“Waarheen ry ons?” vra Megan en vat nog ’n hap van die stuk verjaarsdagkoek in die bakkie op haar skoot.

“Komaan, sê my nou!”

Haar pa glimlag net.

“Amper daar, skat,” sê haar ma en knipoog.

Hulle draai van die snelweg af en Megan sien skielik ’n bordjie wat bekend lyk: Rand Airport Welcomes You. “Gaan ons op ’n verjaardagvlug, Dad?” roep sy opgewonde uit. Dit is die beste geskenk waarvoor sy kon vra.

“So iets,” antwoord haar pa.

Hulle ry deur die hekke en parkeer nie ver van die loods af nie.

Haar pa se boesemvriend, oom Werner, stap hulle tegemoet.

“Des en Belinda, welkom,” groet hy haar ouers. Dan draai hy na Megan. “En hier is ons spesiale gas. Baie geluk met jou vyftiende verjaarsdag.”

Megan groet vriendelik terug, maar sy sukkel om haar oë op oom Werner te hou. Buite die loods staan ’n pragtige wit en blou Cessna 172 en ’n tafel met ’n helderrooi tafeldoek. Op die tafel is ’n groot wit boks met ’n rooi strik om gebind.

Oom Werner sien seker hoe nuuskierig sy lyk, want hy lag en sê: “Ja, jy kan maar gaan kyk. Dis natuurlik vir jou!”

Megan drafstap nader en haal opgewonde die boks se deksel af. Sy loer binne-in en kyk dan verward na haar ouers.

“Dis leeg,” sê sy en probeer om nie té teleurgesteld te klink nie

“Kyk weer mooi,” sê haar ma.

Megan tel die boks van die tafel af en kantel dit effens. ’n Klein koevert val uit. Sy skeur dit haastig oop.

Binne-in is ’n kaartjie met ’n afdruk van ’n foto wat Megan dadelik herken: Amelia Earhart by haar Lockheed Model 10-E Electra. Dit is geneem kort voor sy in 1937 op haar vlug om die wêreld vertrek het. Amelia se vliegtuig het tydens die vlug verdwyn en niemand is seker wat van haar geword het nie.

Daar is baie samesweringsteorieë, maar die meeste mense glo dat die vliegtuig êrens geval het en dat Amelia só dood is.

Amelia was dapper en vreesloos en een van Megan se heldinne.

Megan vee saggies oor die foto en lees die binnekant van die kaartjie.

“Megan,

Jy vlieg al só lank saam met ons en het deur die jare jou toewyding en deursettingsvermoë bewys. Vandag kry jy ook ’n beurt om die stuurstang vas te hou. Gelukkige 15de verjaarsdag, Megs.

Liefde

Pappa en Mamma"

Megan kyk verbaas na haar ouers. Sy smeek hulle al só lank om haar ’n kans te gee om die vliegtuig te stuur, maar hulle het nog altyd gesê sy is te jonk. En nou, uiteindelik, onverwags, het die dag aangebreek. Sy glimlag breed. Dit is beslis die grootste en belangrikste dag in haar lewe tot dusver.