bokblad,

Ons woon in Potchefstroom, en ek het vanjaar hand bygesit met die afrigting van die PUK-koshuis Heimat. My werk was eintlik maar net om met die spelers se kop te werk. ’n Student is ’n deurmekaar mens, maar daar is baie geesdrif en energie waarmee hulle wondere kan verrig.

Dit was ’n lieflike ervaring. Daar was talle afrigters wat dalk ’n klein, dog deurslaggewende invloed op my loopbaan gehad het: Ray Mordt, Gysie Pienaar, Gerrie Sonnekus en Carel du Plessis. Op toetsvlak het ek baie van Nick Mallett se reguit benadering gehou. Jy’t presies geweet waar jy met hom staan. Maar ek moet vir Alan Zondach uitsonder – uit ’n suiwer afrigtingsoogpunt het hy by Saracens ’n groot indruk op my gelaat.

Verskeie van my Vrystaat-spanmaats het mettertyd groot treë as afrigters gegee. Met Brendan Venter langs jou het jy nie baie gehad om oor te dink nie. Hy’t sommer namens jou sake opgesom en op die veld die koers bepaal. Hy, Naka Drotské en Rassie Erasmus het basies ons strategie uitgedink. Die afrigters moes amper net na ons fiksheid omsien. Dit is iets wat ek nog altyd van die Vrystaat-kultuur waardeer het – afrigters en sterk spelers wat die span saam gelei en groot sukses daarmee behaal het.

My vyf skepdoele teen Engeland in die Wêreldbeker-toernooi van 1999 was ook Brendan se plan. Hy het dit in Nick se oor gefluister, en daarmee het ons die Wêreldbeker-drome van die Engelse gekelder. Lekker!

Jannie de Beer

Noodwendig was daar ook teleurstellings. Die Curriebeker-eindstryd wat die Vrystaat in 1997 op Nuweland met 12-14 teen die WP verloor het, bly my by. Terselfdertyd was die halfeindstryd teen die Haaie (40-22) ’n Curriebeker-hoogtepunt. Dit is maar hoe rugby werk.

In die kwarteindronde van die 1999-Wêreldbekertoernooi het ons die groot sege teen Engeland aangeteken. In die halfeindronde het ek in die doodsnikke ’n kansie gekry om ’n strafdoel van die kantlyn af deur die mikke te jaag, wat bykomende speeltyd afgedwing het. Die skepdoel bly ’n interessante ding, maar ek sal dit nie meer my ganse wedstrydstrategie maak nie.

As jy deesdae ná drie of vier fases steeds suiwer besit kan verseker, moet jy probeer om ’n drie te druk. Tog gaan jy teen spanne speel wat jou hard “raakry”. Dan raak die skepdoel ’n nuttige aanvalswapen. Met Handré Pollard en Frans Steyn by die Bokke moet dit steeds ’n pyl in ons koker wees. Ek is optimisties oor ons Wêreldbeker-kans.

As speler was Rassie Erasmus iemand wat uit die boks gedink het, ’n gemaklike mens wat dinge met oorgawe doen, en iemand wat maklik die vertroue inboesem. As afrigter en administrateur in Suid-Afrika en in die buiteland het hy verdere begrip van moderne rugby opgedoen wat alles van die veld af bydra tot ons vermoë om tans volgehou mededingende rugby te speel. En dít – konsekwentheid – is wat vir jou wêreldbekers wen. 

bokblad
Bayer-Bokblad