Vir die 77-jarige mnr. Vic Biggs het sy lewenslange passie vir rotskuns begin toe hy as elfjarige seun ’n paneel met tekeninge op die plaas Gaikaford langs die Groot-Keirivier ontdek het. Hier op die oewer van een van die Oos-Kaap se groot grensriviere – waar daar in die 19de eeue talle gevegte tussen die Engelse en die Xhosas was – is waar Biggs se oupa, mnr. Robert Acton, hom grootgemaak het ná die skielike dood van sy pa, Groot Willie Biggs.

Aangevuur deur die stories oor sy legendariese oupagrootjie mnr. Francis Acton het Biggs die geskiedenis van sy familie ingedrink, asook van dié afgesonderde gebied wat hulle hul tuiste genoem het.

Daar word byvoorbeeld vertel dat Francis in die laat 1800’s handel gedryf het op die oostelike oewer van die Groot-Keirivier in wat toe Fingoland was, en dat hy man teen man teen Xhosakrygers geveg het. Robert het die Acton-tradisie van handel dryf tot in vroeë 1900’s voortgesit, en mettertyd die plaas Gaikaford op die westelike oewer van die Keirivier gekoop.

Die uitsig vanaf die grot in die Xolobe-vallei waar Stow in 1867 twee rotskunstonele opgespoor en gekopieer het. Biggs het hierdie grot weer in die vroeë 1990’s gevind.

Biggs se toevallige ontdekking van Stow se geskrifte en rotskunskopieë in die vroeë 1990’s het hom ’n nuwe grensheld gegee om te bewonder. Dit is dus nie verbasend nie dat hy die rotskuns begin naspoor het wat Stow eens gesien het.

“Stow was spesiaal, want hy was passievol oor die geskiedenis en kuns van die Boesmans in ’n tyd toe die Europeërs hulle uitgewis het,” sê Biggs. “Dit is ongelooflik wat hy in die 19de eeu op die wilde oosgrens reggekry het.”

Stow het byvoorbeeld meer as 150 jaar gelede vele rotstekeninge in die Groot-Keirivier-opvangsgebied opgeteken. In die voorwoord van sy geskiedkundige boek The Native Races of South Africa het Stow geskryf: “Aangesien die tekeninge baie vinnig aan die verdwyn was, het ek besef dit sal wys wees om kopieë daarvan te maak voordat hierdie interessante oorblyfsels van ’n ras wat amper nie meer bestaan het nie, heeltemal vernietig is.”

Dit is hierdie motivering om die kuns van ’n feitlik vergane groep jagterversamelaars, die San, op te teken, wat Biggs so sterk met Stow laat identifiseer.

Biggs sê baie van die tekeninge wat hy later gaan afneem het, het sedertdien verdwyn weens verwering, vandalisme of die gebruik van grotte as krale vir vee. “In baie gevalle is ek die enigste een wat foto’s het van rotskunstonele wat nie meer bestaan nie.”

’n Rotskunstoneel wat George Stow in die 1860’s in die Xolobe-vallei opgespoor het. Foto: lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za

Geen erkenning

George Stow, ’n gekwalifiseerde geoloog, is op 2 Februarie 1822 in Nuneaton, Warwickshire, Engeland, gebore en het in 1843 in Port Elizabeth aangekom. Drie jaar later het hy as vrywilliger in die Sewende Grensoorlog tussen die Engelse en die Xhosas geveg.

Dié ondervinding het sy siening verander oor wie die werklike verloorders in die 19de eeuse grensoorloë tussen die swart en die wit veeboere was. “Ek het geleidelik vas oortuig geraak dat net die Boesmans die werklike eerste bewoners van die land was, en dat al die sterker rasse, sonder uitsondering, net indringers was.”

Van toe af het Stow se belangstelling in die geskiedenis van die San en hul verhouding met die “sterker rasse” ’n obsessie geraak. Hy het inligting uit verskeie bronne uitgesnuffel en rotskuns gesoek terwyl hy op geologiese velduitstappies in die Oos-Kaap, Griekwaland-Wes en die Vrystaat was.

Stow, wat geensins ’n welvarende man was nie, het tussen werkopdragte deur baie ander beroepe beoefen om kop bo water te hou. Hy het byvoorbeeld handel gedryf in Queenstown, was ’n diamanthandelaar in Kimberley en het selfs gedigte gepubliseer.

Die springbokke in Madoor se grot op die Wit-Keirivier naby die Anglikaanse sending­stasie St. Marks in die voormalige Transkei. Stow het hierdie toneel in 1867 gekopieer.

Stow het groot hartseer in sy persoonlike lewe beleef. Eers het hy tydens sy eerste huwelik ’n jong kind verloor, en kort daarna sy vrou en baba met die geboorte van die kind. Dieselfde lot het ’n tweede vrou en baba getref.

Boonop het hy feitlik geen erkenning gekry vir sy historiese navorsing terwyl hy nog geleef het nie. Net twee jaar voor sy dood aan hartversaking op Heilbron in 1882 het uitgewers sy manuskrip Native Races of South Africa afgekeur.

Die Kaapstadse linguïs en etnograaf Lucy Lloyd het egter in sy werk geglo en het nie lank ná Stow se dood nie dié manuskrip en rotskunskopieë by sy derde vrou, Fanny (by wie hy vyf dogters gehad het), gekoop. Lloyd het gesorg dat Stow se The Native Races of South Africa in 1905 postuum gepubliseer is, met ’n voorwoord deur die Suid-Afrikaanse geskiedkundige George McCall Theal.

Toe Lloyd in 1914 oorlede is, het haar niggie Dorothea Bleek Stow se kopieë, natreksels en notas geërf. In 1928 het Bleek ’n epiese tog deur die Oos-Kaap en Vrystaat onderneem om 72 rotstekeninge wat Stow opgeteken het, te probeer opspoor. Sy het dit in 1930 in ’n boek, Rock paintings in South Africa from parts of the Eastern Province and Orange Free State, uitgegee. Dit is gevolg deur Eric Rosenthal en A.J.H. Goodwin se boek Cave Artists of South Africa (1955), waarin 52 van Stow se kopieë verskyn het.

Van die altesaam 124 kopieë van Stow wat in hierdie twee boeke verskyn het (waarvan die meeste in die Vrystaat was), het Biggs 31 gevind, asook twee van die drie wat in Native Races of South Africa verskyn het. Die meeste hiervan is langs die Groot-Keirivier en sy hoofsytakke, die Wit- en Swart-Keirivier, gevind. Drie terreine – een in die Xolobe-vallei naby die Groot-Keirivier, nog een langs die Wit-Keirivier en die ander een by die samevloeiing van die Swart- en die Wit-Keirivier, is om verskillende redes vir Biggs belangrik.

George Stow se kopie van olifante in die Xolobe-vallei. Die regte tekening is vandag nog kwalik sigbaar, maar danksy Stow bestaan daar ’n pragtige uitbeelding van die olifante. Foto: lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za

Die Xolobe-vallei

Kort ná sy ontdekking van Stow se werk het Biggs sy eerste “Stow-terrein” in die Xolobe-vallei oorkant die Groot-Keirivier van Gaikaford gaan soek. Hoewel hy geweet het presies waar die samevloeiing van die Xolobe- en die Groot-Keirivier was, het hy nooit voorheen die ondeurdringbare Xolobe-vallei verken wat aan die ruwe binneland van die voormalige Transkei grens nie.

Toe Vic en sy neef David Acton dus in 1991 met hul plaasbakkie die Transkei binnegeskud het, het die kanse op sukses skraal gelyk. Stow het immers die twee tonele reeds in April 1867 gekopieer.

Verskeie ure later, en net toe hulle op die punt was om tou op te gooi, het hulle op ’n grondpaadjie ’n jagter met ’n trop honde teëgekom. Hy het hulle vertel van tekeninge naby die Xolobe-rivier wat hy eens op ’n tyd gesien het, en ingestem om hulle daarheen te neem.

Biggs se bakkie het uiteindelik tot stilstand gekom bokant ’n groepie rondawels op ’n uitloper van ’n berg wat oor die ongetemde Xolobe-vallei uitkyk. Hiervandaan het hulle hul pad deur ’n stand Aloe ferox-aalwyne in blom na die vallei onder hulle gebaan tot by ’n grot wat duidelik as skuiling vir vee gebruik is.

Biggs se hart het in sy skoene gesak, want hy het geweet watter skade vee aan die tekeninge kon aanrig. Tot sy verligting het hy egter gou sy eerste Stow-toneel, oorheers deur ’n Xhosakryger en drie elande, opgespoor.

Die ongeveer 150 jaar wat verloop het, het egter nie die ander Stow-toneel, oorheers deur verskeie olifante, so goed behandel nie. Die tekening was erg verbleik, en Biggs is baie dankbaar dat Stow dit gekopieer het. “As dit nie vir Stow was nie, sou ons net ’n erg verbleikte weergawe van die olifante gehad het. Pleks daarvan het ons nou ’n manjifieke rekord daarvan.”

George Stow se weergawe van die rotskuns­toneel in die Xolobe-vallei. Foto: lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za

Madoor se grot

Biggs het ’n aantal Stow-terreine naby die Swart- en Wit-Keirivier, wat in die distrik Cathcart saamvloei om die Groot-Keirivier te vorm, besoek. Van al dié terreine is sy gunsteling waarskynlik ’n grot by die Wit-Keirivier naby die historiese Anglikaanse sendingstasie St. Marks, waar ’n goed bewaarde toneel van migrerende springbokke is. Stow het dit in 1867 gekopieer.

Bleek het nie dié grot gevind nie. Die grot het as tydelike tuiste vir die swerwende San-hoofman Madoor gedien toe aartsdeken White in 1855 die St. Marks-sendingstasie gevestig het, en Bleek het aangeneem lede van die Cape Mounted Rifles (CMR) het die paneel kort ná die laaste Grensoorlog (1877-’78) verwyder.

In die vroeë 2000’s het Biggs besef Bleek het haar misgis nadat hy uitgevind het ’n Trappis-monnik en kunstenaar van die Katolieke Kerk, broer Otto Mäeder, het rotskuns langs die Wit-Keirivier opgeteken, onder meer ’n paneel met springbokke. Hy het dit gedoen tydens ’n besoek aan die Keilands- Katolieke sendingstasie langs die Groot-Keirivier in 1913-1914.

Biggs, wat oortuig was dat die tekening nog bestaan, het die Wit-Keirivier twee keer in 2005 besoek. Tydens die eerste besoek kon hy die springbokke nie opspoor nie, maar hy het ’n ander Stow-terrein opgespoor wat deur ’n mitiese renoster en slang oorheers is.

Vir Biggs was die herontdekking van Madoor se grot veral bevredigend omdat aangeneem is die paneel is uit die sandsteen verwyder, maar dit was steeds daar en boonop baie goed bewaar. “Dit was ’n wonderlike ontdekking, veral omdat vermoed is dat dit verdwyn het. Om dit te vind, en met die springbokke in so ’n goeie toestand, was spesiaal.”

Die Wit-Keirivier naby die historiese Anglikaanse sendingstasie St. Marks, waar George Stow twee rotskunstonele gekopieer het. Een toneel was ’n paneel met migrerende springbokke in die grot van die San-hoofman Madoor, wat volgens Stow steeds daar gebly het toe aartsdeken White die sendingstasie in 1855 gestig het.

Die ontwykende Boerekommando

Daar is net ’n paar Stow-terreine in die opvangsgebied van die Groot-Keirivier wat Biggs nog nie kon opspoor nie. Een daarvan, ’n uitbeelding van ’n Boerekommando wat Stow beskryf het as “in ’n diep vallei by die samevloeiing van die Wit- en Swart-Keirivier”, fassineer Biggs steeds.

Die kommandotoneel, wat Stow in 1869 gekopieer het, is geverf in die grot van die San-hoofman Mada’kane, wat eens die hele gebied tussen die Wit- en Swart-Keirivier regeer het. Druk van die Europeërs uit die weste en Temboes uit die ooste het hom gedwing om skuiling te soek naby die samevloeiing van die Wit- en Swart-Keirivier in die onbegaanbaarste deel van die gebied waar hy vroeër regeer het.

Teen die tyd dat Stow Mada’kane se grot besoek het, was die hoofman al dood. Hoewel hy geweier het om kontak met Stow te hê, het Mada’kane se oorblywende ouer broer, Gcu-wa, Stow se gids ingelig dat hy die kommandotoneel geverf het om die Boere se eerste aanval op sy mense te gedenk. Stow het opgelet hoe “twee of drie horing-verfpotte aan sy gordel gehang het”.

Hierdie fassinerende inligting het daartoe gelei dat Biggs al verskeie (tot dusver onsuksesvolle) soektogte by die samevloeiing van die Wit- en Swart-Keirivier onderneem het om die Boerekommando-tekening op te spoor.

Biggs vertel van ’n komende ekspedisie om na die kommandotoneel te gaan soek. “Hierdie keer gaan ons vir ’n paar dae kampeer, dus sal ons meer tyd hê om te soek.”

Want vir Biggs, wat al langer as 50 jaar rotskuns in veral die Oos-Kaap soek en fotografeer, is opgee nie ’n opsie nie.