Dit is nie nodig om berge te versit om ’n verskil in die gemeenskap te maak nie, maar begin net iewers, sê mnr. Carl van Zyl waar ons in die foyer van die nuwe skoolsaal van die Carlisle Bridge-plaasskool, tussen Makhanda (voorheen Grahamstad) en Bedford in die Oos-Kaap, sit.

Op die agtergrond is ouers en leerders van die skool met ’n gejil en gejuig besig om twee netbalspanne op hul nuwe netbalbaan aan te moedig.

Die skool het in Desember 2020 die inhuldiging van sy nuwe sportgeriewe en skoolsaal gevier tydens ’n sportdag wat deur John X Safaris gereël is.

Van Zyl is ’n direkteur van die plaas Woodlands naby Makhanda en eienaar van die jagonderneming John X Safaris. Van Zyl en John X Safaris het sowat vier jaar gelede vanaf die Lalibela-wildreservaat elders in die distrik na Woodlands verskuif.

Van Zyl en sy span by die John X-stigting het Carlisle Bridge sowat drie jaar gelede onder hul vlerk geneem nadat hulle tydens ’n besoek aan die skool besef het ’n ernstige tekort aan geld verhinder die skool om normaal te funksioneer.

“Toe ons drie jaar gelede teen einde April, begin Mei by die skool aankom, het hulle nog geen boeke of skryfbehoeftes vir daardie jaar gekry nie,” sê Van Zyl. “Ons het besluit om dadelik in te spring en voorraad te gaan koop, wat ons kon doen danksy skenkings van ons jagters.”

Carlisle Bridge is ’n primêre skool vir leerders van graad R tot 7, afkomstig uit die plaaslike gemeenskap van Carlisle Bridge, wat ook van John X Safaris se werknemers insluit.

Mnr. Carl van Zyl (regs) van John X Safaris by me. Noxolo Silo, waarnemende skoolhoof, en mnr. Clayton Fletcher (links), ook van John X Safaris, wat verantwoordelik is vir die organisering van die skoleprojek.

PURE BLYDSKAP

Volgens me. Noxolo Silo, Carlisle Bridge se waarnemende hoof wat self as kind hier skoolgegaan het, het die gehalte van die skool baie verbeter sedert John X Safaris betrokke geraak het. “Ons is baie gelukkig, maar ook verbaas dat hulle ons gekies het. Hulle het al so baie vir ons gedoen.”

Leerders het nou toegang tot ’n sportveld en toerusting waarmee hulle sport kan beoefen. Selfs iets soos die skenking van boeke maak ’n groot verskil. “Die kinders het nou toegang tot boeke sodat hulle kan leer lees en kan aanhou lees en hul kennis uitbrei.”

Ouers is ook bereid om meer vir die skool te doen, “want hulle sien hier gebeur iets”, sê Silo.

Die skool, wat in normale omstandighede onderrig aan 95 leerders gee, moes voorheen met slegs twee onderwysers klaarkom. Vanjaar het ses nuwe onderwysers by die skool aangesluit, wat beteken elke graad het nou sy eie onderwyser.

Silo sê daar was sprake dat Carlisle Bridge sy deure sou moes sluit en dat leerders al die pad na Riebeek-Oos, sowat 42 km van Makhanda, sou moes gaan. Danksy Van Zyl se ingryping kan leerders nou steeds uit hul ouerhuis skoolgaan.

Deel van John X Safaris se grondslag is om terug te gee aan die natuur en die gemeenskap, met die John X-stigting wat reeds in 2009 tot stand gekom het om op ’n humanitêre en bewaringsvlak ’n verskil in die gemeenskap te maak. Buiten sy betrokkenheid by Carlisle Bridge het die stigting al jagkursusse vir kinders uit benadeelde gemeenskappe aangebied, en was betrokke by ’n tehuis vir hawelose kinders op Makhanda en die Nomzamo-kleuterskool.

Vanuit ’n bewaringsoogpunt is die stigting betrokke by die inisiatief om die tierboskat en vaalboskat na die Oos-Kaap terug te bring, en by projekte met die Kaapse bergkwagga en luiperds in die Oos-Kaap.

Die leerders geniet hul middagete in die nuwe skoolsaal.

OPERASIE REGRUK

Namate die span van John X Safaris meer betrokke geraak het by die skool, het hulle besef daar is verskeie tekortkominge wat ’n goeie skoolopleiding vir die leerders beperk.

’n Boorgat is gesink nadat hulle besef het leerders moet byna 2 km na die Visrivier loop om water te gaan haal om te drink, om hul hande te was en die toilet te spoel.

’n Sonpaneelstelsel is opgerig om elektrisiteit te verskaf vir ligte en die skool se elektriese toebehore. Dit sluit nuwe rekenaars en tablette in wat danksy skenkings van jagters aan John X Safaris gekoop is om leerders aan tegnologie bloot te stel. Met die hulp van onderwysers van Makhanda is Carlisle Bridge se onderwysers opgelei om die nodige opvoedkundige toepassings op die tablette te gebruik. Die leerders kry nou twee keer per week lesse om hul tegnologie- vaardighede te verbeter.

Die skool het WiFi-toegang danksy ’n inisiatief by Woodlands waar jagters die jaggeld en vleis van ’n rooibok aan die skool kan skenk. “Daarmee saam vind ons die leerders stel belang om meer oor jag te leer. Ons neem hulle veld toe om hulle die diere te wys. Van die leerders het nog nooit ’n buffel of kameelperd in lewende lywe gesien nie,” sê Van Zyl.

Só word hulle opgevoed oor die volhoubaarheid van jag en wat ’n jagonderneming vir ’n gemeenskap kan beteken. “Indien oorsese jagters nie meer in Suid-Afrika toegelaat word nie, sal projekte soos hierdie nie moontlik wees nie.”

Volgens Van Zyl word daar gehoop dat die sportgeriewe dalk eendag ’n Protea-netbal- of Bafana-sokkerspeler sal oplewer.

PANDEMIE SLAAN TOE

Aan die begin van 2020 is groot planne beraam om ’n skoolsaal en sportgeriewe vir die skool op te rig.

Met die geld van internasionale jagters wat “om die vleisbraaivure” ingesamel word, het die Covid-19-pandemie en die gevolglike internasionale reisverbod dit moeilik gemaak om genoeg geld vir die projekte in te samel.

Van Zyl het egter besluit om ’n pleidooi aan sy jagters te rig en het ’n artikel op John X Safaris se webwerf geplaas wat hy via sy verspreidingslys uitstuur. “Voor ek myself kon kry, het ons ál die geld ingesamel om die skoolsaal en die blok met die sportveld te voltooi.

“Ons het hierdie werk vir ons gemeenskap gedoen, en ons wil ander landbou- gemeenskappe aanmoedig om ook die skole in hul omgewing te verbeter.”

AANSPORING VIR ANDER

Volgens Van Zyl is daar soveel bekwame boere wat die invloed en vermoë het om klein veranderinge in hul gemeenskap teweeg te bring. “Iets eenvoudigs soos om ’n waterpyp reg te maak of om ’n watertenk op te rig, kan genoeg wees om die bal aan die rol te sit.

“Ons wil dié gemeenskappe aanspoor, asook ons medejagondernemings, -jagters en -jagplaaseienaars. Ons praat nie net nie. Ons onderhou die skool en ons vra niemand om dit te doen nie, ons doen dit self.”

Die veranderinge waarmee Van Zyl drie jaar gelede begin het, het egter nie ongesiens verbygegaan nie. Die John X-stigting kon in drie jaar net meer as R1 miljoen aan die skool bestee danksy die welwillendheid van internasionale jagters wat die landgoed besoek het.

Sy raad aan boerdery- en jaggemeenskappe wat toegang tot geld uit Eerstewêreldlande het, is om hul plaaslike verskaffers en gemeenskappe te bevoordeel.

John X Safaris is danksy ’n tussenganger as ’n 501(c)-maatskappy sonder winsoogmerk in Amerika geregistreer, wat beteken jagters uit dié land kry belastingvoordele uit hul skenking. Boonop is daar ’n ini- siatief in Amerika waar werkgewers hul werknemers se skenkings ewenaar, wat beteken dat die maatskappy in baie gevalle dubbele donasies kry.

Die nieregeringsorganisasie Blood Ori- gins, wat betrokke is by bewaring en verskeie ander gemeenskapsprojekte in die jaggemeenskap, ondersteun ook die projek.

Van die sonpanele wat John X Safaris vir die skool se kragbehoeftes geïnstalleer het sodat leerders ook rekenaars kan benut.

VERMY POLITIEK

Van Zyl sê omdat daar soveel verpolitisering in die landbougemeenskap is, is dit nodig dat stories waar boere hul deel doen, deur die staat raakgesien moet word.

Een van die probleme toe die projek momentum begin kry het, was dat daar belanghebbendes in die omgewing was wat die projek wou verpolitiseer. “Ons het dadelik gesê ons stel nie belang in ’n politieke speletjie nie. Ons doen dit vir die gemeenskap en die kinders. Indien hierdie projek ’n politieke pion raak, gaan ons onttrek.”

Danksy dié standpunt het John X Safaris nou ook die ondersteuning van die politici in die omgewing.

TOEKOMSPLANNE

Om die trots te sien waarmee leerders skool toe kom, is vir Van Zyl een van die lonendste aspekte van hul betrokkenheid by die skool. “Die ouers het vertel hoe moeilik dit was om kinders uit die bed te kry om skool toe te gaan. Nou staan hulle vroeg op om by die skool te wees, want daar is vir hulle meer by die skool as by die huis.”

Die ouers het self ook onlangs ingespring om geld in te samel om van die geboue te verf toe die stigting nie meer geld gehad het nie. “Ons hoop die ouers sal besef die sukses van die projek lê ook in húl hande en dat hulle ook verantwoordelikheid moet neem vir hul optrede en omstandighede. Ons wil iets gee waarop die leerders kan trots wees, maar die ouers moet ook belang stel en betrokke wees.”

Die planne vir Carlisle Bridge is nog lank nie klaar nie. Die volgende projek is om bome en ’n gemeenskapsgroentetuin te plant. Die huidige boorgat is baie swak en kan nie ’n tuin onderhou nie. Van Zyl en sy span wil die Visrivier-waterraad nader om toestemming te kry om ’n pomp op te rig en water uit die rivier te pomp.

Groente uit die gemeenskapstuin sal onder meer gebruik word vir die skool se voedingsprogram, tesame met die wildsvleis wat vir die skool geskenk word.

Verder word beoog om die onderwyserkwartiere waar die skool se onderwysers deur die week bly, op te gradeer.

Van Zyl se hoop is dat Carlisle Bridge se skool as ’n rolmodel-gemeenskapskool in die Oos-Kaap sal dien, en dat dit ’n toonbeeld moet wees van wat jagters in die gemeenskap kan doen.

NAVRAE: Mnr. Carl van Zyl, 082 700 9866; web: www.johnxsafaris.com