Die Simola-gholflandgoed by Knysna lê tans sewentiende op Golf Digest se ranglys vir die beste Suid-Afrikaanse gholfbane. Dit is een van ses bane in dié spesifieke deel van die Tuinroete wat onder die toptwintig tel.

Gholflandgoed-eienaars beskou hierdie ranglys as baie belangrik, veral omdat buitelandse toeriste dit gebruik om te besluit waar hulle wil speel en tuisgaan. Dit help ook die klubbestuurders om hulself te vergelyk met ander bane in dieselfde klas.

Gewoonlik is daar bitter min verskil – dikwels net ’n paar punte – tussen die topbane. So kan Fancourt se Links dalk 70 uit ’n moontlike 80 punte behaal, teenoor die baan wat die 100ste plek beklee met 50 punte uit 80. Die verskil lê dikwels slegs in die baan se ontwerp, wat afhang van die argitek.

Jy sien die Knysna-strand-meer, die Knysnarivier en die Koppe van die baan af.

Simola het ’n uitleg wat eie is aan Jack Nicklaus (dit was ook sy eerste ontwikkeling in hierdie geweste). Die baan smelt behoorlik in by die terrein. Die syfer vyf-putjies het klein setperke, omring deur sandkuile wat ook as teikens of merkers dien vir naderhoue. Daar is strategies geplaasde skoonveldkuile en heelwat hondebeen-putjies, wat links én regs draai.

Die setperke het subtiele hellings wat noodsaaklik is om die balletjie goed te plaas om drie sette te vermy. Benewens die bofhou op die veertiende, waar jy net die vlaggie kan sien, is daar geen blinde hou nie (soos die geval op menige kusbane). Net hierdie aspek alleen maak die moeilike spel al heelwat makliker.

Die tweede putjie, ’n syfer vier, se bof sit hoog bokant die setperk, maar vereis ’n reguit bofhou as jy die vlaggie met ’n kort yster wil aanval. Die syfer drie-putjies is betreklik lank, hoewel twee van hulle afdraande speel.

Verder van die see

Wat Simola onderskei van die ander gesogte bane in die omgewing, is dat dit effens weg lê van die see af in ’n meer bergagtige landskap.

Die meeste putjies (en die halfpadhuis) is onder in ’n vallei, waar jy deur dennebome speel en gewoonlik beskut is teen die kuswinde.

Die klubhuis en hotel is op ’n koppie gebou en troon ver bokant die baan uit. Die baan is vanselfsprekend altyd in ’n goeie toestand. Al speel jy die dag nie goed nie, vergoed die asemrowende uitsig daarvoor.

Jy sien die Knysna-strandmeer, die Knysnarivier en die Koppe van die baan af. Simola kan tot 6 350 m lank gerek word vir mans en is 4 600 m van die voorste vroue-bowwe af.

Navrae: Tel. 044 302 9677.