Hoe het jy as gastehuiseienaar betrokke geraak by die vervaardiging van herbruikbare sakke?

Ek en my man, Dick, bedryf al 14 jaar lank Rolbaken Country Guesthouse. Ons het tot verlede jaar met vrylopende skape, hoenders en eiers geboer, maar weens die droogte moes ons ons laaste skaap verkoop. Ons staak nou alle boerdery-aktiwiteite en maak hoofsaaklik op die gastehuis en ander projekte staat vir ’n inkomste.

Dit pla my al jare dat die laerskoolkinders van die plaaslike plaasskool nie die mas opkom wanneer hulle moet aanbeweeg na graad sewe nie. Hulle beland dan op omliggende plase, sonder ’n opvoeding en met baie beperkte vooruitsigte. Dít, tesame met plastiekbesoedeling, was die sneller vir die onderneming.

Ek het twee vroue geleer om naaldwerk te doen en ons het verlede jaar ’n bietjie werk vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gedoen. Ek wou nie die opleiding verlore laat gaan nie en daarom het ons herbruikbare inkopiesakke be-gin maak. Ons eerste sakke was van skoolrokmateriaal, met mooi sakkies waarin die sakke gevou kan word.

Die besigheid is in Junie verlede jaar gebore toe drie vroue in Toekomsrus, op Oudtshoorn, vir Rethink Bags begin sakke maak het. Ons was gelukkig om ’n bestelling van die Gouritz Cluster Biosfeer-reservaat te kry, asook ’n toelaag van R50 000 om ’n paar naaimasjiene aan te skaf.

Hoekom is dit vir jou belangrik om ander vroue te bemagtig sodat hulle entrepreneurs uit eie reg word?

Ek moes al meer as een keer in die lewe van nuuts af begin. Daar is miljoene vroue wat gesinne moet versorg, maar sonder ’n akademiese agtergrond of iets anders om ’n beter lewe vir hul kinders te bewerkstellig, moet hulle raap en skraap om te oorleef.

Deur Rethink Bags leer hulle ’n nuwe vaardigheid aan, waarmee hulle betekenisvol vanuit hul huise kan werk, boonop met die wete dat iemand hulle ’n kans gee om hul finansiële en persoonlike situasie te verbeter.

Hoe skakel die vroue by die projek in?

Die vroue word deur ander in die groep aanbeveel, of hulle hoor van die projek en kontak my. Ons leer eers die vroue hoe om ’n naaimasjien te gebruik, sakke te vou en met mates en vasspeld hand by te sit. Daarna begin hulle met makliker takies, totdat hulle die hele sak kan maak en selfstandig of as deel van ’n groep kan werk. Die meer ervare vroue werk saam met die beginners en ek help met opleiding en nuwe vaardighede.

Teen einde Maart was ons agt stiksters, een wat voltyds materiaal sny en ’n assistent wat leer hoe om patrone uit te sny. Daar is minstens vier vroue wat tans wag vir naaimasjiene en opleiding. Die vroue word betaal per sak wat hulle maak. Hulle werk dus vir hulself. Almal werk van die huis af, of as deel van ’n groep by iemand se huis. Ons het tans vyf sulke werkstasies, maar droom van ons eie fabriek met ruimte vir baie groepe, borduurgeriewe en meer.

Die sakke is nie net ’n slim sake-idee nie, maar skep ook ’n beter toekoms vir behoeftige vroue in die Klein-Karoo.

Wat is jul grootste struikelblokke?

Vir die vroue is dit werkstoestande. Een vrou woon in ’n sinkhuis van 3 m2 saam met haar man en drie kinders. In die somer is haar huis warm gebak en wintertyd is dit yskoud, beknop en donker. Hulle soebat my om ’n plek te kry waar ons almal saam kan werk. Vyf van die vroue is die hoofbron van inkomste in die huis; vir ander is dit die enigste geld behalwe die maatskaplike toelae wat hulle kry.

My struikelblokke is kontantvloei, tyd en die struikelblokke wat nuwe ondernemings bring, soos kontrakte, uitvoerpermitte en burokratiese rompslomp wat dit so moeilik as moontlik maak vir ’n klein onderneming. Dis ’n ewige stryd om elke week die sak-aankope gestand te doen en die materiaal- en naaldwerkvoorraad aan te vul.

Naaimasjiene is nog een van ons struikelblokke en dit verhinder my om meer vroue op te lei. Ons bestee tans geld op herstelwerk, terwyl ons eintlik ’n paar nuwe masjiene kort. Wanneer ek wil tou opgooi, dink ek net aan waar die vroue woon en waarmee hulle daagliks te doen kry. Dan weet ek dis die moeite werd om aan te hou baklei.

Wat van finansiering?

Aanvanklik het ek self die projek gefinansier. Ek sal altyd dank- baar wees vir die toelae wat ons gekry het. Dis nie maklik om iets soos hierdie op die been te bring nie. Dit verg kapitaal en slurp baie geld op. Ons kon tot dusver oor die weg kom met verkope en persoonlike geld. Almal is betaal en ons het gegroei as ’n onderneming.

Maak ons geld? Nog nie. Alles wat ons maak, gaan reguit terug na Rethink Bags. Finansiële beperkings staar ons in die gesig, maar ons is vol moed dat die kontakte wat ons op vanjaar se KKNK gemaak het, en ander belangstelling in ons sakke, ons die hupstoot gaan gee wat ons nodig het.

Hoe lyk die sakke wat julle maak?

Ons konsentreer veral op ons Pocket Bag-sakke. Dis anders as ander inkopiesakke, want dis lig, kompak en bekostigbaar. Ons maak dit van sterk en duursame valskerm-materiaal. Dit vou in ’n mooi sakkie op, wat kleiner is as ’n R10-noot. Jy kan dus altyd een byderhand hê, en hoef nooit weer ’n plastieksak te gebruik nie.

Waar kan ’n mens die sakke koop?

Bestel dit deur ons webwerf (www.rethinkbags.co.za). Ons het ook verkoopruimtes in vyf winkels op Oudsthoorn en in ander dele van die Wes-Kaap wat ons sakke aanhou. Ons sal binnekort ook aan ’n boetiek in die Water Shed (by die Kaapse Waterfront) voorsien.

Ons het al sakke na Amerika en Switserland gestuur nadat mense dit op Facebook gesien het. Tot dusver het verskeie ondernemings ons ook ondersteun deur van die sakke, met hul logo’s op, as geskenke vir kliënte of op kor- poratiewe geleenthede te gee.

Wat is die belangrikste les wat jy geleer het sedert Rethink Bags se ontstaan?

Wees dankbaar en moenie oor jou omstandighede kla nie. My ergste dag lyk soos ’n piekniek vergeleke met wat die vroue moet deurmaak. Wat vir my niks is nie, is vir hulle baie. Ek het ook geleer om die veerkragtigheid en deursettingsvermoë te bewonder wat hierdie droom in ons wakker gemaak het.

Wat is die waardevolste entrepreneursadvies wat jy vir die vroue gee?

Niks val uit die lug uit nie. Om jou eie besigheid te bestuur gaan oor beplanning, begroting en harde werk. Ons moet die beste sakke moontlik lewer. Swak gehalte sal ons nooit bo uit- bring nie. Ons moet met slegs die beste tevrede wees. Glo in jouself en jou vermoë. Niks is onmoontlik nie. Hou daarom die droom altyd lewend in jou hart.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.