Wat maak jou geskenkwinkel uniek?

Ek glo elke vrou het ’n droom. Binnenshuise versiering, ’n kwas, ’n blik verf en ’n kussing is in my bloed. By In Die Hartjie gaan dit dus nie net oor die besonderse handgemaakte geskenk wat jy kan koop nie, maar ook oor kleurskemas wat jou siel goed doen.

Ons bied ook koffie en kolwyntjies vir klante om te geniet terwyl hulle in die winkel rondsnuffel. Ek het die winkeltjie in 2017 begin – in ’n vertrekkie so groot soos ’n skoenboks! Dit was ’n regte krapwinkeltjie, want ons vroue hou mos van rondkrap!

Wat verkoop jy alles?

Hoewel ek wyd voorraad aankoop, hou ek graag handgemaakte produkte, soos beddegoed, speelgoed en houtartikels, aan. Ek sorg dat daar kort-kort iets ouliks op my rakke is om mense te lok.

Vertel ons van die winkel se naam?

Ek is ’n regte plaasjapie wat van Thabazimbi se wêreld kom. Ná skool het ek binnenshuise versiering gedoen, en jare later op Middelburg beland. Ek is uit my skoene uit geseën om ’n plekkie soos In Die Hartjie hier in die hart van die Karoo te kan bedryf. Boonop lê dit diep in my hart!

In die Hartjie
Anel Ackerman is ’n kreatiewe mens, wat lank van haar eie geskenkwinkel gedroom het.

Hoe help die winkel jou gemeenskap?

Ek ondersteun graag ander Karoo-vroue wat pragtige produkte maak. Hulle is dikwels plaasvroue wat graag ’n ekstra inkomste wil verdien. Een van hulle is ’n vriendin wie se lekkergoed, Soetbekkies, ’n spesiale hoekie in my winkel het.

Neem jy mense in diens?

Wilna Labuschagne help soggens in die winkel, en in die middae is dit my beurt. Dit kan ’n gesukkel wees om die regte hulp te kry. Ek het na iemand gesoek wat my liefde vir kleure en produkte deel. Wilna woon al haar lewe lank op Noupoort, maar ry daagliks haar kleinkinders aan skool toe op Middelburg.

Sy het ’n tydverdryf nodig gehad terwyl sy vir hulle wag. Sy’s ’n absolute seën! Terwyl sy soggens werk, kan ek na my dogters (een is in die hoërskool en die ander twee is drie en vier jaar) omsien. Dis soms ’n geskarrel om alles en almal op een dag ingepas te kry, maar ek kry dit darem reg!

Hoe maak jy seker jy skeep nie jou gesin of jou besigheid af nie?

Ek stel daagliks vir myself en vir die winkel ’n doelwit. Tot dusver het ek dit in 90% van die gevalle bereik. Dit help my om ’n goeie diens te lewer en ook vir my gesin beskikbaar te wees.

Hoe het jy die winkel gefinansier?

Dogters lê mos na aan ’n pa se hart, en gelukkig was my ouers in die posisie om my te help om my droom te bewaarheid. Dis ’n groot voorreg.

In die Hartjie
Talentvolle vroue uit die Karoo lewer onder meer handgemaakte produkte aan die winkel, waar Anel smiddae aan diens is.

Wat is die grootste struikelblokke om ’n onderneming op die platteland te bedryf?

In ’n stadium was dit die droogte, want ’n geskenkwinkel is ’n luukse. Ek is egter elke dag met ’n dankbare hart in die winkel en probeer almal help – al kan hulle nie dadelik betaal nie.

Op die platteland moet jy jou klante gelukkig hou deur die regte pryse vir jou produkte te vra. Net omdat jy op die platteland is, hoef alles nie duurder te wees nie – dan gaan jou klante in elk geval eerder ondernemings in die stad ondersteun.

Watter raad het jy vir plattelandse vroue wat met ’n onderneming wil begin?

As jy dinamies genoeg is, sal jy ’n manier vind, ongeag uitdagings wat oor jou pad kan kom. Moenie toelaat dat iemand jou vertel jou idees kan nie werk nie. Dit kán, jy moet net ’n plan beraam. Enigiets sal werk as die wil daar is. En natuurlik is genade van Bo jou uitkoms!

Het jy enige toekomsplanne vir In Die Hartjie?

Elke besigheid moet kan uit- brei, en ek beoog om materiaal en unieke wol te begin aanhou. Ek dink dit behoort goed te doen, omdat ek handgemaakte produkte verkoop.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.