op ’n bakoond-rolletjie met dijon-mosterd, mozzarella en gekaramelliseerde uie.

’n Mens wag ietwat langer hiervoor, want die bakoond-rolletjie word vars gebak. As jy so nuuskierig soos ek is, gaan kyk jy hoe die hele proses verloop: Van die deeg uit die kombuis kom, tot die stroperige uie oor die gesmelte mozzarella geskep word. Hier sal jy geen winkelbrood kry nie, alles word elke dag vars gebak.

’n Horingoue bier-yskas teen die growwe mure van die opgeknapte huisie.

Die bakspan gebruik net Eureka se klipgemaalde meel. Die aartappelbrood met sy taai korsie en sagte binnegoed is een van die redes hoekom mense weer en weer hier stilhou. Al die resepte is Yuriëtta s’n en sy en die kombuisspan bak alles self. Sy het vir etlike jare in Bloemfontein troukoeke gebak en spyseniering vir groot onthale behartig.

Vir suikertande is die tuisgebakte Franse roosterbrood met heuning en vars vrugte of kaneelsuiker ’n wenner. Die kaas kom van Ladismith en die heuning van boere in die omgewing.

Op warm Karoodae is die smoothies en melkskommels met vars vrugte baie gewild. Henry Gerber, mede-eienaar en barista, se espresso-melkskommel is ’n vertroostende, dik melklekkerte met ’n stewige koffieskop by.

Middagetes is plaasborde vol heilsaamheid met lamstjops, trinchada of espetada wat oor die kole gebraai word, met ’n bakoond-rolletjie of dik, handgesnyde skyfies. ’n Plaaslike boer lewer die lam af.

Ook die pizzas bied ongewone kombinasies, soos gepluisde skaap en chorizo of geroosterde eiervrug met songedroogde tamaties, olywe, kappertjiesaad en parmesaan. Die tamaties kom van Laborate Farm, ’n klipgooi weg, en word deur Douglas Momberg, een van die baristas se pa, gedroog.

Dié biltongbroodjie op ’n bakoond-rolletjie met dijon-mosterd, mozzarella en gekaramel- liseerde uie is ’n gunsteling-ontbyt, boonop met ’n bakkie yskoue druiwe daarby.

Soos plaaswinkel van ouds

Die gerestoureerde werkershuisie se mure is vol ou emaljeborde — daar is selfs een vir die ou Calitzdorp-wynroete. ’n Horingoue, budjieblou bier-yskas teen die ongelyke mure en onder ’n rietplafon kan jou laat glo jy staan in ’n plaaswinkel van jare gelede – kaalvoet en grootoog. Een van die mede-eienaars, Lebrun Rossouw, het self die restourasie behartig en die oudhede is sy eie versameling.

Voor, neffens die kasregister, staan rooi plaastamaties bolwang in draadmandjies. As jy dit teen jou neus druk, ruik jy die Karooson en ’n soetigheid wat dit moeilik maak om nie jou tande daarin te slaan nie.

Dieppers eiervrugte in ’n houtkrat staan in skerp kontras met die kartonhouer vol stroopsoet hanepoot wat smeek om in jou kattebak te spring. Eiers van vrylopende hoenders van ’n nabygeleë plaas is ook beskikbaar.

Outydse verebeskuit wat met suurdeeg gebak en met anys gegeur word, karringmelk- beskuit en konfyt kom van ywerige vroue op die dorp. Yuriëtta se ma, Annette Bazzard, maak gepekelde produkte, mosterd en blatjang, en haar broer, Ferdinand de Klerk, maak allerhande interessante speserymengsels.

Oulike geskenke is te kies en te keur, soos gebreide skapies van die Murraysburg Fat Sheep-opheffingsprojek. Daar is ook gehekelde kombersies, vatlappe, inkopiesakke en draadmandjies — produkte wat deur plaaslike mense vervaardig word.

Die Bakhuis het vinnig ’n lojale ondersteunerskorps opgebou, met plaaslike inwoners wat soggens vroeg vars brood kom koop. En hulle kan nie verkeerd wees nie.

Navrae: 064 961 7574.