Jossy hou haar ma se hand styf vas. Met ’n nat handdoek vee sy die sweetdruppels van haar gesig en arms af. Haar donkerbruin hare hang in toutjies oor haar skouers. Haar ma hoes sonder ophou en is so benoud. Die koors wil nie breek nie. Wat kan sy nou nog doen? Net bid.

Pa Josua prewel: “Ag, liewe Heer, wees tog genadig. Ek is so lief vir haar. Ek wil haar nie verloor nie. U het vir ons sewe pragtige kinders geskenk. Vyf is al getroud en die jongste twee is nog by ons. Klein Josua, die appel van my oog, boer hier op Langverwacht. Lewies het sy eie plaas langs die Breërivier en Frikkie boer op die plaas hier langsaan langs die Boesmansrivier.

"Klein Josua weet niks van die stryd wat hier in ons slaapkamer woed nie. Hy is besig om die volstruise se vere te pluk vir die smous wat binnekort verwag word – as die ou nie ook die griep gekry het nie. Help, liewe Vader, en seën ons huisgesin. Laat U wil geskied. Amen.”

Ná ’n laaste geroggel word ma Gertruida stil. Haar man druk ’n soen op haar voorhoof en daarna maak hy haar oë toe. Jossy trek die laken oor haar ma se gesig. ’n Doodse stilte volg. Nou sal daar reëlings vir die begrafnis op die koppie op die plaas getref moet word. Begrafnisbriefies sal te perd uitgedeel word. Dit sal klein Josua se taak wees.

Hier is so baie siekes rondom hulle en dié wat gesond is, sal bang wees om tussen ander mense te kom. Dit sal seker maar net die gesin wees wat die begrafnis bywoon. Ds. Mulder se vrou, Bettie, is ook baie siek. Miskien sal hy darem haar bed verlaat om die laaste eer aan sy ouderling se vrou te bewys.

Jossy dink daaraan dat sy nou ’n oog oor die huishouding sal moet hou. Sy sal haar pa se klere versorg. Hy is ’n baie netjiese man en altyd met das en onderbaadjie geklee. In die somer word net die baadjie bedags uitgetrek. Aan tafel sal hy nooit plaasneem sonder ’n baadjie nie – selfs al is dit hóé warm. Hy is ’n gesiene volstruis- en Merinoboer.

Jossy gaan nou vir st. 9 en 10 na die Seminarie op Wellington. Haar moeder het reeds in die lente vir haar ses nuwe rokke van Tobralco gemaak. Haar kerkrok is van wit, growwe linne met ’n matrooskraag, wit langkouse en swart skoene met ’n klein hakkie daarby. Sy sien só uit na die nuwe skool. Sy was nog nooit op Wellington nie, maar sy verneem dis baie warm daar in die somer.

Van st. 7 af neem Jossy reeds sang- en klavierlesse by juffrou Wandelt. Sy tree dikwels in skoolkonserte op. Toe Annis getroud is met Joey Looch van die Langkloof en Gerty met Jaco de Wet van Robertson, het sy vir albei gesing: “I’ll walk beside you.”

Met Barbara se huweliksverbintenis met Lukas Wentzel het sy die troumars op die orrel gespeel. Haar pa het belowe as sy ná haar skoolloopbaan vir hom geselskap kom hou en ’n oog oor die huishouding hou, sal hy vir haar ’n klavier koop en kan sy verder les neem. Sy kan haar ryperd Flink gebruik om Bonnievale toe te ry.

Op die plaas Remhoogte in die Koue Bokkeveld boer Calla en sy broer, Charl, saam met hul pa, Jan Gabriël. Die perde en Merino’s is Calla se geliefkoosde vertakking van die boerdery en Charl bepaal hom by die koring- en hawergesaaides. Hulle ry graag op ’n Saterdagaand na De Keur se twee nooientjies met Alfred en Banie.

Pa Jan is nog in die fleur van sy lewe en neem alle besluite. Hy is nie ’n stoepsitter nie, bring sy kant wanneer dit saai- en oestyd is. Dikwels is hy maande lank weg van die plaas, want hy is mos parlementslid vir Ceres en Touwsrivier. Die boerdery gaan normaalweg voort onder toesig van die twee broers. Die werksmense word met agting behandel en is al jare daar.

Ou Pellie se groentetuin lewer sy opbrengs en bakke vol groenbone, pampoene, skorsies en tamaties word met die kruiwa na die kombuis gestoot. As dit groenmielietyd is, word daarvan na die buurplase aangery. Die oorvloed groente voorsien ook in die werksmense se behoeftes en van ’n siek kindjie of volwassene hoor jy maar min.

Ou Moos Baron melk die koeie en vir elke werknemershuisie word ’n emmertjie volgemaak. Die katte en honde kry ook hul deel. Ouma Hansie het ’n oog oor alles gehou en dikwels is die kombuistafel afgevee met ’n Dettollappie.

Ouma Lya se koolstoof kreun elke dag onder die heerlikste bredies, ouma Hansie maak die slaaie, en kerriebone en tamatiebredie in Consolbottels word vir die winter in die spens gebêre. Boontjies word gedroog en in streepsakke op die solder gebêre. Dié moet in die koue maande in almal se behoeftes voorsien.

In die winter trek Charl met die Merino’s na Bantamsfontein in die Tankwa-Karoo. Daar was nog geen kommunikasie tussen die Karoo en die Bokkeveld nie en drie maande lank hoor hulle niks van mekaar nie. Moos Davids gaan saam om die skape op te pas.

Moos se vrou, Christina, is die kok en algemene versorger. Hul vyf kinders is bly hulle hoef nie skool toe te gaan nie. Daar is reeds ’n skool op Boplaas. Eerwaarde Holzapfel het mos vir talle boerderye hierby betrek en selfs die volwassenes loop nou aandklasse by die Meester.

Charl het nie geweet die plaas het sulke goeie reën gekry nie. Die klokkieblom versier die heuwels. Die skape kry nou hul antibiotika in teen die siektes wat maar dikwels kop uitsteek as die Karoo die jaar te droog is om daarheen te trek. Nou sien hy uit na Augustus wanneer die skeerders van Lesotho kom met hul bont komberse of tiervelkarosse en hul vlymskerp skeermesse.

Hulle laat nooit ’n skaap bloei nie en ding mee om te sien wie die vinnigste kan skeer. Dan bêre hy sy lootjie in sy hoed en na die tyd kry hy sy vergoeding. Pruimtwak, koffie en kondensmelk rond die aand af. Daar is nog geen telefoonlyne in die Karoo nie. Charl is op Bantamsfontein toe die griep uitbreek. Die veld is pragtig ná vroeë reëns en die skape is rondvet.

Die griep kom soos ’n dief in die nag. Die mense bind ’n sakkie met knoffelhuisies om hul nek, maar dit hou nie die griep weg nie. Ouma en Bettie, wat reeds haar opleiding as verpleegster en kraamvrou voltooi het, sorg vir die siekes. Hulle kook konkoksies van kruie, veldplante en gemaalde knoffel wat ure lank op die stoof staan en prut.

Ouma Hansie, Maggie en Bettie word nie siek nie, maar Johanna, oupa Jan en Calla draai by die dood om. Byna elke aand stap ouma Lya saam met Bettie om siekes op De Keur te gaan dokter of ’n lykie uit te lê.

Toe Charl net voor September met die groot trop Merino’s van die Karoo af terugkeer, verbaas dit hom dat die pad in so ’n swak toestand is. Ook die damwal is nie gelig nie. Hy het dan opdrag gegee dat hierdie take voltooi moet word. In die winter is daar mos min werk – geen waterlei of skoffel in groentetuine nie.

Sy ma omhels hom en druk hom so vas dat hy amper nie asem kry nie. Nou vertel sy hom van die epidemie wat die plaas getref het. Hulle het geen inligting wat die res van die land betref nie, maar weet van gevalle op De Keur en Kleinfontein. Almal het herstel, maar is nog swak ná die vreeslike koors. Eersdaags sal die werk hervat moet word.

Charl is baie moeg. Die sinkbad word vol water van die houtstoof af gedra. Ná sy bad en harewas voel hy verfris. Nou is bonesop en soetsuurdeegbrood net die regte medisyne.

’n Paar dae later is Charl lus om sy buurman op te soek. Hy saal Banie op en ry na Willie Kleinfontein. Die huishulp bring koffie en melktert. Toe sy met die swaargelaaide skinkbord voor Charl staan, oorweldig ’n hoesbui haar. Sy vra verskoning, sit die skinkbord op die tafel en draai vinnig om na die kombuis.

’n Week later ontwikkel Charl só ’n hoë koors dat hy maar in die buitekamer bly lê. Calla kry nou ’n kamer langs die spens. Charl se koors bly hoog en sy ma is later radeloos. Een van die wilde solderkatte word geslag en die warm vel op sy bors gesit, maar niks help nie. Ná ’n kwaai hoesbui blaas hy die laaste asem uit.

Ouma Hansie snik onbedaarlik – haar liefling, haar eersgeborene. Sy berus, want sy weet hy het op vyftien al sy hart aan die Here gegee. “Rus sag, liewe Charl, totdat ons weer ontmoet.”

Ds. Van Loggerenberg se vrou was baie siek, maar sy sit darem nou al regop en hy kom vir sy geliefde diaken die laaste eer bewys. Die werksmense van De Keur, Remhoogte en Kleinfontein en selfs so ver as Boplaas kom om by die graf te sing: “Oorkant die water, blinkend en bly, wag daar bemindes vir jou en vir my.”

Die plaasbedrywighede gaan dieselfde dag nog voort. Daar word gemelk, afgeroom met die seperyter, eiers uitgehaal, gebak en gekook. Elkeen staan sy plek vol. Sonder Charl gaan die lewe voort. 

Gerda Oosthuizen (87) se ouers was boere in die Koue Bokkeveld en Bonnievale. Haar ma en pa het as jong mense in 1918 geliefdes weens die Groot Griep verloor. Die Covid-19-pandemie het haar aan die ware verhale laat dink.