Sondae was Daan-hulle in die kerk. As daar ’n kerkbasaar was, het Daan die voortou geneem deur beskuit te bak (ja, hy was ’n beskuitbakker van formaat), potjiekos te maak, beeste te slag en die vleis te verwerk.

Daan het voluit geleef. Dit het veral behels dat hy lekker kon eet, wat duidelik sigbaar was aan sy gestalte. Sy gewig het veroorsaak dat hy altyd warm gekry het, selfs wanneer die ryp teen 10:00 nog dik langs die huis gelê het.

Toe selfone algemeen in gebruik raak, het dit eindelose frustrasie veroorsaak: As sy foon lui, het Daan gesukkel om dit uit sy broeksak te kry. Hy het dit toe in sy agtersak probeer dra waar minder vlesighede sou keer dat die foon beantwoord kon word.

Toe die groot man ongelukkig die eerste keer vergeet om die selfoon uit sy sak te haal voor hy gaan sit, het dit hom twee weke gekos om ’n nuwe foon in die stad te gaan koop. Gaandeweg het Daan gewoond geraak om die foon aan ’n toutjie om sy nek te dra. Met die foon in sy hempsak en die toutjie om sy nek kon dié boer ál sy bewegings uitvoer sonder skade aan die foon.

SLAGTYD

Kort voor een kerkbasaar het iemand gebel om te hoor of Daan al die bees geslag het, want die basaar was oor vyf dae. Vervaard het Daan en twee van sy seuns in sy bakkie gespring en die beloofde koei gaan soek. Hy het heeltemal vergeet om die koei in ’n kampie naby die huis te laat injaag, wat die slagtery makliker sou maak. Nou moes hy die veld in, die koei gaan soek en met die hulp van sy seuns die dier oplaai, skuur toe vat en vinnig slag.

Toe die koei uiteindelik opgespoor is waar sy in ’n klofie wei, het Daan en sy seuns agtergekom dat Koei te lank in die veld geloop het – van aankeer was daar geen sprake nie, nóg minder van agter op die Isuzu kry. Die seuns het gespook en gespartel om die koei nader aan hul pa se bakkie te kry, maar sy het telkens weer die veld in gestorm.

Daan was ’n haastige man en sy geduld is dié oggend erg deur die wilde koei beproef. Toe die seuns met die koei voor hulle so 50 m van die bakkie af was, het Daan bulderend beveel dat een van hulle sy geweer uit die bakkie moet loop haal sodat hy ’n ysteroog op die koei kan hou en hopelik op dié manier die dier sover kon kry om stil te staan.

Toe sy Musgrave .243 in sy hand is, draai die koei om met die duidelike bedoeling om terug te vlug klofie toe. “Keer!” het hy vir die seuns gebulder. Met die een hand het hy die .243 nader aan sy skouer gebring en met sy ander hand die lastige selfoon, wat nou wild aan sy toutjie geswaai het, gegryp en swierig op die bakkie se enjinkap neergeplak.

NOODOPROEP

Daan was lief vir dié selfoonding – hy het vroeg-vroeg ál die dienste van die diensverskaffer benut, van die bêre van sy boodskappe tot die spesiale nooddiens wat dadelik gekontak kan word deur 147 te skakel. Dit is die drie nommers aan die linkerkant van die foon, sodat selfs ’n blinde persoon dit maklik kan skakel.

In sy haas en ongeduld het Daan se groot duim die 1, 4 en 7 knoppies ingedruk toe hy die selfoon van sy nek afgehaal het. Die skakelknoppie is blykbaar ingedruk toe die foon op die enjinkap beland het. Met Daan se gebulder en die seuns wat saamskree, was die noodoperateur se “Good day, how can we assist you?” ’n onhoorbare gefluister op die Vrystaatveld.

Daan-hulle se stemme het egter duidelik tot in Johannesburg gedra. Al wat die operateur kon hoor, was ’n ongeduldige man wat bulder: “Staan eenkant toe, seuns, ek skiet die donner vandag net hier!”

Toe die skoot klap en die koei se voorbene knak, was die verligting groot. Pa en seuns het heerlik gelag en planne beraam om die dooie koei op die bakkie te kry. In Johannesburg was daar egter pandemonium. Eers is Johannesburg se nooddienste ontbied, maar naby die Vaal-tolplaza het hulle besef hulle kan nie deurjaag Suid-Vrystaat toe nie. Bloemfontein is in kennis gestel, maar die beampte aan diens was in ’n debat gewikkel met iemand wat op ’n geel streep geparkeer het.

Toe die boodskap laatmiddag die polisiekantoor op Smithfield bereik, is daar besluit om vroeg die volgende oggend die kantoor op Reddersburg in kennis te stel van die “moord” wat gepleeg is.

Reddersburg se bevelvoerder het die besonderhede bekyk en besef daar moes gister iets op sy vriend Daan se plaas gebeur het. Ná ’n kort telefoongesprek met een van Daan se seuns het hy die volgende boodskap na Johannesburg se blitspatrollie en die selfoondiensverskaffer gestuur: “Moordklag is ondersoek. Koei noodlottig gewond.” 

Barry R. Torlage is ’n gebore KwaZulu-Nataller wat al reg oor die land gewerk en gewoon het. Deesdae bring hy sy dae deur met pen, papier en stories.