Ampie was nie ’n kerkman nie. Dit was duidelik dié oggend, omtrent 20 jaar gelede, toe ons by die effens obskure kerkie op Germiston aankom. Die bietjie familie wat daar was, moes vinnig plan beraam.

Ampie moes darem behoorlik oorkant toe gestuur word, en ’n pastoor is inderhaas nader gehark om die takie te verrig. Ons kry ons sit en die pastoor begin met: “Broers en susters, ek het die oom wat ons vanoggend begrawe nie geken nie, maar . . .”

Kom ons begin by die begin. Sowat 30 jaar gelede word ek die eienaar van ’n jagplaas in Limpopo. Ek is gretig om so gou moontlik te begin jag en vat (minstens in die begin) alles wat voorkom.

Een van die Joodse vennote van ’n ouditeursfirma bel op ’n dag en vra of ek die bestuurder by ’n bekende staatsinstelling in Johannesburg en ’n paar van sy assistentbestuurders op ’n jagtog sal neem.

Hy maak verskoning dat hy nie by sal wees nie, maar het genoeg vertroue in my om te weet ek sal die jagtog vir hulle aangenaam maak. Kos en drank is deel van die proses en ek moet kwoteer.

Nou ja, jagplaaseienaars sal erken dat hierdie soort korporatiewe jagtogte wat alles insluit, die meer betalende soort jagtogte is. Ek kwoteer vir kos, drank, tien rooibokke en vier koedoes, en hy aanvaar die kwotasie.

Met die herdink van Ampie se verhaal wonder ek sommer ook weer oor die kwessie van korporatiewe onthaal. Dit was daardie dae aan die orde van die dag en is vandag steeds, maar daar is tog ’n groot verskil in hoe dit destyds gedoen is en hoe dit vandag gedoen word.

Dalk moet ek maar net sê: “Die staat is destyds nie in die proses gekaap nie en die onthaal het by kos, drank en ’n paar bokke gebly.” Die bestuurder en drie assistente het op ’n Woensdagmiddag op die plaas aangekom.

Vooraf het ek met my predikant, wat toe pas afgetree het, gereël om saam te gaan. Hy sou kos maak en ook seker maak die manne voel tuis en het genoeg om te drink, terwyl ek myself met die jagtog sou bemoei.

Uitbundig bed toe

Elkeen kry sy kamer en ons nooi hulle lapa toe waar die braaigoedjies al begin geur gee. Drie van hulle help hulself aan whiskey, maar Ampie, wie se een been duidelik korter as die ander een is, sê hy gebruik glad nie sterk drank nie, maar as ons vir hom witwyn het, sou hy daarvan neem.

Ek gaan haal ’n bottel witwyn en skink vir Ampie ’n glasie. Ek sien die glasie vinnig leeg raak, maar ek bied nie meer aan nie, want ek vermoed dit is nie nodig nie. Maar hy vra later vir nog ’n glasie en ek skink. Dié glasie raak ook vinnig leeg en hy vra nie weer nie.

Hy vat sommer self die bottel en begin gooi. Vinnig is die bottel leeg en Ampie vra nóg ’n bottel. Ek begin benoud raak. Ons voorraad is goed, maar nie in witwyn nie.

Dieselfde aand nog drink hy al die witwyn op die plaas en die volgende oggend moet ons vir Johannes, ons voorman, Tolwe Hotel toe stuur om al hul witwynvoorraad (waarvan daar in elk geval nie veel was nie) te koop. Droë witwyn was destyds nie ’n groot verkoper in die Bosveld nie.

Die boere en besoekende jagters het hulle daardie tyd meestal vermaak met ander vermengde vorme van Bacchus se produkte; produkte wat jy veral met Coke smaakliker kon maak. Die ander drie moet hom later in die bed gaan sit, want hy raak te uitbundig en hulle begin skaam kry.

Dit is teen dié tyd reeds bekend dat een van ons ’n dominee is. Die einste man wat geen sterk drank gebruik nie, begin die middag met ’n mooi baritonstem.

Soos die middag vorder, raak die stem al hoe skriller. Hy praat later tenoor en uiteindelik toe hulle hom bed toe dwing, is hy ’n falsetto. Maar hy wil nie bed toe gaan nie. Die ander drie vat hom en dwing sy slaapklere vir hom aan.

Dit sou later uitkom dat hierdie sy ou storie is en hulle het geweet as hulle hom eers in slaapklere het, sou hy nie weer uitkom nie. Of dit die korter been was, weet ek nie, maar Ampie het nie in slaapklere in die openbaar verskyn nie en hy het nooit sterk drank gebruik nie. Beginselvaste man.

Net een geweer

Die volgende probleem wat opduik, is dat daar net een geweer is. Die bestuurder het al gejag, maar toe ons inskiet, weet ek hy jag nie gereeld nie.

Teen Vrydagmiddag hang daar een koedoekoei en ek raak nogmaals benoud. Laatmiddag kom die oproep van die ouditeur wat heeltyd op die hoogte van sake gehou is. Sal ek nie maar vir hulle twee van die biltongkoeie wat ek besig was om vet te maak, slag nie?

Ek kon sien die groep kyk verlangend na hierdie vet koeie elke keer as ons deur die plaas ry om die enigste jagter op te laai. Ek slaak ’n sug van verligting.

Die oplossing is daar. Ampie is teen daai tyd reeds weer baie spraaksaam. Hy verkondig uitbundig dat niks by lekker vet beesbiltong kom nie. Hierdie jag was besig om vir Ampie reg te loop.

Liefde vir perde

Ek het oor dié paar laaang dae ook geleer dat Ampie, afgesien van sy probleem met sterk drank, ’n groot liefde vir perde het. Nie net het hy weekliks geld op hulle verwed nie, maar hy het inderdaad ook ’n aandeel in ’n resiesperd besit.

Ek hoor ook dat ’n perd hom kleintyd geskop het en dat die operasie wat daarop gevolg het hom nie net mank gelaat het nie, maar ook die een been veel korter as die ander een. Perde het inderdaad sy hele lewe gedefinieer.

’n Paar jaar gaan verby. Op ’n dag moet ek die einste ouditeur gaan sien. Die SA Inkomstediens doen belasting- navrae by my. Hy luister na my storie en verklaar vol selfvertroue dat hulle ’n afgetrede persoon aangestel het vir dié soort probleem.

Hy neem my na ’n ander kantoor en ek en die ou agter die lessenaar is stom verbaas. Daar sit Ampie in lewende lywe. Daar is ’n paar lêers op sy tafel, maar hy sit met ’n Engelse koerant.

Ek vra hom wat hy maak. “Nee, jong. Ek is besig om kombinasies uit te werk vir Woensdag se perdewedren en die goed moet netnou in,” antwoord hy.

En só word Ampie etlike jare lank my belastingkonsultant totdat die ouditeur my op ’n dag bel en sê Ampie is skielik dood aan ’n hartaanval. Hy vra of ek hom die komende Donderdag sal vergesel na Ampie se begrafnis.

Altyd besig met die volgende wedren

Ons kom by die kerkie op Germiston aan. Daar is ’n paar familielede, maar verder sit die kerkie vol perdemanne en -vroue. Ná die begrafnis drink ons tee. Ek begin met die perdemense gesels. Dit is perde-eienaars, jokkies en ongeveer almal wat belangrik is in die perderesiesbedryf.

Ek kom agter dat hulle net so lief was vir Ampie soos wat ek met verloop van tyd vir hom geword het. Altyd entoesiasties oor alles, maar veral oor die perd waarop sy geld vir die komende wedren verwed was.

As hy wen, hoor jy daarvan. As hy verloor, praat hy nie. Reeds besig met die volgende wedren. Ai, Ampie. Ek hoop daar waar jy nou is, is geen sterk drank nie en jou perd wen elke Saterdag. Weet net nie hoe jy al die geld wat jy wen, gaan bestee nie.

Maar ek sê graag: “Mooi loop, my maat. Jy sal altyd deel wees van my vol geheuebank.” Ampie is ’n skuilnaam, maar origens is elke woord in hierdie verhaal waar.

Gerbie Strydom is ’n afgetrede korporatiewe bankier en regsgeleerde. Hy boer reeds dertig jaar naby Baltimore in Limpopo met wild.