Oom Willie Amperdood het sy naam verdien ná die soveelste ‘haastige’ ongeluk met sy Datsun 1200-gou-dorp-toe-gaan bakkie. Die een klomp sê dis onverskilligheid, die ander sê dis net teenspoed.  

Jy moet weet, as jy na een van oom Willie se ongelukstories luister, gaan dit lank en snaaks wees. Ons gesels oor verlede week se botsing teen oom Daantjie Dop. Oom Daantjie Dop is ’n man wat van vroegaand tot sonop sy tyd verwyl met ’n dubbele brandewyn in sy hand. Sy ryding is ’n fris ou Ford 250-bakkie.

“Môre, oom Willie. Ek hoor Oom was in ’n ongeluk. Gaan dit al beter?”

“Jong, laat ek jou nou ’n storie vertel. Ek was amper dood! Laas Vrydag wou ek aan my trekker werk en toe ek my toolbox oopmaak, kom ek agter iemand het my 17-spanner gevat. As ek daai do.... in die hande kry, gaan hy k#@! Jy ken my, ’n volledige stel is al wat my gelukkig maak. Vreemde spanners hoort nie tussen myne nie en ek gebruik nié ’n shifting of ’n vice grip nie! Al waarvoor hulle goed is, is om jou nuts te strip. Ek voel toe daar was nog nooit ’n beter tyd vir ’n nuwe stel spanners as nou, soos in nou, nie. Ek wen daai Datsun toe sommer daar en dan ordentlik op en swaai sy neus dorp se kant toe vir die nuwe spanners.

“Verskoon tog, ugh ugh.”

“Is Oom oraait?”

“Ja, waar was ek nou weer voor jy in my rede geval het? O ja. Toe swaai ek die Datsun se neus dorp se kant toe. Jong, ek kom daar om Jakkalsdraai met spoed en kan jy glo, hier kom Daantjie se lorrie reg op my af aan my kant vannie pad! Ek kyk nog so, toe parkeer hy daai Ford op my bonnet met die grill so half in my gesig! Toe ek my oë uitvee, staan Daantjie met sy dronk lyf hier langs my. En kan jy glo, hy vra vir my: ‘Willie, is jy dood?’

“Ek skree toe virrie man hy moet sy kop swaai, ek kry nie asem nie, my deur is gejam. Toe sleep hy my deur die venster en laat my val soos ’n kalf wat pas gebore is. Kan jy nou glo dat hy toe aandring dat ek eers ietsie saam met hom moet drink vir die skok?!” Wie sleep wie? “Het oom Daantjie nie seergekry nie, Oom?”

“Nee wat, jong, al wat ’n bietjie seergekry het, was sy Ford, maar my Datsun is moer toe. Sal maar weer soek vir een, maar wag, ons is nou van die storie af. Ek bekyk toe die besigheid en besluit die regte ding is nou om net eers Daantjie se Ford van my Datsun se bonnet af te kry. Man, het ek nou gesukkel om daai Ford se voorwiele weer op die grond te kry.

“Ou Daantjie wil so waar as wragtag net weer inklim en verder ry. ‘Ou Willie, ek sjal voor ry dan hou jy net op my gat,’ sê hy vir my.

“Nee, Daantjie,” sê ek. “Ek stoot jóú deur die venster dan ry jý die Datsun. Ek sal jóú sleep!

“Gelukkig het ek altyd ’n tou onder my sitplek. Só help ek hom deur daai venster dat sy oor sommer so klap op die rathefboom.

“Ek kon ongelukkig net sy bene tot by sy kniekoppe inkry, maar teen daai tyd het dit nie meer saak gemaak nie, die man was uitgepass.

“Nou ja, van daar af was daar net een pad en dis huis toe. Man, ek sleep daai Datsun met daai Ford dat hy sommer so dwars ploeg innie pad.

“Elke keer as daar ’n kar van voor kom, kyk die mense my met sulke groot oë en sit hul karre se ligte aan om deur die stof te kom. Hulle moes seker gedink het ek het vir Daantjie vermoor met die bene wat so by die Datsun se venster uitsteek. Toe ploeg ek sommer my plaaspad ook om, tot ons voor die skuur stop.

“Met die uitklim lyk dit vir my ou Daantjie het een van sy skoene verloor. As hy nou nie so gesnork het nie, sou ’n mens sweer hy is dood.

“Later die dag het Sannie hom kom haal. Dit bly ’n wonderwerk dat sy hom nog nie uitgeskop het nie!

“Jong, maar nou moet jy my verskoon. Ek wil vir my ’n Landbouweekblad gaan koop. Dalk adverteer iemand ’n Datsun.”

As ek oom Willie was, sou ek soek vir ’n Datsun met ’n baie groot bullbar ingeval hy en oom Daantjie weer eendag by mekaar uitkom. 

Henk Buytendag is ’n afgetrede boer van Oos-Londen.