Fransie Rossouw het van die Strand af Hopefield toe getrek om haar kinders op die platteland groot te maak. Sy het begin om troeteldiere te teel en in 2011 het sy ’n klein koffiewinkel en kwekery oopgemaak. Gou het sy besef sy kan nie regtig genoeg aandag aan gaste én diere gee nie, en ’n vriendin het met die troeteldiere aangegaan.

Fransie het die Plaasmol-padstal uitgebou tot ’n koffiewinkel, restaurant en lokaal vir troues, onthale en motorfietssaamtrekke. Haar suster bedryf nou die kwekery. Sy gebruik net herwonne materiaal en doen die meeste van die bouwerk sommer self.

Dié koel sitplekke by die Plaasmol-padstal is ’n goeie voorbeeld van wat met herwonne materiaal gedoen kan word.

Tjipnessies

Plaaslike produkte, lekker koffie, koek en pasteie laat die rakke kreun. Daar is ook ’n kwekery met ’n groot verskeidenheid vetplante, diere en voëls.

Tuisgemaakte produkte van die Hopefielders, skilderye deur lede van die Weskusgilde en vars groente wat kleinboere van die omgewing kweek, is eie aan die padstal. Hulle maak ook “tjipnessies”, ’n bord met fyn varkvleis, maalvleis of hoender met sous, uie en knoffel op ’n nessie van aartappelskyfies.

Fraai kinderklere is van die unieke handgemaakte produkte wat jy by die padstal kan koop.

’n Tweede lewe

Skoolgroepe en jong entrepreneurs besoek gereeld die padstal om meer oor praktiese herwinning te leer. Heelparty plaaslike skole en ander organisasies gebruik die padstal se saal vir hul gesellighede.

Die verskillende “vertrekke” met sitplekke vir privaatheid (en handhawing van persoonlike afstand weens Covid-19-maatreëls), die feit dat alle boumateriaal en meubels herwin is en hier ’n tweede lewe kry, en lekker koffie en koek maak van Plaasmol iets besonders.

Die padstal het ’n yslike pizza-oond, ’n tamaai rooi stoel in die agterplaas en ’n vliegtuig wat eens by Ratanga Junction gestaan het.

Plaasmol het ook speelparktoerusting vir die kleinspan, daar is baie plek om rond te hardloop en kinders kan na die hoenders en ganse gaan kyk.