Ek was skaars in die skool toe die middel 1960’s se droogte begin.

Pa het ’n Thames-lorrie gehad. Daai een met die astrante neusie. Drie keer per week is hy vol lusern en mielies gelaai wat uitgery is na die diere. Die skaap het ons behoorlik ingewag. Selfs die vragmotor bestorm. Bale lusern is neergesit en die mielies is in ’n lang, geel streep sommer op die grond uitgegooi. Die hoogtepunt van my dag. Nie Pa s’n nie.

Met die staat wat die voer en vervoer subsidieer, het die spoorwegvragmotor menigmaal by ons op die plaas kom voer aflaai. Die groot, rooi vragmotor het ’n diep indruk op my gemaak. ’n Amerikaanse Diamond T. Wie onthou nog die spoorwegvragmotors?

Joster en sy Lexingtons

Een van my klasmaats se broer het so ’n vragmotor bestuur. Ou Joster is vroeg uit die skool om op die spoorweë te gaan werk.

Middae ná werk het Joster vir sy broer by die koshuis kom kuier met sy Cortina GT. Ons laaities het oor die muurtjie die Cortina bewonder. Gewonder of die kar opgewarm was.

Met elke kuier was daar ’n nuwe toevoeging tot die motor. Lemoen op die lugdraad en gras op die dash was mode daardie jare.

Joster het Lexington gerook. Pakkie 30. Die eerste ding wat hy gedoen het wanneer hy by die koshuis stilhou, was om sy sigaret aan te steek.

Met die rokende sigaret tussen sy vingers het hy liggies op die Cortina se dak getrommel. Die Briels het hard geblêr. “Trein na Pretoria”. Dit het my hartseer gemaak. Hy moes dit oor en oor vir ons speel. Sý eie gunsteling was Gé Korsten se “Sy staan op die hawe”. Ons kinders het ons eie weergawe daarvan gehad.

Joster se meisie was altyd by. Haar muiswit hare altyd in haar oë. Die ouer kinders het haar ’n naam genoem wat ek nie geken het nie. Toe ek Pa daarna vra, het hy my nie geantwoord nie. Anderpad gekyk. Seker na binne gelag?

Ek het die spoorwegvragmotor altyd by die plaashek ingewag. Gekyk hoe die rooi gevaarte met ’n dik stofstreep in die pad afstorm. Joster wat stoei om spoed te verminder. Sy afrat en die onaardse gegrom van die exhaust brake bly my by. Dan sy stilhou voor die hek met blasende lugremme.

My oopmaak van die hek en die ou wat die werf spoggerig binnery. ’n Wye draai voor die skuur maak. Arm by die ruit uit. Sigaret in die hand. Die bandgroewe wat duidelike draaimerke op die grond laat. Sy terugstoot tot voor die skuur se deur. Uitspring met sy wit stofjas aan terwyl die Diamond T steeds parmantig luier. Vinnig by Pa verneem of die vragmotor reg staan. Die Diamond afskakel en ’n nuwe sigaret aansteek.

Pa wou hom vrek lag vir die Lexingtons. Hy het Pa altyd enetjie aangebied, wat hy hoflik van die hand gewys het.

Nuwe geslag boere

’n Nuwe geslag boere het plaas toe gekom in die begin 1990’s. Droogtes is nie iets wat ons die afgelope twee dekades geken het nie, maar sedert 2015 het dit stadig maar seker sy kloue begin inslaan. El Niño het ’n gonswoord geword. Elkeen weet deesdae wat die stand van die temperatuur in die Stille Oseaan is. Weerprogramme is die internet vol. Soveel boere, soveel voorspellings.

Kom jy op die dorp, is alle gesprekke droogteverwant. Dit wissel van “ons byt nog vas” en “as dit reën, sal dit beter gaan” tot “ek gaan nog net tot die einde van die maand kan uithou”. Kom volgende maand, sal hy darem weer ’n maand kan uithou en só hou dit aan. Aan en aan. Die hoop beskaam nooit.

Boere hou veral die natuur dop vir tekens van reën. Elkeen met sy eie geloof. Bloukopkoggelmanders wat op hoekpale sit. Hulle moet noord kyk. Korhane wat op grondwalle sit. Hoekom spesifiek op walle, kon ek nog nie agterkom nie. Skilpaaie moet bergop loop om weg te kom van die water wat op pad is. Miere met vlerke en die vinnige slange. Reënkaktusse wat knoppe maak . . .

Die sekerste teken dat dit nié gaan reën nie, is ’n westewind wat vroegoggend begin waai. Landboukrediet- en bankrotvlieswolke wat verskyn, om maar net weer saam met erge stofstorms te verdwyn.

Ek kry anderdag ’n ou wat reken as sy linkerknie pyn, kry hy hoop vir reën. Pyn in sy regterknie voorspel niks nie. Dié pyn in elk geval altyd. Vanoggend pyn albei knieë, en hy wonder dus of dit nie dalk ’n goeie teken is nie? Reën is nou nie meer vir hom ’n kwessie van wanneer nie, maar van moet.

Só wag ons geduldig dat die siklus draai. Dalk te laat vir party boere? Kom die reën, begin ons maar weer voor. 

Piet Roux boer met skape op die plaas Biega by Prieska.