Die sentrale boodskap van die programme is taamlik eenvoudig en dieselfde, naamlik 20% van die boere in die land verskaf 80% van die voedsel. Hierdie megaboerderye is ingewikkeld, verg goeie bestuur, verskaf werk aan ’n groot aantal mense en lewer meestal ’n bydrae tot een of ander vorm van swart bemagtiging. Kortliks, dit is nie vir almal bedoel nie.

Met die oog op Suid-Afrika se landboutoekoms is dit ook belangrik dat ons kyk na die 80% van boere wat net 20% van die kos lewer. Die grootste gemene deler wat hier ’n rol speel, is dat dié plase van tyd tot tyd aan erge droogtes onderhewig is. Teen dié agtergrond kan ’n mens jouself afvra hoe populistiese politici en dinkskrum-akademici van die ANC hierdie werklikhede beskou.

Die meeste van hierdie mense verstaan nie Afrikaans nie en kyk dus nie na die betrokke televisieprogramme nie. Die meeste van die politici soek kiesers se stemme om politieke mag te behou. Soms kom daar tog idees na vore wat nie so vergesog is nie en wat al deur dinkskrum-akademici uit establishment-geledere voorgestel is.

Breedweg kom gedagtes in dié verband daarop neer dat bestaansboere wat met vee boer, wat nie so kundigheidsintensief is soos sommige ander bedrywe nie, in groot getalle op ’n baie groot oppervlakte gevestig kan word.

’n Mens sou kon vra wanneer daar ’n televisiereeks verskyn oor die 80% van die boere wat vir net 20% van die produksie verantwoordelik is. So ’n reeks moet in Engels wees sodat die beleidsvormers dit ook kan verstaan.

Dit moet spesifiek wys hoe boere en plaaswerkers tydens droogtes oorleef. Die volgende scenario is moontlik vir gewone boere om in droogtes te oorleef: Vee word verkoop sodra of voor ’n droogte toesak. Boere weet byvoorbaat dat ’n groot droogte hul plase van tyd tot tyd sal tref.

Daarom word sover as moontlik gediversifiseer na ander sektore, soos toerisme. Die boer op so ’n plaas kan ook in droogtetye elders ’n inkomste gaan verdien, byvoorbeeld as ’n werker by die koöperasie, garage of winkel op die dorp. In die geval van professionele mense kan hulle moontlik in die stad ’n inkomste verdien. ’n Paar plaaswerkersgesinne bly tydens die droogte op die plaas agter en ontvang ’n salaris van die grondeienaar.

’n Paar melkbokke en hoenders word aangehou om met noodsaaklike kos te help. As goeie reën val, koop die boer weer vee en probeer voluit boer saam met die werkers wat op die plaas gebly het.

Belasting word in goeie winsjare aan die staat betaal. As bestaansboere op plase begin boer, is die volgende scenario ’n sterk moontlikheid: Plaaswerkers wat jare op die plaas gewerk het, moet nou in informele nedersettings op die dorp gaan bly en leef dan onder die broodlyn in absolute armoede.

In droogtetye word staatsubsidies aan boere betaal. In goeie jare word baie min op ’n mark gelewer. Geen belasting word aan die staat betaal nie. Die totale voedselproduksie van Suid-Afrika kan met tot 20% daal.

Die land sal hierdie voedsel wat verlore is, moet invoer om die groeiende bevolking te voed. Verder behoort dit interessant te wees om die bedrywighede in dorpe in dié gebiede te vergelyk voor die oorgang na bestaansboerdery en daarna.

Die instandhouding van infrastruktuur, soos paaie en telefoonlyne, en die grond kan ook vergelyk word. Met grondhervorming het van hierdie scenario’s hulself reeds afgespeel op plase wat vir grondhervorming gebruik is.

Die sakeman en politikus dr. Mathews Phosa is op rekord dat hy gesê het nege uit tien van hierdie plase is mislukkings. Dit behoort verder interessant te wees as ’n televisieprogram van hierdie aard ook kan klem lê op die lewensgehalte van werkers wat vanweë bestaansboerdery in informele nedersettings beland het en onder die broodlyn leef.

Verder is dit interessant dat die meeste mense met wettige grondeise eerder geld as die grond terug gekies het toe hulle voor die keuse gestel is. Teen dié agtergrond begin ’n mens wonder of land hunger werklik so ’n groot kwessie onder arm mense is as wat populistiese politici graag te kenne wil gee.