Leef lig: Vyf gewoontes van die vroeë kerk en wat dit vir ons vandag beteken deur Jaco Strydom. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R200.

By Moeder Teresa se bedieningsplek in Indië het Jaco Strydom destyds gedink: “Wat het van ons geword as hierdie abnormaal is? Moet dit nie oral so wees nie?”

Strydom is die leier van Echo-jeugontwikkeling, ’n omgee-organisasie met 13 huise reg oor die land wat ’n tuiste bied vir jong mense in nood en projekte by verskeie skole aanbied.

Deur saam in een huis te bly en in mekaar se lewens te deel, help hulle mekaar deur die lewe se donker dieptes. Hy is ook deeltyds betrokke by die Villiera-gemeente.

Dit is juis by die leiers van die Echo-gemeenskap waar Strydom “die mees basiese gewoontes van volgelinge van Jesus” geleer het. In sy jongste boek, Leef Lig, sit hy dan hierdie gewoontes uiteen en vertel die stories van die Echo-engele vir wie onbaatsugtigheid skynbaar natuurlik kom. Hul inspirasie is Jesus en die gewoontes van die vroeë kerk.

In Handelinge staan daar dat die Christene, namate die Pinkstergebeure ontvou het, vyf gewoontes begin uitleef het. Hulle sonder hulle af in gebed, hulle raak van materiële besittings ontslae en reis lig, hulle deel wat hulle het sodat niemand tekort het nie, hulle is goed vir hul vyande en hulle gee om vir die wêreld.

Strydom moedig lesers aan om hierdie gebruike in hul eie lewens toe te pas en daarmee vol te hou tot dit ’n gewoonte raak, want dán vind geestelike groei plaas.

Soldaat deur Reynardt Hugo. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R220.

Soldaat deur Reynardt Hugo. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R220.

Reynardt Hugo het geen bekendstelling nodig nie. Jare lank speel hy al die rol van dr. Tertius Jonker in kykNET se gewilde sepie Binnelanders. Hy het ook die land vermaak as deel van die suksesvolle popgroep ADAM.

Maar agter dié oopgesig-ster se bekendheid het ’n moeilike stryd gelê. Op die oog af het dit gelyk of Reynardt met die goue lepel in die mond gebore is en dat sy vele talente vir hom heelwat deure oopgemaak het. Sy ouers se egskeiding toe hy nog ’n jong kind was en drankmisbruik in hul huis het egter sy merk gelaat.

Hy het na sin en betekenis in drank, dagga, vroue en pornografie begin soek – dermate dat hy op die rand was om alles waarvoor hy só hard gewerk het, te verloor.

Danksy die ondersteuning van sy geliefde, An-Maré Roothman, en ’n psigiater by Denmar-hospitaal in Pretoria, het hy die hulp en medikasie gekry wat hy nodig gehad het. Dit het ook tot sy bekering gelei, ’n stap wat weer betekenis aan die akteur se lewe gegee het.

Reynardt skram nie weg daarvan om oor sy donkerste ure te skryf nie, maar wei nie onnodig uit nie. Uiteindelik is sy verhaal een van hoop, wat veral die evangelie van Jesus Christus verkondig en ander inspireer om ook hul lewens ten goede te verander.

Op ’n boekmerk wat saam met die boek versprei word, skryf Reynardt: “Kies liefde, want liefde maak heel.”