Daar is definitief iets “anders” omtrent die gholfbaan by Lost City. Die hele Lost City-kompleks, van die groot klubhuis wat geskoei is op die Zimbabwe-ruïnes tot die dramatiese ontwerp van die putjies, is juis beplan om jou visueel te beïndruk. En dít teen sowat R1 000 per ronde (selfs die juniors moet R500 per kop opdok)!

Dit klink duur, veral noudat Sun City bemark word as ’n gesinsvakansieoord, pleks van ’n dobbelplek, maar dis ’n lekker baan om op te speel in ’n mooi omgewing teenaan die Pilanesberg- Nasionale Park. In die hoogsomer kan die bosveld amper ondraaglik warm word en dan is Sol Kerzner se Valley of the Waves dalk ’n beter opsie as die baan. Kies dus die koeler maande om te kom speel.

Woestynbaan met water

Volgens die Amerikaanse begrip kan die baan seker as ’n woestynbaan beskryf word, maar dit het genoeg waterhindernisse, kinkels en draaie. Gelukkig is die skoonvelde breed. Baie van die bowwe kyk af op die skoonveld. Jy kan daarom jou bal langer in die lug dophou.

Dit dra by tot die genot en speelbaarheid van die baan. Van agter af strek Lost City se baan byna oor 7 000 m, maar daar is natuurlik ’n keuse van bowwe om jou spel te pas en jy word verplig om ’n gholf- karretjie te huur.

Afrika-setperk

Die bekendste putjie is die dertiende (syfer 3), waar die groot setperk in die vorm van Afrika gebou is en deur ses sandkuile omring word.

Daar wag ook ’n klomp krokodille op jou gholfballe in ’n diep waterput. ’n Japannees het blykbaar daar ingeklim, salig onder die indruk dat die ongediertes maar net glasvesel-namaaksels is, soos baie van Sun City se versierings.

Hy is glo weer bitter vinnig daar uit . . . Die eerste nege putjies begin met ’n gemaklike, reguit syfer 4-putjie van 382 m en eindig met ’n syfer 4-putjie van 450 m wat jou ’n pragtige uitsig gee in die rigting van die klubhuis en die dam.

Nommer 12 is die kortste syfer 4 – net 332 m – maar dit is téén die bult met diep sand- kuile links en regs. Nommer 18, ’n indrukwekkende syfer 5-putjie van 485 m, loop parallel met die negende langs die water af, klubhuis toe. Saam is dié twee putjies nogal aanskoulik, veral as jy op die stoep sit en jou telkaart deurgaan.