Die buurmanne was suksesvolle boere en met hul aftrede (ver oor die tagtig) het oom Chrisjan dorp toe getrek, maar oom Fasie het vir hom ’n kleiner huisie gebou en op die plaas gebly.

Albei was versot op hengel en oom Fasie het gereeld vir oom Chrisjan kom haal om ’n paar gooie te gaan maak. Nie dat ek bewus was van enige vis wat gevang is nie, hulle het maar altyd vis gekoop by Kleinmond se hawe. Oom Chrisjan se kommentaar was altyd: “Man, nee, ons was ’n bietjie laat. Die vis het glo laasweek sterk geloop.”

Toe ek een Maandagmiddag by die huis kom, sien ek oom Chrisjan is ernstig besig om sy hengelgerei skoon te maak. Daar lê ook ’n nuwe visstok, katrol, vislyn en hoeke in ’n winkelsak.

Oom Fasie het glo gehoor die vis “loop” by Hentiesbaai en die manne vang bakkievragte vis. Die twee het besluit hulle moet maar ’n draai daar gaan maak.

Ek vra oom Chrisjan waarmee gaan hulle ry, want dit is ver en hulle kan nie met enige ryding die pad aanpak nie. “Man, nee, Fasie reken sy blou bakkie is nog op sy kop, sy bande is heel goed en hy gaan die bakkie net vir ’n goeie versiening inbring dorp toe.”

Dié blou bakkie is een van die ou 1700cc-Isuzu-dieselbakkies – baie stadig en piepswak. Hoewel die bakkie teen daardie tyd al ongeveer 250 000 km op gehad het, en die ritmeter al vir omtrent ’n jaar gestaan het, was dit “baie betroubaar en lig op brandstof”.

Die Saterdagoggend is die twee besig met die blou bakkie. Ek staan soontoe. “Môre, môre,” groet ek, “en hoe gaat dit hier?”

“Blink, blink, man. Die vroue het gesê dis reg, maar hulle wil saamgaan.”

En waar gaan hulle sit? vra ek. “Nee,” sê oom Chrisjan, “ons is nou besig om te meet, ons gaan ’n plank oor die bak sit en ’n matras bo-op gooi. Die kappie is taamlik hoog. Dan kan ons die noodsaaklike goedjies onder die plank pak en die ander goed in die sleepwaentjie. Ons wil Maandagoggend vroeg ry. Ons reken ons kan dit op dag een maak tot by Keetmanshoop.”

Oom Fasie gooi ook kommentaar in: “Jong, ons sal moet roer. Die manne het laas week glo weer visgevang dat hulle later opgehou het, want die visse was te groot en die manne het moeg geword.”

Onverrigter sake

So twee weke daarna, op ’n Woensdagmiddag, kom soek oom Chrisjan hul huis se sleutel by my. Ek is verbaas en dog eers dit is omdat die vis vreeslik gebyt het dat hulle so gou tuis is.

“Was tog te lekker, hoewel ons ’n bietjie teëspoed opgetel het. Ons het darem die eerste aand Springbok gehaal en ek sien toe Fasie is op van gears oorsit. Die volgende oggend is ons net ná agt van Springbok af weg. By Steinkopf, so 42 km anderkant Springbok, verlaat ou Fasie effens die pad. Jy weet, ek dink Fasie het aan die slaap geraak agter die wiel. Hy dop die waentjie daar in die grootpad om dat die wêreld vol blikkieskos lê, waentjie in sy moer. Volgens hom het ’n dwarswind die bakkie gevang.

“Die vroue bly toe by die waentjie en tel bietjie van ons goed op, en ek en Fasie ry terug na die garage wat daar langs die pad is. Wragtig, weet jy, daar staan toe ’n tweedehandse waentjie wat te koop is. ’n Bietjie geroes en die ou tyertjies al effens glad. Fasie sê ons vat hom. Die eienaar is so vriendelik, hy gaan haal ons waentjie en ons sit ons waentjie se tyres oor op die nuwe waentjie, en daar trek ons. Tweede aand slaap ons op Keetmanshoop, derde aand Windhoek en vierde aand drink ons ’n dop in Hentiesbaai.”

Die vroue was teen daardie tyd taamlik lyfseer en kwaai.

Teëspoed by Myl 110

“Die volgende oggend ry ons vol verwagting na Myl 110 om lyn nat te maak. Die oggend besluit die wind ook om ’n bietjie te stoot, nogal kouerig. Ons gooi en ons gooi en ons gooi, maar niks. Fasie sê later hy dink ons moet ’n bietjie hoër op ry teen die kus, en daar gaan ons.

“Jong, ons ry toe lekker, maar kry ook nie die regte gat nie. In ’n stadium sê ek vir Fasie dat dit laat begin word en ons moet maar omdraai.”

Met die draaislag val die bakkie vas tot op sy asse, 4x4 ofte nie. “Fasie sê ons gaan nie hier uitkom nie en een van ons sal moet terugloop vir hulp.”

Tannie Sarie van oom Chrisjan is 78 en die jongste van almal. Hulle besluit sy moet die loopwerk doen.

“Gelukkig, soos ons later sou uitvind, tel ’n spotter plane van die weermag vir tannie Sarie op waar sy teen die kus stap en stel die polisie op Swakopmund in kennis. Dié stel toe weer vir natuurbewaring in kennis en dié kom help ons toe uit die sand uit.”

Die man vra hulle wat hulle daar soek. “Vis, vis en nogmaals vis,” laat oom Fasie hoor.

“Oom, dit is die verkeerde tyd van die jaar. Die vis wat Oom nou vang, vreet ek lewendig op. Weet Oom wat, as ek nou ’n ordentlike belt aangehad het, het ek vir elkeen van julle ’n ordentlike drag slae gegee. Hier dwaal snags nog strandjutwolwe rond. Hulle sal julle opgevreet het as dit loop donker word het.”

Die geselskap het donkeraand by die huis gekom, waar hulle ’n ordentlike vuur gepak en ’n dop geskink het.

“Die vroue was moeg en moerig en het summier gaan stort en slaap. Ek en ou Fasie sit en gesels rondom die vuur. Ná die vierde of vyfde dop sê Fasie: ‘Jong, Chrisjan, my moer strip nou eers vir die verwaande jongman wat ons ’n pak wou gee met ’n belt. Wie dink hy is hy om so met ons te kom praat? Hy kon op sy moer gekry het.’ ”

Ek vra oom Fasie waar hy gehoor het van die vis wat so byt. Nee, hy het nou vergeet, hy dink hy het so ’n maand gelede, dalk langer terug, die storie by die koöperasie opgetel. Dit is vir die waarheid aan hom vertel. 

Klaas Doppies (72) is die skuilnaam van ’n afgetrede siviele ingenieur wat op Robertson woon. Hy hou van lees en tuinmaak, en om sy kleinkinders allerhande stoutighede te leer.