Jare lank was Jonkershoek se mooi, maar uitdagende roetes Stellenbosse bergfietsryers se speelplek, maar dit is vinnig besig om nie net veld te wen onder die res van Suid-Afrika nie, maar ook om in die res van die wêreld aandag te trek. En dis alles te danke aan samewerking tussen die bergfietsgemeenskap en MTO, die bosboumaatskappy wat ’n oog hou oor gebiede soos Jonkershoek.

Brande rig skade aan

In 2009 het ’n verwoestende brand die hoofsaaklik self-geskepte Jonkershoek-roetes vernietig – tot fietsryers soos Bobby Behan, Bennet Nel en ander se groot ontsteltenis. Saam met die motorsportkampioen Giniel de Villiers, ook ’n inwoner van Stellenbosch, het hulle maniere gevind om die roetes te herstel en te finansier.

MTO raak betrokke

Aanvanklik het dit goed gegaan, maar toe bereik die projek ’n plato en dit het ál moeiliker geraak om geld in die hande te kry. Dit was tot 2015, toe Lawrence Polkinghorne aangestel is as uitvoerende groepshoof van MTO. Lawrence glo in volhoubare ontwikkeling en transformasie en betrek graag die verskillende gemeenskappe wat MTO se eiendom benut.

Toe hy by Bobby hoor van hul probleme met finansiering, het hy die Jonkershoek-hekgeld aangebied om roetes te bou en te onderhou. MTO het nóg geld aangebied om te help met ontwikkeling, die vestiging van nuwe roetes en paadjies wat vir almal toeganklik is.

“Dis super-opwindend om te sien hoe Jonkershoek ’n internasionale fenomeen word. Dis ’n wonderlike manier om dié voorreg te deel deur ons gemeenskappe te bemagtig en te betrek. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om Suid-Afrika se natuurwonders te bewaar, maar ook om die wêreld dit te laat geniet,” sê Lawrence.

Ook vir beginners

In 2015 het nog ’n brand groot skade aangerig, maar dit kon nie die ontwikkeling in Jonkershoek blus nie. Dinge het net van krag tot krag gegaan. Daar is tans roetes van meer as 40 km, met nuwes wat elke dag beplan en gebou word.

En hoewel Jonkershoek al ’n groot aantrekkingskrag vir top-ryers op soek na tegniese uitdagings was, het dit nou ook die aandag getrek van bergfietsry-nuwelinge en gesinne.

Binnekort sal die My MTO-toepassing ook van stapel gestuur word, waarop die roetes van plekke, soos Knysna, Plettenbergbaai, Tsitsikamma en Witrivier, bekyk kan word.

“Ons het so ’n ongelooflike verskeidenheid landskappe. Elkeen is uniek, soos Jonkershoek, en ons missie is om dit aan ons gemeenskappe te gee om te geniet en te beskerm,” sê Bennet.

“Ek doen dit ter wille van die roetes, die mense én die leefstyl. Dit gaan oor ’n gemeenskap; passievolle mense wat by nuwe plekke in die berge wil uitkom om die natuur te beleef, te ontdek en adrenalien te voel bruis. Ek’s baie dankbaar oor waar ons nou is. Dit was ’n hele proses, met baie mense wat byeengekom het en dis wonderlik om te sien dit het in iets spesiaals ontwikkel. Dis immers Jonkershoek, die wêreld se bes bewaarde geheim!”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.