Ek kom nie van ’n boerderyagtergrond nie, maar die droom was altyd daar. Ná drie van my sewe seisoene by Saracens het ek vir my ’n lappie aarde gekoop 25 km suid van Stampriet in die suide van die Kalahari.

Weens die droogte moes ons die beeste skuif, en ons boer nou met Dorper-Van Rooy-kruisings en onlangs ook met Meatmasters. Hulle is besonder gehard in dié droë toestande. Die ou ooms sê dit was nog nooit so droog nie. Ek het begin boer in ’n tyd dat ek my oë daagliks na die Namibiese hemel moet opslaan.

Ná ’n strawwe 2018 het ons op ’n goeie jaar gehoop. Maar die reëntyd het weer oorgeslaan, en nou hoop ons op ’n vroeë reëntjie in Oktober. My vrou, Lehanie, kom van Stampriet af, en rugby het vir ons ’n wyer wêreld gewys. Ons het ons gesin in Engeland begin. Dit was ’n lang pad tot hier by my Kalahari-vuurtjie.

Ek het ná skool vir die Vrystaatse junior spanne gespeel, maar is met depressie terug Windhoek toe, waar ek ’n jaar lank drukkers en ink verkoop het. Danie Vermeulen het my uit die bloute genooi om vir ’n plek in die toetsspan te speel.

Danie is vroeg in sy 20’s in ’n motorongeluk verlam, maar daar sit hy smôrens 05:00 in sy rolstoel en brei ons klomp amateurs voordat ons werk toe is. Hy’t in my geglo toe ek dit broodnodig gehad het. Ek het gesukkel om in Suid-Afrika ’n vastrapplek te kry; eers by die Griekwas, toe ’n bietjie in Frankryk, en daarna die Bulle.

Brendan Venter het my lewe verander toe hy my saam met ’n klompie onbekende spelers Saracens toe genooi het. Hy’t sterre laat gaan, want hy wou jong spelers hê wat bereid was om hard te werk en daardie ekstra 5% te gee wat vir sterspelers dalk 4% te veel was.

Die Saracens-kultuur word waarskynlik die beste versinnebeeld deur die kleuterskooltjie by die klub. Soggens laai jy jou kinders daar af, oefen, en dan eet jy middagete met jou kind op jou skoot. Dis ’n familie.

Ek was op 28 Saracens se Speler van die Jaar, maar doen toe ’n kniebesering op wat my vir twee jaar uit rugby sou hou. Nogtans het die klub my ’n kontrakverlenging van twee jaar gegee, en dit is die soort vertroue en lojaliteit wat jy nie met geringe toewyding nie terugbetaal. Ek het my loopbaan ná 117 wedstryde daar afgesluit.

Baie mense het my gevra of ek spyt is dat ek vir Namibië toetsrugby gespeel het, want ek sou moontlik vir Engeland kon uitdraf. Maar niks is beter as om in drie Wêreldbeker-toernooie in ’n span te speel van boere en tandartse wat vir hul grootwordland wíl speel nie. As jy voor ’n wedstryd boodskappe kry, is dit ’n oom, tannie of neef van iemand wat jy ken – Namibië is nie ’n span met ondersteuners nie; dis ’n uitgebreide familie.

En die dag dat Namibië sy eerste Wêreldbeker-wedstryd wen, gaan die hardekoolvure reg oor die land aan die brand gesteek word. Dalk maak dit ook die wolke oor ons land weer los.