’n Slang en ’n byenes, onder meer. As jy ’n slang sien, gaan roep jy jou pa. As jy bye rondom ’n nes gewaar, loop jy ’n wye draai en verder los jy hulle in vrede.

Ek het gewoond geraak aan die sagte gedreun buite my kamer en later half van die bye vergeet. Tot ek op ’n dag die miere gesien het wat rondom ’n paar goue druppels op die stoep skarrel. En, wraggies, as jy mooi gekyk het, kon jy ’n stukkie heuningkoek tussen die afdakplanke en die muur sien uitsteek.

My pa het ’n man gebel om die bye te kom verwyder en die heuning uit te haal. ’n Groot, glimmende koek vol. Daardie heuningkoek het my gefassineer. Dit was die eerste keer dat ek een van naby gesien het. Die perfekte silindriese wasselletjies – elkeen ewe groot en gelykvol heuning. Waar kom dit vandaan? Hoe word dit gemaak? En hoe kry hulle dit so wonderlik soet?

My ma het die heuningkoek in kleiner stukke gesny en daarvan in haar groot koekbak-sif oor ’n glasbak in die son laat staan. Kort voor lank het die helder heuning uit die waskoek begin drup. Sy het dit gebottel en die res het ons net so geëet. Stukkies heuningkoek afgesny en gekou tot net ’n klein klontjie in jou mond oorgebly het en jy soet was tot agter jou ore.

Baie jare later is ek nog net so gefassineer en nuuskierig oor heuning. Die wonder van die goue, soet stroop wat op ’n misterieuse manier deur ’n swerm klein insekte gemaak en opgeberg word in ’n wasstruktuur wat geen argitek beter kon ontwerp nie. Wanneer jy oor heuningbye begin oplees, staan jy verstom oor die kompleksiteit van dit alles.

In 2013 het ek en kosfotograaf Myburgh du Plessis die kans gekry om saam met Jap Hickman, ’n afgetrede sakeman en byeboer van die Sandveld, te gaan heuning uithaal. 

Toe ons daar tussen die korwe staan en Jap se handlanger, Basie, die roker vol goiingsak prop en dit aan die brand steek, het my bene effens begin bewe. Al het ons almal beskermende klere en dik handskoene aangehad, is daar maar iets in jou agterkop wat jou laat wonder hoe baie dit gaan help as ’n swerm bye op jou toesak . . .

En toe Jap boonop sê dat koue, bewolkte weer, soos daardie dag, seker die slegste weer is vir heuning uithaal – omdat dit te koud is vir die bye om te werk en hulle waarskynlik almal tuis is – het ek begin wonder hoe vinnig ek sal kan hardloop met die byepak aan...

Maar ten spyte van ’n paar bysteke was dit ’n ongelooflike ervaring om die binnewerking van ’n byekorf van nader te kon beskou en eindelik meer te kon leer oor hoe heuning gemaak word.

Met ’n mandjie vol suiwer Sandveld-heuning is ek terug toetskombuis toe om ’n paar resepte te maak waarvan heuning die sterbestanddeel is. Soet-sout piekniekhoenderboudjies, ’n vars perskeslaai, ’n maklike teebroodjie en meer. Van al die resepte is my gunsteling die Bienenstich, wat regstreeks vertaal “bysteek” beteken.

Die sublieme koek verg geduld om te maak, maar as jy die gis tyd gee om sy werk te doen en nie die prosesse in die resep afjaag nie, gaan jy beloon word met een van die heerlikste kombinasie van smake. Geniet dit!